Santam Landbou: Klimaat en Landbou toestande 26 September 2017

Santam Landbou: Klimaat en Landbou toestande 26 September 2017 

  ENG AFR
   
Changes in El Niño forecasts

Johan van den Berg

Punte van belang:

bullet La Niña-ontwikkeling is nou besig om plaas te vind in teenstelling met vroeëre voorspellings van El Niño of Neutraal.
bullet Verbeterde kanse vir reën oor die Somerreënvalgebied is moontlik.

1. Huidige toestande

 

Die droogte in die Wes-Kaap duur voort en sal na alle waarskynlikheid meer intens word in die volgende maande. Alhoewel min of byna geen reën oor die grootste gedeelte van die Somerreënvalgebied voorgekom het gedurende die winter- en lentemaande nie, is dit nie baie abnormaal nie. Byvoorbeeld: In ‘n plek soos Bloemfontein kan daar maar in ongeveer 35% van jare meer as 25mm voorkom vir die Junie/Julie periode. Vir die Junie tot einde September periode dui data dat net in 44% van jare ten minste 25mm reën voorgekom het (Bloemfontein). In net 21% van jare het 25mm of meer in September in die Bloemfontein-omgewing voorgekom.  Sien onderstaande tabel vir waarskynlikhede vir ander plekke in die Vrystaat:  

Periode Waarskynlikheid vir ten minste 25mm (%)
Bloemfontein Bethelem Bothaville
Junie+Julie 35 29 20
Aug+Sep 39 52 26
Junie tot September 44 77 52
September 21 30 17
Oktober 58 79 73


2. El Niño en Indiese Oseaan

 

September en Oktober is die maande met ‘n relatiewe hoë voorspelbaarheid van ENSO (El Niño Suidelike Ossillasie). Die huidige status is steeds Neutraal (see-oppervlaktemperature binne +- 0.5°C vanaf normaal of gemiddeld) maar daar is tans ontwikkeling na die La Niña kant van die spektrum (op die grens met afwyking tans -0.5°C koeler as normaal). Hierdie ontwikkeling na die La Niña kant is baie belangrik vir hierdie tyd van die seisoen en kan bepalend wees vir goeie reënvaltoestande. Indien die Indiese Oseaan nie na ‘n positiewe IOD (Indiese Oseaan Dipool) beweeg nie en die La Niña ontwikkel soos tans, kan dit baie goeie reënvaltoestande tot gevolg hê vir die Somerreënvalgebied. 

Die belangrike Indiese Oseaan see-oppervlaktemperature (IOD) neig ook na neutrale of gemiddelde toestande (nie sterk positief) alhoewel dit nog baie vroeg is in die seisoen en vinnige veranderings nog kan plaasvind. (‘n Positiewe IOD veroorsaak baie sterk tropiese siklone naby die Afrika kontinent en droogte oor die binneland)

3Reënval

          3.1 Somerreënvalgebied​
Huidige voorspellings toon dat die toestande vir reën verbeter gedurende Oktober. Dit lyk asof die eerste aansluiting met tropiese vog uit die noorde gaan plaasvind in die eerste week van Oktober wat donderstorm aktiwiteite tot gevolg kan hê. Verdere reën word ook verwag vir die res van Oktober oor die oostelike dele maar eers weer in die laaste week van Oktober oor die sentrale dele. Met die verwagte La Niña ontwikkeling versterk dit die kanse vir reën vanaf November/Desember en vorentoe. Dit is baie moontlik dat indien die La Nña verskynsel gaan versterk, dit swaar reën gedurende die mid- tot laatsomer tot gevolg kan hê. Gedurende La Niña toestande is die meeste reën gewoonlik gekonsentreer oor die sentrale tot westelike dele van die land. Dit is goeie nuus vir die droogtegeteisterde suidwestelike dele van die Noord-Kaap maar dit sal heelwaarskynlik eers in die tweede deel van die somer gebeur. Neem kennis dat die maande met die meeste reënval gedurende La Niña-toestande gewoonlik Desember/Januarie is asook Maart tot Mei.

          3.2 Winterreënvalgebied​ 
Kort- tot mediumtermynvoorspellings toon dat daar nog in die tweede week van Oktober reën oor die Weskaap kan voorkom maar die kanse vir goeie neerslae begin nou afneem.   

Opsomming en gevolgtrekking

bullet Voorspellings toon vir die eerste keer die seisoen dat La Niña toestande kan voorkom. Voorspellings hierdie tyd van die jaar is redelik stabiel en betroubaar en is dit baie waarskynlik dat ‘n La Nina-verskynsel gaan voorkom.
bullet Reënvalvooruitsigte vir die Somerreënvalgebied lyk baie positief. Desember/Januarie en Maart tot Mei lyk na die beste reënvalmaande.
bullet Reënval in die tweede gedeelte van die somer gaan heel waarskynlik gekonsentreer wees oor die sentrale tot westelike dele van die land en bogemiddelde reënval is moontlik
bullet Tyd begin min word vir reën om die droogte in die WesKkaap te breek omdat die tradisionele reënvalseisoen baie naby aan die einde is
bullet Met die huidige reënvalvoorspellings in gedagte is bogemiddelde somerproduksietoestande baie moontlik, veral oor die sentrale tot westelike dele van die land.  
Vrywaring​:
Die inligting vervat in hierdie verslag word op eie risiko gebruik en die opsteller/Santam of enige ander persoon/instansie genoem in hierdie verslag neem geen verantwoordelikheid vir die akkuraatheid of toepaslikheid/interpretasie van inligting vervat in hierdie verslag nie.
Groete
Santam Landbou-Span
Volg ons om op hoogte te bly van al die nuus by: facebook twitter linkedin youtube