Nuusflitse – Februarie 2018 - Al drie plaasaanvalle in VS vind in daglig plaas

Al drie plaasaanvalle in VS vind in daglig plaas

’n Totaal van drie plaasaanvalle het gedurende Februarie 2018 in die Vrystaat voorgekom. Volgens Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), het twee daarvan in Reitz op plase voorgekom en die ander een in Bloemfontein op ’n hoewe. In die voorvalle is twee produsente en een werker/bewoner op ’n plaas aangeval.

Buys sê volgens die VKB VL-veiligheidslessenaar se inligting het al die voorvalle in daglig plaasgevind – een in Reitz was tussen 05:00-06:30. Dit wil voorkom of daar tussen drie en vyf aanvallers elke keer betrokke was.

Ernstige beserings het in twee van die voorvalle voorgekom. Dit wil verder voorkom dat voertuie waarmee aanvallers ontsnap, hulle ’n ent weg vanaf die misdaadtoneel af oplaai. In een van die voorvalle is vyf aanvallers gearresteer.

“Landbouers word versoek om waaksaam te wees en verdagte voertuie in hul area te rapporteer, onmiddellike veiligheid in en om die woning op te skerp, asook om ingeskakel en betrokke te raak by die Landelike Beveiligingsplan in hul onmiddellike area,” sê Buys. “Hulle moet ook ’n radio-verbinding en/of ekstra selfoon in hul woning hou vir noodsituasies, seker maak dat selfone se diensverskaffers, tipe fone, asook IMEI nommers, op profiele bygehou word.”