Nuusflitse – Februarie 2018 - Suksesse behaal in stryd teen veediefstal, sê Buys

Suksesse behaal in stryd teen veediefstal, sê Buys

“Die arrestasie en vervolging-suksesse rakende veediefstal in die Vrystaat blyk toe te neem.” Só sê dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL).

Volgens haar wil dit voorkom of groter vonnisse as twee jaar in veediefstalsake deur howe gegee word.

Die getal J534s (boetes) wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) uitgereik word, veral wat betref die onwettige weiding van vee en skut van vee is aan die toeneem. Dit geld ook by die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho. Buys sê daar is gedurende Januarie 2018 meer as 160 arrestasies in 86 sake in die Vrystaat weens veediefstal gemaak.

Dit wil ook voorkom of meer landbouers hul vee merk (brandmerk) of tatoeëer, veral waar veilingskrale deur die SAPD besoek word. Die SAPD is tans besig met Operasie Fiela II, wat ook grootliks verskeie aksies ter voorkoming van veediefstal in die Vrystaat behels.