Nuusflitse – Februarie 2018 - Rapporteer infrastruktuur-diefstal op regte manier

Rapporteer infrastruktuur-diefstal op regte manier 

Landbouers word aangemoedig om die diefstal van “essensiële infrastruktuur” reg aan te meld. Die steel van byvoorbeeld koperkabels, sonpanele en batterye van selfoontorings word nie altyd as op bogenoemde manier deurgegee nie.

Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), sê landbouers open gewoonlik ’n saak van betreding en/of kwaadwillige beskadiging van eiendom wanneer diefstal van batterye van selfoontorings op hul grond plaasvind. Vodacom, MTN of Cell C open ’n diefstalsaak.

Volgens haar moet landbouers egter in hul betredingsaak meld dat die diefstal wat gepleeg is verband hou met “essensiële infrastruktuur”. Alle sake vanaf 1 April 2017 tot nou waarin “essensiële infrastruktuur” (koperkabels, sonpanele, batterye van selfoontorings) gesteel is moet asseblief die MAS nommers deurgee sodat dit op ’n databasis deur die prioriteitskomitee gemonitor kan word.

Hoë misdaadareas vir koperkabel-diefstal is Bloemfontein, Fouriesburg, Heilbron, Petrus Steyn, Mafube, Phuthaditjhaba, Sasolburg, Tweeling. Skrootdiefstal se hoë misdaadareas is Hennenman, Theunissen, Virginia, Winburg.

Trokke, minibusse en kombi’s word gebruik om gesteelde koperkabels te vervoer na afsetgebiede in Gauteng, veral op die N1 noordwaarts. Die voorvalle vind in die dag en nag plaas. Dit is ook van toepassing op diefstal van batterye van selfoontorings. Hoë misdaadgebiede hiervoor is Bloemfontein, Koppies, Verkeerdevlei en Zastron.

Buys meen dit is verblydend dat daar deesdae gereeld swaarder vonnisse deur howe gelewer word waar “essensiële infrastruktuur” gesteel is. “Die deurlopende diefstal van batterye van selfoontorings het ’n baie groot impak op ’n veilige landbousektor deurdat dit kommunikasie vanaf landbouers na nooddienste geweldig belemmer,” sê sy.