Nuusflitse – Maart 2018 - Nuwe selfoon-toepassing help lede met veiligheid

Nuwe selfoon-toepassing help lede met veiligheid

Vrystaat Landbou (VL) het onlangs ’n nuwe veiligheidstoepassing met die naam Die Plaaswag aan sy lede, landbouers en die publiek bekend gestel.

Volgens Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van VL, werk die toepassing of toep, waarvan VL ’n vennoot is, met ’n paniekknoppie en sal dit landbouers en die publiek se veiligheid verbeter. Dit is deur ’n tegnologiemaatskappy Piri ontwikkel en kos slegs R24.99 per maand, waarvan VL ook persentasie kry.

“Dit het ook ten doel om akkurate misdaadstatistieke te versamel waarmee VL leiding kan neem in die bekamping van misdaad in die Vrystaat,” sê hy. Alle voorvalle wat op die toep gelaai word, word aan VL deurgegee. Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, sal dit weekliks analiseer om opkomende bedreigings te identifiseer.

Kriel sê die toepassing is egter nie net vir landbouers van waarde nie. Enige lid van die publiek kan dit aflaai en dit kan ook in stede en dorpe gebruik word. Dit kan boonop ook eers vir ’n proeftydperk afgelaai word.

Volgens Buys word die toep aan ’n beheerkamer gekoppel. ’n Alarm, wat vooraf aan 25 nommers in ’n struktuur soos ’n landbouvereniging gekoppel word, word op jou selfoon geaktiveer. Dit gee aan die betrokke mense ook die GPS koördinate van die geaktiveerde alarm en korste roete na die persoon in nood.

“Verder maak dit ook voorsiening vir die laai van misdaad-insidente op landbougrond en kan jy ook versoek om in ’n sekere radius, byvoorbeeld van 10-200km, al die ander misdade in jou omgewing waar te neem,” sê Buys.

Met die toep kan jy ook jou selfoon deur die beheerkamer laat volg wanneer jy op reis is.

Volgens Buys het VL op 12 Maart 2018 ’n voorlegging by AgriSA oor die toepassing gedoen en dit is baie goed deur al die provinsiale affiliasies ontvang.

 

Om die toepassing af te laai en vir meer inligting, besoek www.dieplaaswag.co.za