Nuusflitse – Junie 2018 - VL vra vir spesiale eenheid ná dubbele plaasmoord in Van Stadensrus

VL vra vir spesiale eenheid ná dubbele plaasmoord in Van Stadensrus

Groter ingryping deur die regering is nodig én ’n spesiale eenheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) moet op die been gebring word om plaasmoorde nasionaal te ondersoek om te kyk of dit georganiseerd is of nie. 

Só sê Tommie Esterhuyse, Vise-president van Vrystaat Landbou (VL), ná ’n sinnelose dubbele plaasmoord, wat die aantal plaasmoorde in die Vrystaat in 2018 na vyf laat opskuif, op 25 Junie 2018 op ’n bejaarde egpaar van Van Stadensrus. 

VL spreek sy innige meegevoel uit teenoor die familie van Choppie Bruwer (78) en sy vrou, Marian (68), wat vermoor is en veroordeel enige vorm van plaasaanvalle en misdade. 

Volgens Esterhuyse word die wrede wyse waarop weerlose bejaardes vermoor is ten sterkste veroordeel. “Veral gesien in die lig daarvan dat hulle (die egpaar) vir jare voedsel op die tafel gesit het vir mense wat hulle nou skuldig maak aan misdade,” sê hy. “Dit regverdig groter ingryping deur die regering.” 

VL meen die belangrikheid van landbouers kan nie oorbeklemtoon word nie, aangesien hul werksaamhede ’n direkte invloed op voedselsekuriteit en werkskepping in Suid-Afrika het. 

Esterhuyse sê plaasmoorde regverdig selfs ’n kommissie van ondersoek deur die owerhede. 

Die Bruwers is deur ’n onbekende aantal aanvallers aangeval en vermoor. Hulle is glo aan stoele vasgebind en geskiet. Die aanvallers het onder meer vuurwapens gesteel en met die egpaar se Silver Chevrolet Spark (registrasienommer FWZ 736 FS) gevlug. Die voertuig is intussen gevind. Boet Wilken, Voorsitter van VL se Jongboer-komitee wat ook in die omgewing boer, was een van die eerstes op die toneel. 

Volgens Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van VL, vorder die SAPD se ondersoek goed. Die polisie volg leidrade op en het reeds moontlike verdagtes vir ondervraging aangekeer. Nog geen arrestasies is gemaak nie. 

Kriel meen klem moet egter eerder op pro-aktiewe optrede gelê word om sulke voorvalle te voorkom. 

Volgens die VL VKB Veiligheidslessenaar se inligting is daar reeds sedert Januarie vanjaar 14 plaasaanvalle in die Vrystaat voorkom. Dit is danksy goeie inligtingsnetwerke, tussen VL se strukture op grondvlak, plaaswagte, landbouers en die SAPD as primêre rolspelers, waar die vloei van inligting lei tot die suksesvolle voorkoming van plaasaanvalle en –moorde. 

In 2016 (17 aanvalle) en 2017 (15) is altessam 32 plaasaanvalle in die provinsie voorkom. 

’n Voorbeeld is verlede naweek toe goeie samewerking deur alle rolspelers gehelp het om ’n plaasaanval in Koppies te voorkom. Drie misdadigers is hieroor gearresteer. 

“Dit is juis nou wat samewerking in die landbou, binne die veiligheidstrukture en met die polisie en belanghebbendes, beklemtoon moet word om aanvalle en moorde op plase te voorkom,” sê Kriel.