Nuusflitse – Junie 2018


VL doen voorleggings by verhore oor grond

Vrystaat Landbou (VL) verteenwoordig sy lede by die publieke verhore oor die wysiging van Artikel 25 van die Grondwet en gaan ook sy standpunt maak om dit teen te staan. Hy het ook reeds vroeër sy voorlegging aan die Grondwetlike Hersieningskomitee, wat die hersiening hanteer, gestuur. Dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van VL, sal onder meer namens VL die komitee by die verhore toespreek.

Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van VL, moedig lede aan om die openbare verhore in die Vrystaat by te woon en vra dat VL se streekverteenwoordigers, landboubesighede en –bedrywe ook hul saak daar sal stel. Afgevaardigdes van verskillende streke, distrikte en munisipale areas word ook gevra om hul saak te stel om landbou se stem sterker te maak.

Lede kan die volgende dokumente aflaai ter voorbereiding vir die opnebare verhore of om te sien hoe VL die saak aangepak het. Hierdie inligting is ook per e-pos aan lede gestuur én streekverteenwoordigers het dit ook per WhatsApp ontvang om na die onderskeie landbouverenigings aan te stuur.

 

Dokumente:

Klik hier vir die volledige skriftelike voorlegging van VL.

Klik hier vir die verkorte (een bladsy) voorlegging wat gebruik word tydens verhore.

Klik hier vir Agri SA se volledige skriftelike voorlegging.

 

Datums en lokale vir openbare verhore in die Vrystaat (vanaf 11:00 tot 16:00):

2 Julie 2018: Botshabelo (Samson Sefuthi Gemeenskapsaal; Mangaung Metro)

3 Julie 2018: Welkom (Ferdie Meyer Saal; Lejweleputswa distriksmunisipaliteit)

4 Julie 2018: Phuthaditjhaba (Phuthaditjhaba Veeldoelige-sentrum; Maluti-A-Phufong plaaslike munisipaliteit)

 

Vir 'n lys (dorp, datum en plek) van die openbare verhore in Suid-Afrika, klik hier.

 

Vir meer inligting, kontak VL se kantoor by 051 444 4609.


VL vra vir spesiale eenheid ná dubbele plaasmoord in Van Stadensrus

Groter ingryping deur die regering is nodig én ’n spesiale eenheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) moet op die been gebring word om plaasmoorde nasionaal te ondersoek om te kyk of dit georganiseerd is of nie. 

Só sê Tommie Esterhuyse, Vise-president van Vrystaat Landbou (VL), ná ’n sinnelose dubbele plaasmoord, wat die aantal plaasmoorde in die Vrystaat in 2018 na vyf laat opskuif, op 25 Junie 2018 op ’n bejaarde egpaar van Van Stadensrus. 

VL spreek sy innige meegevoel uit teenoor die familie van Choppie Bruwer (78) en sy vrou, Marian (68), wat vermoor is en veroordeel enige vorm van plaasaanvalle en misdade. 

Volgens Esterhuyse word die wrede wyse waarop weerlose bejaardes vermoor is ten sterkste veroordeel. “Veral gesien in die lig daarvan dat hulle (die egpaar) vir jare voedsel op die tafel gesit het vir mense wat hulle nou skuldig maak aan misdade,” sê hy. “Dit regverdig groter ingryping deur die regering.” 

VL meen die belangrikheid van landbouers kan nie oorbeklemtoon word nie, aangesien hul werksaamhede ’n direkte invloed op voedselsekuriteit en werkskepping in Suid-Afrika het. 

Esterhuyse sê plaasmoorde regverdig selfs ’n kommissie van ondersoek deur die owerhede. 

Die Bruwers is deur ’n onbekende aantal aanvallers aangeval en vermoor. Hulle is glo aan stoele vasgebind en geskiet. Die aanvallers het onder meer vuurwapens gesteel en met die egpaar se Silver Chevrolet Spark (registrasienommer FWZ 736 FS) gevlug. Die voertuig is intussen gevind. Boet Wilken, Voorsitter van VL se Jongboer-komitee wat ook in die omgewing boer, was een van die eerstes op die toneel. 

Volgens Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van VL, vorder die SAPD se ondersoek goed. Die polisie volg leidrade op en het reeds moontlike verdagtes vir ondervraging aangekeer. Nog geen arrestasies is gemaak nie. 

Kriel meen klem moet egter eerder op pro-aktiewe optrede gelê word om sulke voorvalle te voorkom. 

Volgens die VL VKB Veiligheidslessenaar se inligting is daar reeds sedert Januarie vanjaar 14 plaasaanvalle in die Vrystaat voorkom. Dit is danksy goeie inligtingsnetwerke, tussen VL se strukture op grondvlak, plaaswagte, landbouers en die SAPD as primêre rolspelers, waar die vloei van inligting lei tot die suksesvolle voorkoming van plaasaanvalle en –moorde. 

In 2016 (17 aanvalle) en 2017 (15) is altessam 32 plaasaanvalle in die provinsie voorkom. 

’n Voorbeeld is verlede naweek toe goeie samewerking deur alle rolspelers gehelp het om ’n plaasaanval in Koppies te voorkom. Drie misdadigers is hieroor gearresteer. 

“Dit is juis nou wat samewerking in die landbou, binne die veiligheidstrukture en met die polisie en belanghebbendes, beklemtoon moet word om aanvalle en moorde op plase te voorkom,” sê Kriel.


Lede moet let op dié kongres-sperdatums

Vrystaat Landbou (VL) herinner sy lede aan die sperdatums vir die komende jaarkongres. Die oproep vir die kongres, wat op 15 en 16 Augustus 2018 by Monte Bello in Bloemfontein plaasvind, is reeds op 11 Mei 2018 aan alle landbouverenigings gestuur.

Beskrywings- of besprekingspunte, wat via die landbouvereniging voorgelê word, moet VL se kantoor teen 4 Julie 2018 bereik.

Die sperdatum vir inskrywings vir die Landbouvereniging van die Jaar se kompetisie is 12 Julie 2018.

Lede moet teen 24 Julie 2018 vir die jaarlikse kongres in die Rosestad, waarvan die tema vanjaar Terug na ons lede is, registreer.

 

Sperdatums:

Besprekingspunte vir jaarkongres: 4 Julie 2018

Inskrywings vir Landbouvereniging van die Jaar: 12 Julie 2018

Registrasie vir jaarkonges: 24 Julie 2018

 

Om besprekingspunte en inskrywings deur te gee, asook om vir die kongres te registreer, kontak Cynthia Troost, Ledebeampte by VL, by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. of 051 444 4609.


Plaasaanvalle in VS neem af, maar meer moorde vind in 2018 plaas

Altesaam 18 dorpe in die provinsie het vanjaar plaasaanvalle beleef en dit is veral die Oos- en Noord-Vrystaat wat deurloop. Gevaargebiede of dorpe wat geteiken word, is Ladybrand, Reitz en Bloemfontein.

Daar was ’n algehele afname in die getal plaasaanvalle in die Vrystaat, maar daar was egter ’n toename in die aantal moorde. Dit is alles waardevolle inligting wat danksy statistiek van die VKB VL Veiligheidslessenaar na vore kom wanneer plaasaanvalle en -moorde in die afgelope kalenderjaar (vanaf Januarie tot Junie 2018) met verlede jaar vergelyk word.

 

Die onderstaande uiteensetting is ’n vergelyking van die situasie in die Vrystaat, vanaf Januarie tot Junie 2018, met dieselfde tydperk in 2017:

Pro-aktiewe optrede help om bedreigings effektief aan te spreek. Dit word reggekry deurdat inligting vooraf deurgegee word vanaf werkers op plase en goeie skakeling met hulle nadat inligting van voornemende aanvallers/kriminele bekom is. Ander hulpmiddels is duidelik herkenbare observasieplekke, initimidasie dreigemente aan produsente wat lei tot die aanmelding van kriminele klagtes by Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), asook vooraf-inligting deur kommunikasienetwerke wat vanaf die SAPD bekom is. Dit alles help om pro-aktief teen misdaad op te tree.


Kuier saam met Donnalee Roberts en Caroline Grace by damesoggend 

Donnalee Roberts, Simoné Nortmann, Ivan Botha en Caroline Grace. Dié aktrises, akteur en sangeres is almal deel van ’n heerlike bederfoggend vir dames in die Rosestad. 

Vrystaat Landbou (VL), in samewerking met Agri SS en ander vennote, bied met trots die Stroomop Inspirasie geleentheid aan. Dit is ’n heerlike bederfoggend vir alle dames in die omgewing. 

Dit vind op 15 Augustus, dieselfde tyd as VL se jaarkongres, by Leopards & Lace in Bloemfontein plaas. VL het ook ’n kompetisie vir die landbouvereniging in die Vrystaat wat die meeste dames by die oggend het. 

Kom deel in ’n betekenisvolle oggend saam met Roberts en gaste (Nortmann en Botha) waar hulle die unieke volheid, uitdagings en avonture van vrouwees deel. Die bekende Caroline Grace sal ook die gehoor met haar engelstem vermaak.

VL nooi elke dame uit om deel te wees van dié spesiale oggend. Moet dit nie misloop nie. Spring gou en bespreek nou jou kaartjies.

 

Datum: 15 Augustus

Tyd: Registrasie 08:00; Verwelkoming 09:00

Plek: Leopards & Lace (Bfn)

Koste: R180 per persoon (sluit verversings en geskenkie in)

Sluitingsdatum: 24 Julie 2018

 

VL se lede kan vir meer inligting, navrae en kaartjies vir Elize Spence, Administrasie Beampte by VL, by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. of Cynthia Troost, Ledebeampte by VL, by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. kontak of bel 051 444 4609. 

Kaartjies sal ook binnekort in Bloemfontein beskikbaar wees by die Crazy Daisy in Fleurdal en Preller Plein.


Landbouers moet waak teen graandiefstal ná strooptyd

Vrystaat Landbou (VL) doen ’n beroep op alle landbouers in die graanbedryf om ekstra maatreëls in plek te stel om hul graan en mielies teen diefstal te beskerm. Só sê dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL. 

Volgens haar is dit jaarliks ’n gegewe dat groot hoeveelhede hiervan ná strooptyd tydens die vervoer na silo’s gesteel word. “Tonne graan en mielies, vanaf trokke wat tydens nagtelike ure op landerye geberg word, word ook gesteel,” sê sy. 

Buys meen landbouers moet seker maak hul graan en mielies word wel by die silo’s afgelaai. Misdadigers met bakkies, sleepwaens en selfs ander trokke sal ook in die nag met dromme of emmers graan en mielies vanaf trokke wat op landerye staan steel. Trokke met vragte word ook geteiken en die hele vrag soms gesteel.


VL maan landbouers om betrokke te wees by veiligheidstrukture

Vrystaat Landbou (VL) spreek sy innige meegevoel uit teenoor die familie van Klaus Meier, van die plaas Asgard naby Ladybrand, wat vermoor is. VL veroordeel enige vorm van plaasaanvalle en misdade en spreek hom ten sterkste uit teen wat met Meier gebeur het. 

Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van VL, het sy organisasie se lede en landbouers in die Vrystaat gemaan om betrokke te wees by georganiseerde landbou. 

“Vrystaat Landbou veroordeel die sinnelose geweld wat teen landbouers gepleeg word en wil tog die landbougemeenskap vra om aktief betrokke te wees by die strukture van georganiseerde landbou,” sê hy. “Dit sluit onder andere die aktiewe toepassing van die Landelike Beveiligingsplan en ook ondersteuningsnetwerke van onmidelilikke landbouers in die omgewing, soos byvoorbeeld die van jou buurman, in.” 

Kriel sê veral in die lig van ’n vorige aanval in Ladybrand, waarin ’n plaasbestuurder op 19 Maart 2018 vermoor en sy vrou aangerand is, is dit belangrik dat landbouers in dié omgewing se ondersteuningsnetwerke in plek moet wees. Hy meen dit stel landbouers in staat om hul veiligheid op te skerp. 

VL doen ’n beroep op sy lede om die organisasie se veiligheidstrukture, in samewerking met die polisie, te ondersteun en deurlopend hul veiligheid te verbeter. 

Meier is vermoedelik op 15 Junie 2018 naby Marseilles, tussen Ladybrand en Tweespruit, vermoor. Sy lyk is op 17 Junie 2018 deur sy vrou gevind. Volgens VL se inligting is die motief vir die moord nie duidelik nie en was daar geen geforseerde toegang tot die huis nie. 

Volgens Bernard Maree, VL se Veiligheidsverteenwoordiger in die Mantsopa-streek, word die nadoodse ondersoek op 19 Junie 2018 gedoen. 

Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, sê Ladybrand is ’n gevaargebied, aangesien twee (Meier en die plaasbestuurder) van die drie moorde in die Vrystaat daar plaasgevind het. Daar was altesaam drie aanvalle hier in 2018. 

VL is in kontak en werk nou saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) om veiligheid by die grens te verbeter. Alles moontlik word gedoen om voorvalle soos Meier s’n te voorkom. 


Uitvoerende bestuur neem dié besluite oor padprobleme

Bou grondvlak-strukture uit, versterk druk op owerhede en gebruik die media om swak bestuur uit te wys. Dit was van die besluite oor padprobleme wat deur Vrystaat Landbou (VL) se uitvoerende bestuur op ’n vergadering op 21 Junie 2018 in Bloemfontein geneem is. 

Volgens Dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van VL, was lede se frustrasies oor paaie een van die besprekingspunte op die komersieële komitee van VL se werksaamhede. VL se lede ondervind steeds gereeld probleme met swak paaie in die Vrystaat. 

Armour sê huidige strukture op die grond moet verbeter word. “Aanhoudende en doelgerigte druk en ’n klem op aanspreeklikheid sal geplaas word op die plaaslike- en distrikpaaie se  kantore,” sê hy. 

Die media sal ook ingespan word om wanpraktyke te ontbloot. Daar bestaan dikwels onvoldoende bestuur deur die regering in die verband en onbevoegde kontrakteurs word soms ook aangestel. VL sal verder enige korrupte aktiwiteite aanmeld en via die media blootstel.


Stuur voer vir Kaapse gebiede in groot nood

Dis nou eers die begin van die winter en landbouers in die Wes-, Oos-, en Noord-Kaap gaan reeds ’n geruime tyd gebuk onder die gevolge van droogte. Daarom is daar ’n groot nood in hierdie gebiede vir ruvoer. Skaap-, bok-, bees- en wildboere het ’n behoefte aan voer soos bale rooigras, smutsvinger, gewone wenakker grasbale en selfs mieliereste. 

Vrystaat Landbou doen ’n beroep op sy lede om mede-landbouers in dié gebiede by te staan. Van die streke wat dringend hulp nodig het, is plekke soos Willowmore, Williston, Sutherland, Calvinia, Riversdal, Albertinia, Mosselbaai, Steytlerville, Bredasdorp, die Overberg-streek, Laingsburg, Prince Albert, Ladismith, Beaufort-Wes, Jansenville en Aberdeen. Groot gedeeltes van die Oos-, Wes- en Noord-Kaap gaan gebuk onder die droogte. 

Om voer te skenk én/of vervoer te verskaf, kontak vir Tommie Klopper van Boere in Nood by 062 300 2308.


Deelname van landbouers bitter belangrik by dié veiligheidaksies – Buys

’n Skedule met datums vir 19 intervensies, opleidingswerkswinkels en veiligheidsberade in dorpe en clusters of gebiedskantore het reeds in Mei 2018 begin en sal tot Oktober 2018 aangebied word. Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), word dit word saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die sekretariaat van polisie, paaie en vervoer binne die Landelike-beveiligingsplan (LBP) in die Vrystaat gehou. 

Die eerste intervensie het reeds in Mei 2018 plaasgevind. “VL se streekverteenwoordigers en streekveiligheidsverteenwoordigers, met hul onderskeie veiligheidskoördineerders se hulp, is van kardinale belang, omdat aksies spesifiek gerig is op die voorgestelde implementeringsplan vir die hersiende Landelike-beveilingingstrategie,” sê Buys. 

Volgens haar is deelname van alle landbouers van kardinale belang, asook ’n interaktiewe gesprek met die SAPD se bevelstruktuur in die area, om verhoudinge en vennootskappe te bevorder. “Sodra die hersiende LBP deur die nasionale polisiekommissaris goedgekeur is, sal dit in alle provinsies deur bekendstellingsveldtogte of ‘roadshows’ geloods word.” 

Buys sê VL is ook tans besig om die oudit van die LBP in die provinsie te voltooi, waar veiligheidsverteenwoordigers van alle gebiedskantore en ook van landbouverenigings in 84 dorpe hul insette moet lewer oor die implementering en funksionering van die LBS in die provinsie. “Dit gaan aan die prioriteitskomitee, asook provinsiale kommissaris van die SAPD beskikbaar gestel word vir intervensies in dorpe/stasies waar daar gebreke bestaan.”


LBS onder vergrootglas by veiligheidsberaad in Pretoria

Die Landelike-beveiligingstrategie (LBS) het onlangs onder die vergrootglas gekom by die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye se veiligheidsberaad in Pretoria. Die beraad, wat deur die Direkteur-generaal van Landbou, Bosbou en Vissery aangebied word, het op plaasmoorde en veediefstal gefokus. Vrystaat Landbou (VL) het ook die beraad op 14 en 15 Junie 2018 bygewoon. 

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, is in-diepte gekyk na die LBS en watter tekortkominge en gebreke daarin bestaan. Sy sê die mensregtekommissie het ook ’n aanbieding gedoen oor die aanbevelings in hul vorige verslae wat nog nie deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander rolspelers geïmplementeer is nie. Dit verwys veral na die SAPD se kapasiteit en logistieke tekortkominge en gebreke in landelike gebiede. 

“Daar is goeie voorstelle gemaak wat in die hersiende Landelike-beveiligingplan ingebring moet word deur alle rolspelers, wat georganiseerde landbou insluit,” sê Buys. Volgens haar is ook besluit dat al die bevindinge en aanbevelings tydens die beraad voor einde Junie 2018 in dokument na die minister of nasionale kommissie deurgegee sal word. ’n Komitee verteenwoordigend uit alle affiliasies gaan ook saamgestel word om die tekortkominge en gebreke wat uitgewys is, te monitor vir die nodige monitoring en implementering.


Dié gebiede loop deur onder “polisiebeampte” se bedrogspul

Die sogenaamde “polisiebeampte” wat landbouers kontak oor eiendom (vee, voertuie ens) wat in ’n ander provinsie teruggevind is, slaan steeds in die Vrystaat toe. 

Gebiede wat reeds hierdeur geraak is, is Hennenman, Brandfort, Clarens, Cornelia, Rosendal en Springfontein. Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), sluit ander areas in die provinsie waar sulke sake vanjaar aangeteken is, Bloemfontein, Dealesville, Koffiefontein, Theunissen, Viljoenskroon en Virginia in. 

Dit kan ook wees dat misdadigers ’n persoon binne in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het wat hulle van saaknommers en die klaer se besonderhede voorsien. Buys waarsku landbouers moet asseblief geen gelde oorbetaal vir enige “teruggevinde vee of eiendom” nie. “Geen polisiebeampte sal ’n lid van die publiek versoek om enige gelde te betaal om sy gesteelde eiendom te herwin nie,” sê sy. 

VL vra landbouers om die persoon se naam en selfoonnommer te kry en dit asseblief aan ’n VL veiligheidskoördineerder in die betrokke area deur te gee. Of kontak die VKB VL Veiligheidslessenaar of die spesifieke ondersoekbeampte in die betrokke saak. Die SAPD is gevra om ’n formele ondersoek oor die sake op provinsiale- en nasionale vlak te loods. 

Dit is ook moontlik dat dieselfde bedrogspul verband hou met die misdadiger wat vanuit die tronk misdade pleeg. Daar was twee gevalle in die Bethlehem-area waar die persoon gepoog het om twee plase te koop. Hy stuur mense vooruit wie die besigheid beklink, “betaal” die geld oor in die bankrekening wat nog nie reflekteer nie en die volgende oggend stop groot trokke om vee te kom laai, want die plaas is glo alreeds verkoop. Landbouers moet asseblief nie uitgevang word deur sulke slenters nie.


Wees bedag oor steel van vuurwapens tydens jagseisoen

Vrystaat Landbou (VL) het kennis geneem dat gedurende die derde week van Junie 2018 daar drie insidente in ander provinsies (Mpumalanga en Limpopo) was waar jagters op wildsplase se vuurwapens gesteel is tydens inbrake by kampe (huisvesting).

VL doen ’n beroep op alle voornemende jagters wat in die jagseisoen in die Vrystaat jag, dat gidse en/of eienaars van instansies/plase seker maak dat alle vuurwapens in ’n kluis toegesluit word wanneer jagters vanaf ekspedisies terugkeer.