Nuusflitse – Julie 2018


Grond gebruik om fokus te skuif, sê Wilken

Die ANC het met sy middernagtelike aankondiging verlede week dat die Grondwet verander gaan word, die gronddebat verby die punt van redelikheid gedryf. Dit raak al duideliker dat dit ’n magspel binne die ANC is wat die party verdeel en grond word gebruik om die fokus te skuif. Só sê Francois Wilken, President van Vrystaat Landbou (VL).

“Die mense word op munisipale vlak deur swak bestuur en dienslewering in die steek gelaat, wat emosies dryf en sinvolle oplossing-gedrewe gesprekvoering feitlik onmoontlik maak.”

Volgens hom is die onlangse openbare verhore gedryf deur politieke retoriek en word daar toegelaat dat ’n platform geskep word waar blatante rasgedrewe- en geweldsuitsprake gemaak word. “Die negatiewe gevolge vir ekonomiese groei, voedselsekerheid en werkskepping word totaal geignoreer,” sê hy.

VL het sy lede by die verhore in die Vrystaat, op 2, 3 en 4 Julie 2018 in onderskeidelik Botshabelo, Welkom en Phuthaditjhaba, verteenwoordig en die wysiging van Artikel 25 van die Grondwet teengestaan.

“Indien dit (die uitsprake) druk van binne die ANC is om die party te verenig of die EFF te neutraliseer, gaan dit die land baie duur te staan kom. Deur voortydig die parlementêre hersieningsproses te ignoreer en nie te wag vir die bevinding, skep onsekerheid en wantroue oor die onafhanklikheid van die proses.”

Volgens Wilken bly VL verbind tot ekonomies volhoubare vestiging van nuwe produsente binne die riglyne soos gestel deur die Grondwet. “Ons is primêr voedselprodusente vir ’n al groter verstedelikte bevolking en daarom verwelkom ons enige toetreders tot voedselproduksie en stel ons al ons kennis beskibaar om dit te laat slaag. Die vele plase in die Vrystaat wat aan opkomende produsente toegeken is en wat onproduktief lê, moet so gou moontlik in produksie gestel word.”

Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van VL, verwys hoe belangrik die sektor is. “Soos Sisi Ntombela, die Vrystaatse Premier, op 25 Julie 2018 by die Glen-landboukollege buite Bloemfontein uitgewys het, is landbou in die Vrystaat die hoeksteen van ekonomiese groei in die provinsie,” sê hy. “Ntombela het onder meer gesê ‘sonder landbou is die Vrystaat niks’.”

“Ons wil ons lede versoek om op grondvlak pro-aktief op te tree deur bestaande strukture soos onder andere die Landelike-beveiligingsplan en in samewerking met Suid-Afrikaanse Polisie onwettige besettings te voorkom,” sê Wilken.


VL “keer terug na lede” by jaarkongres

Die storieverteller Andries Vermeulen, ambassadeur van Vriende van Landbou, Dr John Purchase, Hoof Uitvoerende Beampte van Agbiz, Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit se besigheidskool, en André Venter, voormalige Springbok-flank, is van die bekendes wat by Vrystaat Landbou (VL) se jaarkongres sprekers gaan wees.

Die kongres vind op 15 en 16 Augustus in Bloemfontein plaas en is weer eens een van die hooftepunte op VL se kalender.

Vanjaar se kongrestema is Terug na ons lede en lede se insette oor verskeie sake sal by die kongres gekry word. Daarom sluit die kongres onder meer werksessies, waaraan kongresgangers deelneem, in oor onderwerpe soos veiligheid, gemeenskapsontwikkeling, ledegeld en struktuur, en landbou-ontwikkeling.

Huishoudelike sake soos die verkiesing van ’n president en vise-president sal ook plaasvind.


Maak só met grondbesettings

Indien ’n eienaar van grond enige inligting of dreigemente ontvang wat dui op ’n moontlike grondbesetting, moet hy of sy dit onmiddellik aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) rapporteer en ook aan strukture van georganiseerde landbou deurgee. Dit is volgens Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), een van ’n paar stappe wat landbouers kan neem te voorkoming van grondbesetting.

Ná onlangse uitsprake deur die ANC oor grondonteiening sonder vergoeding, het grondbesseting ook in die Vrystaat plaasgevind. “Landbouers moet weet wat op hul grond aangaan en kan selfs kennisgewings op grensdrade aanbring wat sê: ‘Betreding is ’n kriminele oortreding, oortreders sal vervolg word,’” sê sy.

Volgens haar word grondeienaars ook versoek om Agri SA se plaasprotokol-borde by toegangshekke aan te bring. “Indien ’n eienaar vir ’n bepaalde tydperk nie op sy grond teenwoordig gaan wees nie, kan hy volmag dokumentasie aan die toesighouer en/of prokureur verskaf wat sal optree indien dit blyk dat ’n moontlike onwettige okkupasie tydens sy afwesigheid kan plaasvind.”

VL en die SAPD se grondbesettingswerkswinkels kan ook op versoek van landbouverenigings of gebiedskantore weer aangebied word om landbouers te bemagtig. Dit sal hulle help om in ondersteuning die SAPD behulpsaam te wees binne die Landelike-beveiligingsplan (LBP) om grondbesettings doeltreffend aan te spreek.

Volgens Buys het VL hulpmiddels saamgestel as breë riglyne wat landbougemeenskappe kan gebruik wanneer ’n grondbesetting plaasvind. Dit is ook in die Veiligheidshandleiding van 2018, wat in samewerking met die SAPD se provinsiale en nasionale instruksies wat onwettige besetting van grond reguleer in terme van polisieoptredes en –aksies saamgestel is, vervat.

Sy sê VL het die afgelope twee tot drie jaar saam met die SAPD grondbesettingswerkswinkels in al die clusters in landbougemeenskappe aangebied om landbouers te bemagtig om die probleem doeltreffend aan te spreek.

 

Riglyne wanneer grondbesetting plaasvind:


SAPD vir eers verbied om dié vuurwapenplan te implementeer

Die situasie oor vuurwapenlisensies waarvoor daar nie aansoek gedoen is vir herlisensiëring, binne die 90 dae tydperk soos in die Wet op Vuurwapenbeheer 60 van 2000 (soos gewysig) bepaal word nie, is gekompliseer deur die uitspraak van 7 Junie 2018 in die Konstitusionele Hof. Só sê Gernie Botha, Regsadviseur van Vrystaat Landbou (VL).

“In die verband en ten spyte van die uitspraak blyk dit dat daar nog geen formele terugvoer vanaf die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is wat betref die status quo nie,” sê hy. Dit het verder ook voorgekom of daar nie eenstemmigheid in die SAPD se eie geledere was oor die pad vorentoe nie.

’n Vuurwapenregte-organisasie (GOSA – Gun Owners South Africa) het intussen op ’n dringende basis die hof genader om duidelikheid te probeer kry oor sommige aspekte waaroor talle vuurwapeneienaars huidiglik as gevolg van die uitspraak in die duister is.

Dié aansoek is op 27 Julie 2018 aangehoor en enkele van die bepalings wat die hof by monde van Regter Prinsloo bepaal het, is die volgende:

  1. Die SAPD word verbied om enige plan van aksie te implementeer wat betref vuurwapens wat se lisensies verval het en verder verbied die bepaling dat sodanige vuurwapens by enige polisiestasie ingehandig moet word vir die uitsluitlike rede dat die wapen se lisensie verval het. Hierdie bepaling dien as ’n tussentydse bepaling hangende die afhandeling van die aangeleentheid soos in die aansoek versoek.
  2. Die tydperke soos na verwys in Artikels 27 en/of 24(1) van die Wet op Vuurwapenbeheer, Wet 60 van 2000, sal verleng word ten einde die persone met vervalde lisensies die geleentheid te bied om daarvoor aansoek te doen.
  3. Die SAPD moet toesien dat sy rekenaarsisteem wat gebruik word vir die administrasie van vuurwapenlisensies voorsiening maak dat dit weer aansoeke om hernuwing van lisensies wat verval het kan verwerk.
  4. Alle aansoeke vir hernuwing van vuurwapenlisensies wat verval het, sal onderworpe wees aan die vereiste van “goeie rede” soos bepaal in Artikel 28(6) van die Wet op Vuurwapenbeheer hierbo genoem.
  5. Enige applikant wat ’n aansoek om hernuwing van ’n vervalde lisensie ingedien het en wat prima facie “goeie redes” voorsien het op die vorm bekend as SAPS 518(a), sal geag word in wettige besit van die betrokke wapen te wees totdat daar oor die aansoek beslis is.

 

VL wag nog op die formele hofbevel en sal sodra dit beskikbaar is, dit ook aan sy lede voorsien. Formele instruksies vanaf die SAPD wat betref die hantering van die aangeleentheid na die uitspraak van 27 Julie 2018, is ook nog nie beskikbaar nie.


VL waarsku teen sogenaamde “polisiebeamptes” se bedrog

Sogenaamde “polisiebeamptes” wat landbouers bel oor hul gesteelde vee en ander eiendom wat teruggevind is, slaan steeds in die Vrystaat toe. Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), is daar 17 dorpe of gebiede in die provinsie waar sedert begin vanjaar toegeslaan is. Dit is Bethulie, Bloemfontein, Brandfort, Clarens, Cornelia, Dealesville, Dewetsdorp, Glen, Heilbron, Hennenman, Koffiefontein, Rosendal, Springfontein, Theunissen, Viljoenskroon, Virginia en Winburg.

Volgens die VKB VL Veiligheidslessenaar se inligting, word die klaer dikwels enkele ure of dae nadat ’n saak aangemeld is, deur ’n “beampte of offisier” gekontak wat meld dat sy of haar eiendom teruggevind is. Die landbouer moet dan ’n sekere bedrag, gewoonlik tussen R800 en R10 000, by byvoorbeeld ’n bank, supermark of per e-wallet betaal sodat die diere of eiendom gehaal en terugbesorg kan word.

 

Vertroulike inligting

“Die sogenaamde beampte klink baie geloofwaardig. Hy of sy meld ook die ondersoekbeampte se besonderhede, details oor die eiendom of die soort brandmerk, getal vee wat gesteel is en het ook kennis van die saak wat slegs op die MAS-stelsel voorkom,” sê Buys.

Die “beampte” kontak polisiestasies se Gemeenskap-dienssentrums telefonies om saaknommers, klaers se besonderhede, asook verdere inligting, te bekom. Volgens Buys is dit alles vertroulike inligting.

VL het reeds in Februarie 2018 die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) versoek om ’n interne kommunikasie hieroor na al sy stasies in die Vrystaat te stuur. Dit moet polisiebeamptes daarop wys om geensins vertroulike inligting oor sake aan enige voornemende polisiebeampte deur te gee nie, alvorens dit nie bevestig kan word of die spesifieke persoon wel ’n polisiebeampte is nie.

Volgens Buys geld die waarskuwing aan landbouers vir vee, asook gesteelde voertuie en plaasimplemente, wat glo teruggevind is.

“Geen polisiebeampte sal ’n lid van die publiek of landbouer versoek om enige geld te betaal om sy gesteelde eiendom terug te kry nie,” sê sy. ’n Landbouer sal waarskynlik deur die ondersoekbeampte van sy of haar saak gekontak word en nie sommer deur ’n ander beampte nie.

 

Dalk verband met dié misdadiger

Dit kan ook moontlik wees dat dieselfde bedrogspul verband hou met ’n misdadiger wat vanuit die tronk aktief is.

Buys sê daar was twee gevalle in die Bethlehem-area waar die persoon gepoog het om twee plase te koop. Hy stuur mense vooruit wie die besigheid beklink, “betaal” die geld oor in die bankrekening wat nog nie reflekteer nie en die volgende oggend stop trokke om die vee te kom laai, want die plaas is glo reeds verkoop.

Volgens Buys is die SAPD in die Vrystaat gevra om ’n formele ondersoek oor die saak te loods en sal ’n nasionale ondersoek ook aangevra word, omdat dit voorkom of dié bedrogspul ook oor provinsiale grense uitgevoer word.


Groot pryse vir landbouers én instansies in Toyota New Harvest of the Year-kompetisie

Dit is die 11de jaar dat die Toyota New Harvest of the Year-kompetisie gehou word. Voormalige wenners was Ricard Myburg (2017), André Cloete (2016), Jacqueline Goliath (2015), Trevor Abrahams (2014), Warren Bam (2013), Gilbert Phalafala (2012), Gift Mafuleka (2011), Moses Gumede (2010), Solly Rantsomane (2009) en wyle Thando Lolwane (2008).

 

Doel van kompetisie:

1) Om die mees suksesvolle voorheen benadeelde (swart/bruin/Indiër) landbouer in Suid-Afrika te identifiseer en te beloon, en;

2) Om erkenning te gee aan die mense/instansies/organisasies agentskappe wat betrokke is by die ontwikkeling van nuwe landbouers.

 

In hierdie opsig borg Toyota SA die beste landbouer met ’n nuwe Toyota Hilux-bakkie, terwyl die beste ontwikkelende instansie met ’n kontantprys van R10 000 (wat verkieslik bestee moet word aan die verdere ontwikkeling van sulke landbouers) sal wegstap.

Die New Harvest-kompetisie is gemik op individue wat vyf jaar en langer ’n plaas besit of dit bedryf/bestuur het, en wat uit ’n voorheen benadeelde agtergrond gekom het om ’n sukses te maak.

 

Klik hier om ’n inskrywingsvorm te kry.

’n Kandidaat moet Afdeling A en sy of haar instansie Afdeling B voltooi, albei afdelings terugbesorg, dit skandeer en aan prof Carlu van der Westhuizen by die Sentrale Universiteit van Tegnologie by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. stuur. Vir meer inligting, kontak prof Van der Westhuizen by 051 507 3788 of 083 445 2662.

Vorige deelnemers/finaliste mag weer vir die kompetisie inskryf, maar nie vorige wenners nie. Beoordeling van finaliste vind tussen 18 en 29 September 2018 plaas en die wenner sal op 18 Oktober 2018 in Gauteng bekend gemaak word.

Inskrywings sluit 24 Augustus 2018.


Kyk uit vir foute op lyne om brande te voorkom

Dit is tot landbouers se voordeel om op die uitkyk te wees vir foute op Eskom-lyne wat oor hul eiendom loop. Só sê Johan Terblanche, Brandbeskermingsbeampte van die Goudveld Brandbeskermingsvereniging.

“Hierdie defekte kan die oorsake van veldbrande op ’n ongeleë tyd wees,” sê hy. Volgens hom moet landbouers byvoorbeeld oplet na voëlneste wat op lyne gebou word. Dit kan aan die brand slaan en grond toe val.

Terblanche sê takke kan ook weens ’n stormwind aan die lyne raak. “Stukkende isolators en alle foute moet assbelief aan Eskom by 086 003 7566 deurgegee word. Kry ook ’n verwysingsnommer om daarvor te bêre,” sê hy.

Wat om te doen (in volgorde) as ’n brand by ’n Eskom-lyn ontstaan het:

  1. Sper die area waar die brand begin het met danger tape af en sorg dat niemand die area betree nie. Nie eers Eskom-personeel nie.
  2. Neem foto’s en kry getuies wat saam met jou sien wat jy sien, sonder om binne die afgesperde area te beweeg.
  3. Laat weet dadelik die veldbrandontleder.
  4. Laat weet jou brandbeskermingsbeampte.
  5. Laat weet dan vir Eskom se kontaksentrum by 086 003 7566 en kry ’n verwysingsnommer wat veilig bewaar moet word vir eise na die brand.
  6. Baie belangrik is dat niemand die afgesperde toneel mag betree voordat die veldbrandontleder nie die bewyse afgeneem en verklarings geneem het nie. Eers dan mag Eskom die toneel vertrap om die fout te herstel.
  7. Brandslaners moenie direk onder ’n kraglyn vuur blus nie, omdat elektriese vonkspronge grond toe kan plaasvind vanweë die hitte.

Eskom het onlangs ook ’n hele paar voorvalle gehad waar lede van die publiek met elektrisiteit in kontak kom wanneer hulle onder kragpale werk. Dit gebeur veral in die landbousektor.

 

Klik hier vir ’n Eskom-grafika vir wenke oor wat om te doen.


Word klimaatslim met radioprogram van Wes-Kaap se Department van Landbou

’n Nuwe weeklikse program oor klimaatsverandering en die gevolge daarvan vir mens, dier, die omgewing en die landboubedryf het op 6 April 2018 begin. Die program Die Kwik Styg word Vrydae om 12:45 op RSG uitgesaai en sal vir 52 weke interessante onderwerpe, met ’n verskeidenheid kenners as ateljeegaste, bespreek. 

Volgens Dr Ilse Trautmann, Hoofdirekteur: Navorsing en Tegnologie Ontwikkeling, en ook die koördineer van Die Kwik Styg, is hierdie inisiatief ’n uitvloeisel van die Wes-Kaapse Departement van Landbou se SmartAgri-plan en gaan dit poog om ’n groter bewusmaking van “nuwe” klimaatsomgewing by luisteraars te bewerkstellig. Die reeks word deur die departement vervaardig en befonds. 

Aanbieder Lizma van Zyl gesels in die reeks met kenners om wenke te kry oor toepaslike maniere om Suid-Afrika, én ook sy landbousektor, meer klimaatslim te maak. Van Zyl is ’n bekende radiopersoonlikheid (RSG en Smile 90.4 FM) en ook die aanbieder van die Kyknet-program Hond se gedagtes

Meer inligting oor die programreeks is beskikbaar op www.rsg.co.za en uitsendings kan ook afgelaai word onder “potgooi” (onder die programhofie – “middag op RSG”). Belangstellendes kan ook vir meer inligting vir Trautmann kontak by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.


Bestuur Bankrotbos op hierdie manier 

Bankrotbos (Seriphium plumosum) is ’n inheemse dwerghoutagtige struik wat groot dele van mesiese grasvelde en sommige Savanne-gebiede van Suid-Afrika oorgeneem het. 

Volgens die Sapia-nuus ding dit mee en vervang dit natuurlike weiding teen ’n geweldige tempo en skaal. Daar word beraam dat 10 miljoen hektaar weiding verlore kan gaan vir landbouproduksie. 

Landbouers spandeer jaarliks miljoene rande op vrugtelose pogings om hierdie plant uit te roei.

 

Kliek hier vir ’n voorgestelde bestuurstrategie vir die spesie (sien bladsy 4 - 6 van die Sapia-nuus) en wenke oor hoe om bankrotbosse te identifiseer, sien hoekom Suid-Afrika bang moet wees en beheermaatreëls wat aanbeveel word.


Kom leer by grondberaad oor oplossings

Ons weet wat die probleme met grond is. Maar wat is die oplossings en watter planne maak ons landbouers? 

Terwyl almal oor onteiening sonder vergoeding praat, kan ons maklik vergeet die Suid-Afrikaanse landbou het oor die afgelope 23 jaar van die wêreld se toonaangewendste transformasieprojekte ontwikkel. 

Landbouweekblad en Agri SA bied op 23 en 24 Augustus 2018 ’n grondberaad in Limpopo aan waartydens alle landbouers met mekaar én relevante rolspelers en organisasies oor grond kan praat. Kom luister na landbouers en belanghebbendes se praktiese raad en suksesverhale – op alles van kommunale- en restitusiegrond tot familieplase. Hulle gaan vertel hoe hulle dit reggekry het, hoekom hulle dit gedoen het en waar hulle die geld gekry het.

 

Koste vir die twee dae: R1 785 (BTW ingesluit) (sluit etes, verversings en ’n aandgeselligheid in) 

Besprekings en betalings:

https://www.quicket.co.za/events/51059-grondberaad-die-grond-oplossing-boere-se-perspektief-land-summit-the-land-solut/#/

Navrae: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.