Nuusflitse – Oktober 2018 - Alles wat jy oor landbousensus moet weet

Alles wat jy oor landbousensus moet weet

“Dit is belangrik om akkurate inligting te hê wanneer ons besigheidsbesluite neem.” Só sê Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van Vrystaat Landbou (VL), oor die Sensus vir Kommersiële Landbou (CoCA). Daarom doen hy ’n beroep op VL se lede om aan die sensus, wat deur Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) gedoen word, deel te neem. 

“Die enigste manier hoe ons ’n omvattende stelsel daar sal kry, is om saam met Statistieke Suid-Afrika te werk en die nodige inligting te kry,” sê Kriel. Akkurate en betroubare inligting is nodig waarvolgens besluite geneem en beplanning gedoen kan word. 

Stats SA het in Oktober 2018 met die landbousensus begin. Dit sal tot Junie 2019 duur en die resultate sal teen die einde van November 2019, onder meer op Stats SA se webtuiste www.statssa.gov.za, gepubliseer word. Tussen 15 Desember 2018 en 15 Januarie 2019 sal daar geen sensus-aktiwiteite plaasvind nie. 

Volgens Gernie Botha, Regsadviseur van VL, het die vorige sensus van kommersiële landbou in 2007 plaasgevind en kon daar weens ’n tekort aan fondse nie in 2012 een gedoen word nie. “Die Voedsel en Landbou Organisasie, sowel as die Verenigde Nasies beveel aan dat ’n land minstens een keer elke tien jaar ʼn sensus van kommersiële landbou doen,” sê hy. 

Die sensus versamel data oor die aard (aktiwiteite) en struktuur van die landboubedryf (boerdery, bosbou en visserye). Die versamelde inligting word deur die regering gebruik vir beleidsformulering, besluitneming en die prestasie van die bedryf te monitor. Hierdie statistieke kan ook gebruik word deur landbouers/operateurs in ontledings van vergelykende sake- en beleggingsbesluite.

 

Werkswyse van sensus-proses

Daar word deur VL se strukture, via sy Streekverteenwoordigers en Veiligheidskoördineerders, gekommunikeer oor die tye en areas waarin gewerk en inligting oor Stats SA se veldbeamptes en hul voertuie verskaf word. Plaasprotokol is van toepassing. 

Stats SA se dataversamelaars sal in besit wees van ʼn amptelike Stats SA identifikasie kaart, waarop die Stats SA logo aangebring is. Geen foto’s word tydens die sensus geneem nie.

 

VL gee opleiding oor toeganing tot plase

VL het voor die aanvang van die landbousensus in Bloemfontein met Stats SA oor die CoCA-proses vergader en onder meer opleiding aan veldwerkers gegee oor die korrekte protokol en prosedures vir die toegang tot plase. 

Botha het hulle touwys gemaak oor die proses voor data-insameling, benadering vir veldwerkers by die insameling van data en hoe om met VL se kantoor en streekverteenwoordigers te kommunikeer wanneer hulle werk.

 

Vir navrae, kontak Botha, Dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van VL, of Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis by VL, by VL se kantoor by 051 444 4609.

 

Sien die volgende sensus-dokumente hieronder:

Die sensus-vraelys kan hier afgelaai word.

Klik hier vir riglyne oor hoe om die sensus-vraelys te voltooi.

 

Klik hier vir ’n opsomming wat die sensus behels, nuttige inligting, algemene vrae en belangrike kontakbesonderhede indien nodig.

 

Klik hier vir Agri SA se dokument oor protokol vir landelike veiligheid.