Nuusflitse – Oktober 2018 - Koop koffie en ondersteun landbou

Koop koffie en ondersteun landbou

Vriende van Landbou, ’n ondersteuningsnetwerk waar belanghebbendes saamkom om landbouers in Suid-Afrika te ondersteun, kom nou ook tot binne-in jou kombuis. Jy kan die inisiatief ondersteun deur heerlike koffiebone te koop en sodoende ’n verskil te maak. 

Vriende van Landbou het hande gevat met Africa Fresh Coffee, ’n organisasie wat self teruggee aan landbou, om ’n unieke produk ten bate van landbouers bekend te stel. Africa Fresh Coffee is ook ’n vriend van landbou. Vriende word gedryf deur Vrystaat Landbou (VL). 

“Mense wat die koffiebone koop, wys dat hulle Vriende van Landbou ondersteun en van die wins gaan aan die inisiatief,” sê Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van VL. 

Die Vriende-koffiebone kom uit die Afrika-koffiebelt en is handgerooster deur spesialis-roosters. Deur dit te koop, dra gebruikers ook by tot Africa Fresh Coffee se visie om plaaslike landbougemeenskappe by die oorsprong te ondersteun. 

Die koffie, met die Vriende-handelsmerk daarop, word sedert September 2018 verkoop. Daar is byvoorbeeld tydens die ALFA Expo, wat vanaf 18 tot 20 September 2018 in Parys in die Vrystaat plaasgevind het, koffie verkoop om geld in te samel vir skade wat weens veldbrande in die Vrystaat gely is.