Nuusflitse – November 2018 - Daar is hoop ondanks uitdagings, sê bestuur

Daar is hoop ondanks uitdagings, sê bestuur

 

Dit was dalk die moeilikste jaar in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse landbou, maar daar is nog hoop én ook in 2018 op ’n spesiale manier hande gevat om die uitdagings te trotseer. Dit is hoe Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van Vrystaat Landbou (VL), en Francois Wilken, President van VL, die jaar opsom.

Volgens Kriel was dit ’n moeilike jaar weens politieke uitdagings. “Die moontlike wysiging van Artikel 25 van die Grondwet het alle landbouers laat herbesin oor hul toekoms,” het hy gesê. Wilken meen daar is ’n klomp goed op VL en sy lede se tafel, soos onteiening sonder vergoeding, droogte en brande.

“Maar tog in hierdie moeilike omgewing het groot positiwiteit uitgekom,” het Kriel gesê. “Mense wat nie voorheen sou hande vat nie, het begin saamwerk deur onder andere ’n inisiatief soos Vriende van Landbou wat ons as Vrystaat Landbou begin het. Daar is ’n groter klem op die uitdra van goeie nuus, asook om mense te aktiveer om mekaar tydens rampe en noodgevalle te ondersteun. Daar het vanjaar ongekende hulp vir landbouers ingestroom.”

Volgens Wilken word ’n feestyd binnegegaan en is dit belangrik om te besin oor die afgelope jaar en ook “te dink oor die pad vorentoe”. “Dit is nou nodig dat ons oor die feestyd ons veiligheid opskerp, maar ook dat ons na die dinge toe gaan wat vir ons werklik saakmaak. Ons gesinne, die feestyd en die Kerstyd wat voorlê.”

Kriel meen dit is belangrik om te onthou waaroor Kersfees werklik gaan en dat dit ook ’n tyd van gee is. “As Vrystaat Landbou wil ons vir almal ’n geseënde Kersfees en lekker rustyd toewens. Volgende jaar trek ons weg met nuwe energie en planne om ons lede te dien.”

Wilken het by hom aangesluit: “Dit gaan ’n uitdagende jaar wees wat voorlê, maar ons is gereed om dit aan te vat met hoop,” het hy gesê. “Mense vra my altyd of daar vir ons hoop is? Ek sê ja, op een voorwaarde. Jy moet net jou eie hoop gaan skep. Moenie dink iemand anders gaan jou hoop vir jou skep nie.”