Nuusflitse – November 2018 - Wees só voorbereid vir misdaad in feesseisoen

Wees só voorbereid vir misdaad in feesseisoen 

Dit is ’n gegewe dat ernstige geweldsmisdade, wat plaasaanvalle en eiendomsverwante misdade insluit, geneig is om tydens die feesseisoen toe te neem. Daarom is dit van kardinale belang dat landbouers, hul families, asook werkers of bewoners op plase en kleinhoewes, na veiligheidsmaatreëls of -wenke moet kyk om hul veiligheid te verbeter en sodoende misdade te help voorkom. Só sê dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL).

“Die VKB Veiligheidslessenaar van VL doen ’n beroep op alle landbouers, hul families en bewoners op plase, ongeag of hul lede van georganiseerde landbou is, om by ’n veiligheidsnetwerk of -stelsel in te skakel om sodoende pro-aktief na hul eie veiligheid om te sien,” sê sy.

Volgens haar is dit beter om voorkomend op te tree. VL wil ook landbouers se aandag vestig op die onwettige jag met honde wat ook in die feesseisoen kan toeneem en dat plase wat inisiasieskole huisves goed gemonitor moet word. Laasgenoemde kan ’n bydraende omgewing skep vir sekere eiendomsverwante diefstal soos veediefstal.

 

Let op die volgende basiese veiligheidsmaatreëls vir landbougemeenskappe:

  • In die mikro-omgewing (in en om die huis): Maak seker dat veiligheid eers by jouself begin. Beveilig jou huis met die nodige veiligheidshekke, slotte en diefwering voor vensters. Hou veiligheidshekke altyd gesluit en moenie dat sleutels ongekontroleerd rondlê nie (pas sleutelbeheer toe). Vervang sleutels van veiligheidshekke as sleutels wegraak. Moenie sleutels onder deurmatte of in potplanthouers wegsteek nie. Haal sleutels uit voertuie en trekkers as dit nie gebruik word nie. Verseker dat gevaarlike wapens soos byle, grawe, pikke, koevoette en lere toegesluit word wanneer dit nie gebruik word nie.
  • Pas toegangsbeheer toe deur, waar moontlik, afstandbeheerde hekke te installeer wat nie deur struike of bosse versper word nie. Installeer “trail cameras” waar moontlik wat enige beweging in die direkte omgewing rondom jou huis optel en na jou selfoon stuur.
  • Vreemdelinge moet hulself duidelik identifiseer voor daar met hulle in gesprek getree sal word. Moenie jou huis verlaat wanneer honde snags blaf nie, selfs wanneer jou krag afgeskakel word. Kontak jou bure, die plaaswag of netwerk vir hulp.
  • Pas toegangsbeheer tot jou eiendom toe deur nie leegleêry van werklose persone toe te laat nie. Installeer waar moontlik ’n veiligheidshek binne jou huis. ’n Hond of honde wat binne jou huis slaap word ook aanbeveel.
  • Wanneer jy tuiskom, moenie dadelik in die huis inbeweeg nie. Inspekteer die area rondom jou huis om te bepaal of geforseerde toegang bekom is (dis nou indien jy nie ’n alarm het nie). Kyk uit waar jou honde is en wat hul gedrag is.
  • Wat indiensneming betref, moenie onwettige immigrante in diens neem nie. Moenie betrokke raak by onwettige handel met burgers van ’n buurland nie.  Hou behoorlike rekord van werkers en bewoners op plase. Lei werkers op en maak hulle deel van gebeurlikheidsplanne om sodeoende bedag te wees op verdagte persone en voertuie wat sonder rede in area rondbeweeg. Handhaaf goeie verhoudinge met werkers en bewoners op plase. Bekom sodoende vooraf-inligting rakende moontlike misdade in jou onmiddellike omgewing.

 

  • In die makro-omgewing, maak seker dat jy Agri SA se Plaasprotokol-borde by die ingang van jou plaas aangebring het.
  • Skakel in by veiligheidstrukture tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), landbouers en plaaswagte in jou area. Raak betrokke by die Landelike Beveiligingstrategie (LBS) in jou area deur aksies soos gereelde wit- en blou-lig patrollies en weet wie die veiligheidskoördineerder van die SAPD en VL (georganiseerde landbou) in jou area is. Raak dus deel van veiligheid “WhatsApp” groepe wat pro-aktiewe inligting deurgee.
  • Bekom radiokommunikasie met plaaslike radionetwerk. Toets gereeld radiokommunikasie onder die LBP in jou area. Skakel ’n addisionele selfoon aan wat op ’n strategiese plek binne die huis geplaas word en maak seker dit is altyd gelaai. Wees verder gekoppel aan verdere noodseingroepe byvoorbeeld die selfoontoepassing genaamd Die Plaaswag. Kontakbesonderhede en noodnommers van bure, die SAPD en veiligheidskoördineerders moet altyd byderhand of op selfone gelaai wees.
  • Rapporteer en skakel enige inligting wat verband hou met ’n misdaad aan die SAPD en veiligheidskoördineerder in jou area. Die onverklaarbare dood van ’n waghond moet as ’n waarskuwingsteken gesien word.

 

Volgens Buys kom groter veiligheid op landbougrond neer op vyf kern elemente. Dit is die verbetering van verhoudinge in die mikro- en makro-omgewing tussen alle belanghebbendes, om te verseker dat kommunikasienetwerke in plek is om sodoende hulp te ontbied wanneer daar ’n nood is en die betrokkenheid en inskakel by veiligheidstrukture of netwerke in jou onmiddelike omgewing (binne die LBP). Dan maak die gereelde deurgee en skakeling van inligting oor misdaad-aktiwiteite en verdagte persone of voertuie na veiligheidstrukture of netwerke, asook die bemagtiging van kennis en inligting om sekere krisissituasie binne die raamwerk van bestaande wetgewing reg aan te spreek ook deel hiervan uit.

“Dit alles kom daarop neer dat landbouers hul paraatheid moet opskerp, moet waarneem wat hulle in hul onmiddellike omgewing sien en nie enige aktiwiteite of beweging as gering moet ag nie en dit moet deurgee,” sê Buys. “Hou jouself, jou familie en werkersmag veilig.”