Nuusflitse – November 2018 - Gemeenskappe trek saam tydens brande én droogte

Gemeenskappe trek saam tydens brande én droogte 

Die manier waarop die landbou- en Suid-Afrikaanse gemeenskap saamstaan om mekaar te ondersteun tydens nood was weer in November 2018 duidelik sigbaar. Hulp het van heinde en verre ingestroom vir landbouers in die Trompsburg-omgewing nadat duisende hektare se veld afgebrand het, terwyl droogtehulp vanuit die Vrystaat na onder meer Lainsburg en Oudtshoorn gestuur is.

Hulp van orals vir Trompsburg

Veldbrande, wat deur ongelooflike sterk winde aangehelp is, het tussen 15 en 17 November 2018 groot skade in die Trompsburg-kontrei in die provinsie aangerig. Honderde skape en beeste is doodgebrand en party landbouers het al hul weiding verloor.

Hulp, voer, skenkings en geld is van orals aangebied en het vanaf besighede, omliggende landbouverenigings en die algemene publiek gekom. Dit het onder meer vanaf plekke soos Reitz, Tweeling, Daniëlsrus, Bultfontein, Wepener, Dewetsdorp, Fauresmith, Jagersfontein, Edenburg, Philippolis, Bainsvlei, Hopetown, Vanderkloof, Wurasoord en Reddersburg gekom.

Van die skenkings het vragte mielies, lusern, lusernpille, tef en aartappels ingesluit. Verder is geld van regoor die land geskenk, aangesien vervoerkostes en diesel nodig is om hul tot in Trompsburg te kry.

 

Maak só ’n bydra ná brande

Om landbouers in die Trompsburg-omgewing by te staan, kan mense geld skenk aan Vriende van Landbou, ’n ondersteuningsnetwerk vir landbouers in Suid-Afrika. Gebruik die woorde Trompsburg Rampfonds as verwysing saam met Vriende van Landbou se bankbesonderhede. Vriende van Landbou word gedryf deur Vrystaat Landbou (VL). Besoek http://www.vlvriende.org/ vir meer inligting.

Bankbesonderhede:
Bank: ABSA
Rekeninghouer: Vriende van Vrystaat Landbou 
Rekeningnommer: 4094219790
Takkode:63-2005 

Om hulp of voer aan te bied, kontak Dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder by VL, by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. of Elize Spence, Admin Beampte by VL, Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. Of skakel 051 444 4609.

 

Vrystaters help met droogtehulp

’n Vrag lusern is op 2 November 2018 in Laingsburg afgelaai om in die droogtetyd te help. Dit is geskenk deur Philip Henning, ’n VL-lid en voormalige VL-bestuurslid, en is by die Laingsburg-landbouvereniging afgelaai.

Die vervoer daarvan is danksy die netwerk van Vriende van Landbou bewerkstellig. Isuzu Trucks Bloemfontein, wat ’n vriend van landbou is, het die vragmotor verskaf en die diesel en drywer is deur Agri Wes-Kaap, danksy geld vanaf die Agri SA droogtefonds, betaal.

“Dit is ’n voorreg om organisasies van buite landbou as Vriende van Landbou te verwelkom en saam met hulle hande te vat as georganiseerde landbou om landbouers te ondersteun,” sê Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van VL. “Georganiseerde landbou en Vriende van Landbou werk oor tradisionale grense heen om landbouers in Suid-Afrika te ondersteun.”

Die Dewetsdorp-landbouvereniging het weer op sy beurt voer in Oudtshoorn afgelaai om landbouers daar tydens die droogte by te staan.

 

Help met vervoer wanneer nood druk

VL doen ’n beroep op vervoerkontrakteurs en sy lede wat sulke besighede het om Vriende van Landbou te word. Die idee is om ’n databasis te skep vir Vriende van Landbou, sodat daar vinniger tydens rampe en in nood gereageer kan word om landbouers in Suid-Afrika by te staan.