Nuusflitse – November 2018 - Dit gaan nie oor politiek, sê Wilken aan tradisionele leiers

Dit gaan nie oor politiek, sê Wilken aan tradisionele leiers

“Ons moet ophou om politici te probeer tevrede stel. Ons moet eerder fokus om doeltreffende gemeenskappe te skep.” Só het Francois Wilken, President van Vrystaat Landbou (VL), in Sotho aan konings en tradisionele leiers in die Vrystaat gesê. 

Wilken het dit op 16 November 2018 vir verteenwoordigers van die Motsepe Foundation, asook bogenoemde leiers, in Bloemfontein gesê. VL se bestuur het met hulle vergader as deel van ’n rits besoeke deur die Motsepe Foundation, in samewerking met Agri SA, in provinsies regoor die land om met landbouleiers te ontmoet.

VL neem deel aan gesprekke met enigiemand wat kan help om ’n veilige en volhoubare landbou-omgewing vir sy lede te skep. Die Motsepe Foundation is in 1999 deur Patrice Motsepe and Dr Precious Moloi-Motsepe gestig. Volgens Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van VL, poog die stigting om mense ingelig te kry en die breër gemeenskappe en regering te beïnvloed met die positiwiteit wat heers.

Die toekoms van landbou, en onder meer beskikbare grond, was op die agenda. Kriel het gesê meerderheid kommersiële landbouers is oop vir nuwe vorme van samewerking om transformasie te bewerkstellig soos deur gesamentlike ondernemings. 

“Dit is noodsaaklik dat die regegering verstaan die publiek reg is om te help om transformasie-doelwitte te bereik. Maar dit gaan nie oor die politieke doelwitte nie, maar om die gemeenskappe op te lig om vir hulself te kan sorg en selfstandig te wees,” het Kriel gesê.

Daar is byvoorbeeld in die Thaba Nchu-omgewing sowat 70 000 ha wat onbenut is. “Van die tradisionele leiers het aangedui dat dit beskikbare grond is waarvoor hulle hulp en finansiering nodig het. Dit is ’n geleentheid vir privaat-inisiatiewe om daardie grond te ontwikkel. Dit is maar slegs ’n klein deeltjie. Daar is baie ander grond wat net daar lê,” het Kriel gesê.

Volgens hom kan titelaktes baie verander, aangesien mense dan finansiering kan kry om die grond te bekom. “Daar moet na ander maniere gekyk word om gefinansier te word, maar die maklikste en doeltreffendste is om titelaktes aan die bewoners te gee, sodat hulle finansiering kan kry.”