Droogte-opname: Ernstige krisistoestande in landelike gebiede

25 Januarie 2019

Voedselsekerheid is ’n moeilik bekombare voorreg – wat maklik weens die voortslepende droogte verlore kan gaan. Agri SA sal belanghebbendes saambring om boere en plaaswerkers in droogte geteisterde gebiede te ondersteun. Stygende voedselpryse, wanvoeding en voedsel-ongelykheid wag vir ons indien daar nie nou iets gedoen word nie. Bedryfsorganisasies is bekommerd oor die impak wat dit op kommoditeitspryse en gevolglik op boere en verbruikers sal hê.

Agri SA het ’n opname in Desember 2018 onder ons lede gedoen, om ’n akkurate assessering van die impak van die droogte op boerdery en werkskepping te verkry.

“Die ekonomiese impak is uitermatig, maar ons moet ook aan die emosionele skade dink – mense verloor hulle werk en plase sluit op ’n tyd wanneer ons juis voedselsekerheid moet verstewig en werkskepping benodig,” sê Christo van der Rheede, Agri SA Adjunk Uitvoerende Direkteur. “Meer as die helfte van boere ly onder meer aan depressie en angs, weens die uitdagende realiteit wat deur die droogte gebring is.”

 

Die hoofpunte van die opname is:

  • Sedert Januarie 2018 is daar ‘n verlies van 31 000 werksgeleenthede en R7 miljard
  • 70% van respondente is onder geweldige finansiële druk
  • Meer as 50% het aangedui dat hulle werkers sal moet aflê
  • ‘n Verwoestende impak op gewasse gegewe die droogtetydperk
  • ‘n Verhoogde risiko vir veldbrande weens die dorre toestande van weidings

 

Kos- en waterskaarsheid skep ‘n enorme risiko vir sosio-politieke stabiliteit in die land. ‘n Gesamentlike poging is nodig om ‘n nasionale ramp af te weer. 

In die volgende twee weke sal noodvergaderings gehou word om te bepaal hoe om boere en plaaswerkers in droogte geteisterde gebiede bes moontlik te ondersteun. Agri SA is alreeds in samesprekings met verskeie rolspelers, insluitend die regering, finansiële instellings en landboubesighede gewikkel. 

Agri SA sal voortgaan om boere op grondvlak te ondersteun. 

“Die droogte is ‘n kolossale krisis. Suid-Afrikaners wat die bekostigbare kos en drank wat ons boere produseer geniet, moet wakker skrik en besef dat voedselsekerheid en bekostigbare kos is in gevaar,” sê Omri van Zyl, Agri SA Uitvoerende Direkteur. “Sedert die einde van 2015 het Agri SA se Droogterampfonds meer as R18 miljoen spandeer om ons boere, plaaswerkers en gemeenskappe te ondersteun. Ons doen weer ‘n beroep op die publiek om te help.” 

Agri SA is dankbaar vir die ondersteuning van die publiek en ander organisasies wat poog om boere te help. Die publiek moet egter waaksaam wees en seker maak dat hul skenkings na ‘n geloofwaardige organisasie gaan en dat die skenkings opgevolg kan word.

 

Kry Agri SA se volledige droogte-opname hier.