Nuusflitse – Januarie 2019 - Analise deur VL toon plaasaanvalle in VS daal aansienlik

Analise deur VL toon plaasaanvalle in VS daal aansienlik 

Die aantal plaasaanvalle in die Vrystaat het oor die laaste drie jaar aansienlik afgeneem, alhoewel die hoeveelheid moorde min of meer dieselfde gebly het. Die Oos-Vrystaat is die area wat verlede jaar die meeste onder aanvalle deurgeloop het, terwyl meerderheid daarvan oor naweke plaasvind het.

Dit is van die statistieke volgens Vrystaat Landbou (VL) se VKB Veiligheidslessenaar wanneer ’n analise van 2018, as ’n kalenderjaar vanaf 1 Januarie tot 31 Desember, se aanvalle gedoen en dit met die afgelope drie jaar vergelyk word. Dié analise geld vir plaasaanvalle en -moorde in die Vrystaat die afgelope drie jaar, vanaf 2016 tot 2018.

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, toon die analise ’n “redelike afname” in plaasaanvalle. “Gedurende 2016 was daar 59 insidente, in 2017 was daar 72 én in 2018 'n totaal van 39 aanvalle,” sê sy.

“Wat wel kommerwekkend is, is dat die moorde op plase en/of kleinhoewes waar albei werkers, opkomende landbouers én produsente geteiken word, ongeveer dieselfde gebly het. Dit het bietjie gedaal met sewe moorde in 2016, ses in 2017 en 2018.”

Die analise toon ook dat die Noord-Vrystaat in 2016 en 2017 die meeste aanvalle en moorde gehad, onderskeidelik 26 in 2016 en 30 in 2017. In 2018 het die Oos-Vrystaat (18) die meeste insidente gehad. Die Suid-Vrystaat is op sy beurt die area wat die minste geteiken word. Hier het ’n daling vanaf 19 aanvalle in 2016, 13 in 2017 en ses in 2018 plaasgevind.

 

Verdere inligting volgens die analise van plaasaanvalle en -moorde in die Vrystaat die afgelope drie jaar (2016 tot 2018):

  • Dorpe wat die meeste die laaste drie jaar geteiken is, is Bloemfontein (meestal plot/kleinhoewe area), Clocolan, Ficksburg en Ladybrand. In 2016 het 41 dorpe en/of landbougemeenskappe plaasaanvalle en moorde beleef in die Vrystaat. Dit het gedaal na 30 dorpe in 2018.
  • Geweldsmisdade van poging tot moordinsidente in landbougemeenskappe het gedaal vanaf 15 in 2016 tot net vyf in 2017 en 2018. Die grootste ernstige geweldmisdaad op landbougrond blyk gewapende en of huisrowe te wees.
  • Die maande waarin die meeste plaasaanvalle voorgekom het, is Augustus en Maart.
  • Meeste plaasaanvalle vind oor naweke, vanaf Vrydae tot Sondae in die Vrystaat plaas (19 uit 39 in 2018). Sowat 50% vind op Saterdae plaas. Dinsdae is ook ’n prominente dag die afgelope twee jaar.
  • Oor dié drie jaar, is dit insiggewend dat meeste plaasaanvalle min of meer in die middel én einde van ’n maand plaasvind. Dié tye is die 9de tot die 15de en weer vanaf die 26ste tot die 30ste van elke maand.
  • Meeste aanvalle (bietjie meer as 50%) vind in die aand (18:00 tot middernag) plaas. Dit is insiggewend dat sowat 50% gedurende die dag plaasvind.
  • Die oorgrote meerderheid slagoffers is alleen aangeval. Maar dit is kommerwekkend dat in 22 uit 59 aanvalle in 2016, in 29 uit 72 aanvalle in 2017 en in 16 uit 39 aanvalle (sowat 37-41%) twee en meer slagoffers geteiken is. Die meeste kinders oor die afgelope drie jaar was in 2017 aangerand gedurende plaasaanvalle. In 2016 was 50% van slagoffers jonger as 50 jaar oud, in 2017 was 36.4% en in 2018 52.38%. Dit wil voorkom of al hoe jonger slagoffers geteiken word.
  • In 47 uit 59 aanvalle in 2016 (79.66%), in 58 uit 72 aanvalle in 2017 (80.55%) en in 32 uit 39 aanvalle in 2018 (82.05%) is tussen twee en sewe aanvallers by plaasaanvalle en/of moorde betrokke. Dus was tussen 79.6% en 82.1% se aanvalle deur twee of ses aanvallers gepleeg met ander woorde groter groepe.
  • In 48% tot 61% van aanvalle word vuurwapens deur aanvallers gebruik. Ander gevaarlike wapens sluit in kieries, pylgewere, spiese, tuinvurke en ysterpype.
  • In 19 uit die 59 aanvalle in 2016 (32.2%), in 22 uit 72 aanvalle in 2017 (30.55%) en in 20 uit 39 aanvalle (51.28%) in 2018 word voertuie deur aanvallers gebruik om na en van tonele te beweeg. Dus tussen 30%-52%. In nagenoeg 15% tot 20% word voertuie van slagoffers gebuit.
  • Dit is insiggewend dat gedurende 2016 was daar in 13 uit 59 aanvalle, in 2017 in 19 uit 72 aanvalle en in 2018 in vier uit 39 aanvalle niks geroof nie. In die meerderheid van gevalle is dit te danke aan paraatheid van slagoffers wat alarm gemaak het, die aanval afgeweer het deur of terug te veg of te skiet en aanvallers dus tonele verlaat het sonder om slagoffers te beseer of enige items te roof.
  • Daar is in 16 uit 59 sake in 2016, in 26 uit 72 sake in 2017 en in 13 uit 39 in 2018 arrestasies uitgevoer. Dus ’n syfer van 27% tot 36%. In baie gevalle is arrestasies uitgevoer deur landbouers wat gemobiliseer het en areas toegemaak het sodat aanvallers nie kon ontsnap nie.
  • Wat kommerwekkend is, is dat nagenoeg 22%-35% van aanvalle verhoed kon gewees het as dit nie vir die nalatigheid van slagoffers was nie. In baie gevalle maak slagoffers byvoorbeeld deure oop as geklop word in die nag, baie word wakker in die nag deurdat persone in die huis rondbeweeg, daar is geen hond wat alarm kon maak of ’n veiligheidshek binne die huis nie. Daar is steeds slagoffers wat ondersoek instel wanneer honde buite blaf. Daar is ook heelwat insidente waar geen geforseerde toegang tot ’n woning bekom is nie en vensters en deure oopgestaan het. Dit maak dit vir misdadigers maklik om slagoffers te oorrompel en aan te rand. In 21 uit 59 aanvalle in 2016 (35.59%), in 16 uit 72 aanvalle in 2017 (22.22%) en in 11 uit 39 aanvalle in 2018 (28.21%) kan aanvalle toegeskryf word aan verslapte veiligheidsmaatreëls of nalatigheid deur slagoffers.

 

Klik hier om ’n volledige die tabel te sien wat die drie jaar vergelyk.