Nuusflitse – Januarie 2019


Nuwe hulplyn staan landbouers by om veediefstal te bekamp

Veediefstal is die grootste eiendomsverwante misdaad in die Vrystaat. Daarom het die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) en Vrystaat Landbou (VL), in samewerking met die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) in die Vrystaat, ’n veediefstal-hulplyn begin.

Volgens Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, sal die hulplyn landbouers bystaan om verklarings af te lê en ook belangrike inligting versamel om dié misdaad te bekamp. “Die hulplyn sal ons help om die omvang van veediefstal te bepaal, asook maniere te vind om dit doeltreffend, in samewerking met landelike gemeenskappe, te bekamp,” sê Buys, wat die projek lei. Die hulplyn sal op 1 Februarie 2019 in werking tree.

 

Oorsprong van inisiatief

Die RPO en VL het verlede jaar besluit om deur groter samewerking die impak en omvang van veediefstal te bepaal. Dit word gedoen deur saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), binne die Landelike-beveiligingstrategie (LBS), ’n groter ondersteuningsrol te speel om veediefstal te bekamp en proaktief op te tree.

Die RPO het grootliks ’n verantwoordelikheid om veediefstal deur veediefstal-voorkomingsforums, asook veediefstal-inligtingsentrums, saam met VL en die SAPD te bekamp. VL moet na sy lede se belange omsien, waar veediefstal die grootste misdaad is wat die sektor negatief bedreig. Daarom is SAPD en Nasionale Vervolgingsgesag genader om die hulplyn te begin.

 

Hoe werk dit?

Deur die hulplyn sal landbouers se A1-verklarings telefonies afgeneem word. Dit sal in Afrikaans en Engels gedoen word en elektronies na hulle gestuur word, wat hulle help om die saak by die polisiestasie aan te meld.

Volgens Buys word die verklaring per e-pos na die klaer teruggestuur om die feite te bevestig, waarna die landbouer dit uitdruk. “Die verklaring word in die teenwoordigheid van SAPD geteken en beëdig wanneer hulle op toneel opdaag.”

Die hulplyn sal deur ’n data-analis en -verwerker beman word. Daar word beoog om die sentrum in die volgende jaar tot ’n 24-uur sentrum uit te brei, wat landbouers veral oor naweke kan bystaan.

 

Identifisering van patrone

Met die hulplyn word ook gepoog om advies en raad te verskaf oor die bewaring van die misdaadtoneel totdat die SAPD opdaag én ook hoe die verloop van die ondersoek verder behartig gaan word en om dit te monitor.

“Dit sal boonop ons in staat stel om presiese tendense en patrone te bepaal oor veediefstal om misdaad-voorkomingsoperasies, asook voorkomingsmaatreëls, in plek te stel,” sê Buys.

  • Die hulplyn-nommer wat gebel kan word is: 086 199 9300.
  • Indien die nommer beset is, kan ’n landbouer ’n WhatsApp-boodskap met sy kontakbesonderhede (naam, van, plaasnaam, tel nr en foto van brandmerk-sertifikaat) na 079 524 5040 stuur.
  • Andersins kan ’n stemboodskap of e-pos met kontakbesonderhede gelos word. Die e-pos adres is Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

VL betreur Koffiefontein-voorval waarin landbouers, polisielid dood is

Vrystaat Landbou (VL) betreur die tragiese voorval waarin twee landbouers en ’n polisieman op 10 Januarie 2019 naby Koffiefontein dood en ’n ander polisieman gewond is. Hy betreur ook die soort optrede waar ’n landbouer verantwoordelik is vir die dood van ’n mede-landbouer, asook ’n polisiebeampte. Só sê Tommie Esterhuyse, Vise-president van VL.

Volgens Esterhuyse spreek VL ook sy innige simpatie uit teenoor die families van die slagoffers en wens hy hulle alle sterkte toe in die moeilike tyd wat voorlê.

“Daar is jarelange goeie samewerking en ’n verhouding tussen landbouers en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) binne die raamwerk van die Landelike Beveiligingstrategie  en die tragedie word deur Vrystaat Landbou betreur,” sê hy. “Dit is bitter sleg dat ons moet afskeid neem van twee landbouers, asook ’n polisielid, wie dood is en dat ’n ander polisielid in die gesig gewond is toe hulle hul daaglikse diens verrig het.”

Paul Nel (66), wat ’n lid van VL was, is deur sy buurman Coenie Badenhorst (39) doodgeskiet, waarna die SAPD op die toneel opgedaag het. ’n Skietery het tussen Badenhorst en die polisie ontstaan.

Ter ondersteuning van die SAPD, het landbouers die Landelike Beveiligingsplan geaktiveer, is daar vinnig en professioneel deur hulle opgetree en is daar ook deur Badenhorst skote op die landbouers gevuur. Badenhorst is gewond en later oorlede, terwyl konst. Vuyani March (27) op die toneel gesterf het. Sers. George Calvert (41) is gewond en na ’n hospitaal in Kimberley geneem.

Esterhuyse sê na wat verneem word was daar konflik tussen Badenhorst en Nel. “Dit is jammer dat so iets moes gebeur en ’n mens moet eerder binne strukture optree. ’n Tragedie soos dié beklemtoon die verhouding tussen die SAPD en landbouers wat daartoe kan bydra dat konflik eerder voortydig aangespreek kan word om lewensverlies te voorkom.”

Esterhuyse het Lt. genl. Moeketsi Sempe, provinsiale polisiekommissaris, en sy span bedank vir hul ondersteuning tydens die voorval, veral in die lig daarvan dat daar ook gedurende 2017 twee polisiebeamptes, in die uitvoering van hul pligte, hul lewens in Koffiefontein verloor het.


Wees ingelig oor bek-en-klou

Die opheffing van Suid-Afrika se bek-en-klouseervrye status het skokgolwe deur die landboubedryf gestuur. Dit beteken onder meer dat die land vir ’n onbepaalde tydperk nie meer vleis en ander veeprodukte mag uitvoer nie, wat groot ekonomiese uitdagings inhou en tot werksverliese kan lei.

Suid-Afrika het sy status verloor nadat die siekte in Januarie 2019 in Limpopo by beeste waargeneem is. Die regering het erken dat bek-en-klouseer op 7 Januarie 2019 in Vhembe by diere aangetref is.

Volgens dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou (VL), het die uitbraak “saamgeval met ’n geweldige afname in vleispryse”. Volgens hom het die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) en Dieregesondheidsforum lede en die publiek op hoogte gehou van die stand van sake. Verder het die regering ook ’n skrywe uitgereik oor die werkswyse van om sertifisering vir uitvoer in plek te kry.

“Weens die droogte en verwagte prysstygings in mielies kan ’n ooraanbod van vleis, gekoppel met verder verswakkende verbruikersbesteding, geweldige druk op vleispryse plaas,” sê Armour. Hy meen ander administratiewe pryse, wat die koste van besigheid in Suid-Afrika verhoog, sluit in kragvoorsiening, telekommunikasie en padinfrastruktuur-koste.

 

Klik hier vir ’n verklaring van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye oor bek-en-klouseer.

Klik hier vir nóg ’n verklaring van die regering.

Klik hier vir ’n opsomming van die situasie oor bek-en-klouseer op 30 Januarie 2019.

 

Klik hier vir ’n skrywe van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye oor die proses vir die uitreik van gesondheidsertifikate vir die uitvoer van vleisprodukte.


Analise deur VL toon plaasaanvalle in VS daal aansienlik 

Die aantal plaasaanvalle in die Vrystaat het oor die laaste drie jaar aansienlik afgeneem, alhoewel die hoeveelheid moorde min of meer dieselfde gebly het. Die Oos-Vrystaat is die area wat verlede jaar die meeste onder aanvalle deurgeloop het, terwyl meerderheid daarvan oor naweke plaasvind het.

Dit is van die statistieke volgens Vrystaat Landbou (VL) se VKB Veiligheidslessenaar wanneer ’n analise van 2018, as ’n kalenderjaar vanaf 1 Januarie tot 31 Desember, se aanvalle gedoen en dit met die afgelope drie jaar vergelyk word. Dié analise geld vir plaasaanvalle en -moorde in die Vrystaat die afgelope drie jaar, vanaf 2016 tot 2018.

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, toon die analise ’n “redelike afname” in plaasaanvalle. “Gedurende 2016 was daar 59 insidente, in 2017 was daar 72 én in 2018 'n totaal van 39 aanvalle,” sê sy.

“Wat wel kommerwekkend is, is dat die moorde op plase en/of kleinhoewes waar albei werkers, opkomende landbouers én produsente geteiken word, ongeveer dieselfde gebly het. Dit het bietjie gedaal met sewe moorde in 2016, ses in 2017 en 2018.”

Die analise toon ook dat die Noord-Vrystaat in 2016 en 2017 die meeste aanvalle en moorde gehad, onderskeidelik 26 in 2016 en 30 in 2017. In 2018 het die Oos-Vrystaat (18) die meeste insidente gehad. Die Suid-Vrystaat is op sy beurt die area wat die minste geteiken word. Hier het ’n daling vanaf 19 aanvalle in 2016, 13 in 2017 en ses in 2018 plaasgevind.

 

Verdere inligting volgens die analise van plaasaanvalle en -moorde in die Vrystaat die afgelope drie jaar (2016 tot 2018):

  • Dorpe wat die meeste die laaste drie jaar geteiken is, is Bloemfontein (meestal plot/kleinhoewe area), Clocolan, Ficksburg en Ladybrand. In 2016 het 41 dorpe en/of landbougemeenskappe plaasaanvalle en moorde beleef in die Vrystaat. Dit het gedaal na 30 dorpe in 2018.
  • Geweldsmisdade van poging tot moordinsidente in landbougemeenskappe het gedaal vanaf 15 in 2016 tot net vyf in 2017 en 2018. Die grootste ernstige geweldmisdaad op landbougrond blyk gewapende en of huisrowe te wees.
  • Die maande waarin die meeste plaasaanvalle voorgekom het, is Augustus en Maart.
  • Meeste plaasaanvalle vind oor naweke, vanaf Vrydae tot Sondae in die Vrystaat plaas (19 uit 39 in 2018). Sowat 50% vind op Saterdae plaas. Dinsdae is ook ’n prominente dag die afgelope twee jaar.
  • Oor dié drie jaar, is dit insiggewend dat meeste plaasaanvalle min of meer in die middel én einde van ’n maand plaasvind. Dié tye is die 9de tot die 15de en weer vanaf die 26ste tot die 30ste van elke maand.
  • Meeste aanvalle (bietjie meer as 50%) vind in die aand (18:00 tot middernag) plaas. Dit is insiggewend dat sowat 50% gedurende die dag plaasvind.
  • Die oorgrote meerderheid slagoffers is alleen aangeval. Maar dit is kommerwekkend dat in 22 uit 59 aanvalle in 2016, in 29 uit 72 aanvalle in 2017 en in 16 uit 39 aanvalle (sowat 37-41%) twee en meer slagoffers geteiken is. Die meeste kinders oor die afgelope drie jaar was in 2017 aangerand gedurende plaasaanvalle. In 2016 was 50% van slagoffers jonger as 50 jaar oud, in 2017 was 36.4% en in 2018 52.38%. Dit wil voorkom of al hoe jonger slagoffers geteiken word.
  • In 47 uit 59 aanvalle in 2016 (79.66%), in 58 uit 72 aanvalle in 2017 (80.55%) en in 32 uit 39 aanvalle in 2018 (82.05%) is tussen twee en sewe aanvallers by plaasaanvalle en/of moorde betrokke. Dus was tussen 79.6% en 82.1% se aanvalle deur twee of ses aanvallers gepleeg met ander woorde groter groepe.
  • In 48% tot 61% van aanvalle word vuurwapens deur aanvallers gebruik. Ander gevaarlike wapens sluit in kieries, pylgewere, spiese, tuinvurke en ysterpype.
  • In 19 uit die 59 aanvalle in 2016 (32.2%), in 22 uit 72 aanvalle in 2017 (30.55%) en in 20 uit 39 aanvalle (51.28%) in 2018 word voertuie deur aanvallers gebruik om na en van tonele te beweeg. Dus tussen 30%-52%. In nagenoeg 15% tot 20% word voertuie van slagoffers gebuit.
  • Dit is insiggewend dat gedurende 2016 was daar in 13 uit 59 aanvalle, in 2017 in 19 uit 72 aanvalle en in 2018 in vier uit 39 aanvalle niks geroof nie. In die meerderheid van gevalle is dit te danke aan paraatheid van slagoffers wat alarm gemaak het, die aanval afgeweer het deur of terug te veg of te skiet en aanvallers dus tonele verlaat het sonder om slagoffers te beseer of enige items te roof.
  • Daar is in 16 uit 59 sake in 2016, in 26 uit 72 sake in 2017 en in 13 uit 39 in 2018 arrestasies uitgevoer. Dus ’n syfer van 27% tot 36%. In baie gevalle is arrestasies uitgevoer deur landbouers wat gemobiliseer het en areas toegemaak het sodat aanvallers nie kon ontsnap nie.
  • Wat kommerwekkend is, is dat nagenoeg 22%-35% van aanvalle verhoed kon gewees het as dit nie vir die nalatigheid van slagoffers was nie. In baie gevalle maak slagoffers byvoorbeeld deure oop as geklop word in die nag, baie word wakker in die nag deurdat persone in die huis rondbeweeg, daar is geen hond wat alarm kon maak of ’n veiligheidshek binne die huis nie. Daar is steeds slagoffers wat ondersoek instel wanneer honde buite blaf. Daar is ook heelwat insidente waar geen geforseerde toegang tot ’n woning bekom is nie en vensters en deure oopgestaan het. Dit maak dit vir misdadigers maklik om slagoffers te oorrompel en aan te rand. In 21 uit 59 aanvalle in 2016 (35.59%), in 16 uit 72 aanvalle in 2017 (22.22%) en in 11 uit 39 aanvalle in 2018 (28.21%) kan aanvalle toegeskryf word aan verslapte veiligheidsmaatreëls of nalatigheid deur slagoffers.

 

Klik hier om ’n volledige die tabel te sien wat die drie jaar vergelyk.


Kyk hier hoeveel jy jou werkers moet betaal

’n Nuwe nasionale minimum loon wet (NMLW) het op 1 Januarie 2019 in Suid-Afrika in werking getree. Volgens Gernie Botha, Regsadviseur van Vrystaat Landbou, bly die Sektorale Vasstelling 13 vir plaaswerkers (SVP) egter steeds in plek vir alle ander aspekte, buiten lone. Die berekening van die nasionale minimum loon (NML) word boonop steeds volgens Artikel 4 van die SVP gedoen.

 

Kort opsomming van tariewe van toepassing op ’n plaaswerker:

 

1 Januarie 2019 NML

Uurlikse tarief

R18

Daaglikse tarief (9 ure se werk; middagete uitgesluit)

R162

Weeklikse tarief (5 dae werkweek; middagete uitgesluit)

R810

Maandelikse tarief (Middagete uitgesluit)

R3507.30

 

Verdere bepalings:
• Werkers moet vir ten minste vier ure se werk vergoed word.
• Diensvoorwaardes, insluitend werksure, mag nie eensydig gewysig word as gevolg van die NML nie. Eensydige aanpassing sal op ’n onbillike arbeidspraktyke neerkom.
• Die NML is van toepassing op alle werkers, insluitend dag-arbeiders, tydelike werkers, permanente werkers en werkers op vastetermyn-kontrakte.

 

NML vir huishulpe in dorpe of stede

In terme van die relevante Sektorale Vasstelling word onder meer die volgende werkers hierby ingesluit:

  • Alle persone wat as huishulp in diens is.
  • ’n Persoon wat in die tuin werk by ’n privaat woning.
  • Persone wat na kinders, bejaardes, siekes of na ’n gestremde persoon omsien in ’n privaat huishouding.

 

Die bedrag betaalbaar per uur in terme van die NML wat op 1 Januarie 2019 inwerking getree het is R15 per uur.

  • Volgens Botha is daar daar wel ’n uitsondering op die bepaling. Dit is op ’n huishulp wat in Area A en 27 uur per week of minder werk. Dié bepaling geld vanaf 3 Desember 2018 tot 30 November 2019 en die bedrag wat aan hierdie werkers betaalbaar is, mag nie minder wees as R16.03 per uur wees nie. Munisipaliteite in die Vrystaat wat in Area A voorkom, is die Mangaung-metro en Metsimaholo. 

 

3 Desember – 30 Nov 2019

Uurlikse tarief

R16.03

Daaglikse tarief (9 ure; middagete uitgesluit)

R144.27

Weeklikse tarief (5 dae; middagete uitgesluit)

R721.35

Maandelikse tarief (Middagete uitgesluit)

R3123.45

 

’n Huishulp wat in Area B werksaam is, moet R15 per uur betaal word:

 

1 Januarie 2019 NML

Uurlikse tarief

R15

Daaglikse tarief (9 ure; middagete uitgesluit)

R135

Weeklikse tarief (5 dae; middagete uitgesluit)

R675

Maandelikse tarief  (Middagete uitgesluit)

R2925

 

Klik hier vir meer inligting oor die NML.


Skryf nou in vir konferensie in jong landbouers se kraal 

Vrystaat Landbou (VL) se gewilde Jongboer-konferensie vind weer binnekort plaas en jong landbouers in die provinsie sal oudergewoonte lekker kan saamgesels. Want vanjaar se tema, Toeganklike hulpbronne in ’n moderne landbou-omgewing, is reg in hul kraal en onderwerpe soos moderne boerdery en tegnologie is op die spyskaart.

Maak seker jy bespreek jou plek deur te registreer vir die konferensie, aangebied deur VL se Jongboer-komitee in samewerking met VS Agri. Sprekers is Tiaan Terblanche van Axioteq, Phillip Oosthuizen van die Sernick-groep, Divan van der Westhuizen van BFAP en die landbou-ekonoom Prof Johan Willemse. Registrasies vir die konferensie sluit 25 Maart 2019 en kos R 250 per persoon.

Die oproep vir die konferensie én gala-dinee, waar die Jongboer van die Jaar aangewys word, is op 17 Januarie 2019 aan VL se Jongboer-komitee, landbouverenigings én hul  voorsitters en sekretarisse gestuur. Albei dié geleenthede vind op 17 April 2019 by Monte Bello Estate in Bloemfontein plaas.

VL op soek na 24ste Jongboer van die Jaar

Die finaliste vir VL se Jongboer van die Jaar kompetisie word vroeg in Maart deur die kompetisie se beoordelaars op hul plase besoek en beoordeel. VL is op soek na sy 24ste wenner van die prestige kompetisie en die een wat by Nelius Ferreira, VL se Jongboer van die Jaar vir 2018, van Harrismith gaan oorneem. Die kompetisie is die eerste keer in 1996 aangebied.

Die wenner stap met ’n kontantprys van VL, asook ander pryse wat deur borge voorsien word, weg en sal outomaties aan die Toyota Agri SA nasionale Jongboer van die Jaar kompetisie deelneem.

Klik hier vir ’n volledige mediaverklaring oor die kompetisie.

 

Jongboer-konferensie:
Datum: 17 April 2019
Registrasie: 08:00
Opening: 09:00
Plek: Monte Bello Estate (Bloemfontein)
Drag: Netjies/Smart casual
Prys: R 250 per persoon
Sperdatum: Registrasies sluit 25 Maart 2019

 

Jongboer-funksie:
Datum: 17 April 2019
Tyd: 18:30 vir 19:00
Plek: Monte Bello Estate (Bloemfontein)
Drag: Semi-formeel
Prys: R250.00 per persoon
Sperdatum: Registrasies sluit 25 Maart 2019

 

Klik hier vir die oproep, inskrywingsvorm en om jou plek te bespreek.

Vir meer inligting oor die Jongboer van die Jaar kompetisie, konferensie of gala-dinee, kontak Elize Spence, Admin Beampte by VL, by 051 444 4609 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.


Landbousensus hervat: Wees só voorbereid

Beamptes van Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) het weer hul werk met die Sensus vir Kommersiële Landbou (CoCA) hervat. Daar het tussen 15 Desember 2018 en 15 Januarie 2019 geen sensus-aktiwiteite plaasgevind nie.

Daar word deur Vrystaat Landbou (VL) se strukture, via sy Streekverteenwoordigers en Veiligheidskoördineerders, gekommunikeer oor die tye en areas waarin gewerk en inligting oor Stats SA se veldbeamptes en hul voertuie verskaf word. Plaasprotokol is van toepassing.

 

Klik hier om voorbereid te wees van hoe dit werk en wat van jou verwag word. Lees meer oor die werkswyse van sensus-proses, protokol oor toegang tot plase en kry ook verskeie sensus-dokumente.

Vir navrae of indien VL-lede probleme ondervind, kontak Gernie Botha, Regsadviseur van VL, Dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van VL, of Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis by VL, by VL se kantoor by 051 444 4609 of stuur ’n e-pos na Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.


VL lewer kommentaar op Onteieningswetsontwerp

Vrystaat Landbou (VL) het skriftelik kommentaar gelewer en sodoende sy insette gelewer op die Onteieningswetsontwerp wat in Desember 2018 in die Staatskoerant gepubliseer is. Só sê Gernie Botha, Regsadviseur van VL.

Volgens Botha het die organisasie die betrokke wetswysiging nagegaan en sy insette aan Agri SA, wat die verskillende provinsies se kommentaar sal saamvat, deurgegee. Die kommentaar word in een dokument saamgevat.

Dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van VL, sê die konsep-kommentaar van Agri SA oor die wetsontwerp is aan VL se streekverteenwoordigers gestuur. Amptelike kommentaar op die wetsontwerp word teen 1 Februarie 2019 ingedien.


Doen aansoek vir droogtehulp voor sperdatum

Enige landbouer wat weens die droogte skade gely het kan in aanmerking kom vir droogtehulp vanaf die regering.

Volgens dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou (VL), moet hy of sy ’n assesseringsvorm van die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling in die Vrystaat invul om hiervoor in aanmerking te kom. Hy sê landbouers moet die vorm invul en aan hul plaaslike voorligtingsbeampte stuur.

Armour versoek dat landbouers, vir kontrole, ook dié voltooide vorm aan VL stuur. Oorspronklike ingevulde vorms moet teen 15 Februarie 2019 aan ’n plaaslike voorligtingsbeampte gestuur word.

 

Klik hier om ’n asseseringsvorm af te laai. 

Vir meer inligting kontak Armour by 051 444 4609 of stuur ’n e-pos na Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.


VL sê nee vir verhoodge Eskom-tariewe

Vrystaat Landbou (VL) werk deurgaans op verskeie vlakke en terreine om vir sy lede ’n veilige en volhoubare landbou-omgewing te skep waarin hulle kan boer. Daarom het VL sy lede se saak gestel by die nasionale energiereguleerder (NERSA) se publieke verhoor in Bloemfontein oor Eskom se aansoek om tariewe te verhoog.

“Vrystaat Landbou het duidelik gesê selfs ’n inflasie-gebaseerde verhoging is onbekostigbaar weens die gesamentlike impak van klimaats-, politiese- én ekonomiese onsekerheid,” het Dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van VL, gesê. Hy het ook op 23 Januarie 2019 ’n aanbieding by die verhoor gemaak. 

Armour, Kempen Nel, Voorsitter van die Ekonomiese Sake komitee by VL, en Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van VL, het die verhoor bygewoon. 

Volgens Armour het Eskom gevra vir ’n R21.6 biljoen terugverhaling op die vorige jaar se verlies wat sou uitwerk op ’n 4,4% per jaar verhoging oor die volgende drie jaar. “Verder het Eskom ook aansoek gedoen vir meer as R200 biljoen se verhaling van kliënte oor die volgende vyf jaar om hul geprojekteerde begroting te dek,” het Armour gesê.

Hy meen dit sal uitwerk op ’n 15% verhoging per jaar. Boonop beteken dit amper ’n 20% verhoging in kragtariewe jaar op jaar oor die volgende paar jaar.

Nicol Jansen, President van Agri Noord-Kaap, het ook ’n aanbieding gedoen.


Leer by internasionale sprekers oor herlewingslandbou in Reitz

Herlewingslandbou is landbouers se kostedoeltreffende wapen teen stygende insetkoste en klimaatsverandering, deur natuurlike prosesse weer optimaal te laat funskioneer. Landbouweekblad, in samewerking met Graan SA en die Riemland-studiegroep, bring wêreldbekende sprekers, kenners en van die beste Suid-Afrikaanse landbouers vir die Landbouweekblad-konferensie oor herlewingslandbou byeen. Daarmee word gepoog om hoop te bring vir duisende landbouers wat in ’n onverbiddelike kosteknyptang vasgevang is. 

Die konferensie, met die tema Laat die natuur vir jou geld maak, vind op 11 en 12 Maart 2019 in Reitz plaas en sluit internasionale sprekers soos prof Buz Kloot van Amerika in. Suksesvolle Suid-Afrikaanse landbouers sal ook hul kennis deel én daar is besoeke aan proefpersele op plase.

 

Hoogtepunte

  • Herlewingslandbou as die oplossing vir die landbou – Prof Buz Kloot
  • Brasilië se sukses met dekgewasse – Dr Ademir Calegari (Eksklusief by Reitz)
  • Ultrahoëdigtheidsbewyding – ’n Landbouer se perspektief – Prof Peter Ardington
  • Die ekonomie van natuurlike dienste – Prof James Blignaut
  • Vyf jaar van herlewingslandbou en lesse geleer – Izak Dreyer
  • Sukses met herlewingslandbou in Zambië – Adrian Bignell
  • ’n Amerikaanse herlewingslandbouer se storie – James Carter
  • Geenbewerking en grondgesondheid in Argentinië – Dr Valeria Faggioli
  • Terugvoering – Soil Health Solutions-toer na Amerika – André Naudé

 

Landbouer-paneel

Hoe begin jy met bewaringslandbou? Volg dié stappe tot sukses. Dié paneel gee raad.

Danie Slabbert (Reitz)

Sam Nkosi (Ermelo)

Herman Enslin (Petrus Steyn)

Bertie Coetzee (Prieska)

Christof Botha (Ladybrand)

Gideon Oosthuizen (Rysmierbult)

Izak Dreyer (Vrede)

Adrian Bignell (Zambië)

 

Plek: VKB-feesterrein (Reitz)

Prys: R2 300 per persoon vir albei dae (BTW, etes, verversings, ’n plaasbesoek (veldproewe) en ’n aandgeselligheid saam met Adam Tas is ingesluit)

Kaartjies: Bespreek kaartjies op Quicket: http://qkt.io/SOUYJE

Verblyf op Reitz: Kontak Danie van Aswegen (082 534 8372)

Sperdatum: Kaartjieverkope sluit 5 Maart 2019. Geen kaartjies by hekke te koop nie.

 

Klik hier om die volledige program te sien. 

Vir meer inligting of navrae, kontak Jacolette Kloppers by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.


Só ondersteun VL sy lede in sake oor eksplorasieregte

Vrystaat Landbou (VL) is betrokke en ondersteun sy streekverteenwoordigers wat te doen het met Rhino Oil en Gas prospekterings in hul gebiede. Volgens Dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van VL, koördineer en skakel die organisasie met hulle byvoorbeeld in areas soos Memel, Harrismith, Bethlehem, Clarens en Lindley. Armour sê kommentaar op die voorlopige verslag moet teen 21 Februarie 2019 ingedien word. 

Volgens hom moet die appèl-hersieningsversoek op die ander twee groot Rhino Oil en Gas prospekterings aansoeke, in die Noord-Ooste en Noord-Weste van die Vrystaat, teen Mei ingedien word. Laasgenoemde twee word deur Derek Light, prokureur van Agri SA, behartig. 

Die gasmyn-prospekteringsaansoek wat landswyd die verste gevorder is, is die van Motuoane Energy. Hier is ’n gebied wes van Welkom se goudvelde, vanaf Theunissen tot byna in Kroonstad, ter sprake. Die appèl-hersieningsaansoek in opdrag van die Noord-Vrystaat Minerale Hulpbronne Belange Forum word deur Christo Rheeders Prokureurs behartig.

“Al is Vrystaat Landbou se mandaat en standpunt oor gasmyne, wat moontlike na hidrobreking kan lei, ’n duidelike nee, is ons besig om te kyk waar landbou en minerale mynbou in voordelige wen-wen oplossings omskep kan word. Dit word gedoen onder leiding van die Agri SA en die Kamer van Mynbou se MinAgri inisiatief gedryf deur die WNNR (CSIR),” sê Armour. 

VL het ook op 31 Janaurie 2019 die Regional Mining Development and Environmental Committee se vergadering in Welkom bygewoon om oor die Manyeleti-steenkoolaansoek appèl in die Koppie/Memel omgewing te hoor. 

Volgens Armour word ander minerale- of mynbou-aansoeke wat op VL se lessenaar beland, na sy plaaslike verteenwoordigers gestuur en bied die organisasie raad en regsadvies aan wanneer dit versoek word.


VL rig versoek oor beter selfoonsein vir landbouers

Swak selfoonsein in landelike gebiede hou ’n veiligheidsrisiko in én landboubesigheid kan ook nie behoorlik bedryf word nie. Dit is van die gevolge vir landbouers in gebiede waar onvoldoende selfoondienste aan hulle verskaf word.

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), is dit waarom VL ’n navraag aan Vodacom gerig het nadat ’n opgawe oor die seine van die selfoonnetwerk gemaak is en landbouers in die Vrystaat verskeie probleme ondervind het. Buys sê daar is versoek dat waar moontlik ekstra torings in problematiese areas aangebring word.

“Die kwaliteit en beskikbaarheid van selfoonsein hou ’n groot risiko vir landbouers in landelike gebiede in, aangesien hul veiligheid daardeur geraak word. Alarms en noodseine kan byvoorbeeld nie gestuur word wanneer hulp vanaf mede-landbouers of die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) benodig word nie,” sê sy.

Buys meen daarom moet landbougemeenskappe grotendeels op radionetwerke staatmaak om na hul veiligheid om te sien.

Volgens haar het die onbeskikbaarheid van selfoonsein ook ’n geweldige impak op ’n landbouer, aangesien data gebruik word om besigheid via die internet te doen.

“’n Versoek is aan Vodacom gerig om die probleme aan te spreek,” sê sy. “Geen terugvoer is tot dusver hieroor deur Vrystaat Landbou ontvang nie. Vrystaat Landbou het egter besluit om Vodacom die geleentheid te gun om binne sewe dae op ’n amptelike skrywe terugvoer te gee.”

Volg dié stappe wanneer dit by probleme met selfoonsein kom:

  • Lede moet sover moontlik eerstens hul klagtes aan die dienssentrum van ’n selfoonnetwerk rapporteer en ’n verwysingsnommer kry.
  • Indien geen terugvoer ontvang word nie, moet dit met toesighouers hoër op by die betrokke verskaffer geskakel word.
  • Verder kan dit aan OKOSA (die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika) gerapporteer word, asook die verbruikerskommissaris.
  • Ingevolge Artikel 14(2)(i)(bb) van die Wet op Verbruikersbeskerming, Wet 68 van 2008, kan verbruikers ’n vaste termynooreenkoms te enige tyd kanselleer deur aan die verskaffer 20 besigheidsdae skriftelike kennis te gee. Let daarop dat hierdie bepalings nie van toepassing is op transaksies tussen regspersone nie. Verder ingevolge artikel 14(3)(a) die verbruiker teenoor die verskaffer aanspreeklik bly vir enige bedrae aan die verskaffer verskuldig ingevolge daardie ooreenkoms tot op datum van die kansellasie en verdermeer ingevolge artikel 14(3)(b)(i) kan die verskaffer ’n redelike kansellasieboete oplê ten opsigte van goedere verskaf, dienste gelewer, of kortings toegestaan aan die verbruiker met die oog op die voortduur van die ooreenkoms vir die beoogde vaste termyn, as daar is.
  • Verder kan landbouers op die webblad “Hello Peter” klagtes wat betref ’n spesifieke diensverskaffer gaan lê: hellopeter.com
  • Verder kan die landbouvereniging en/of gebiedskantoor op skrif ’n opgawe indien na VL en/of na die selfoonnetwerk waar probleme ondervind word.
  • Sodra VL enige terugvoer van Vodacom of ander selfoonnetwerke ontvang, sal dit dadelik met die organisasie se lede gekommunikeer word.

Le Roux en De Kock neem leisels van veiligheid oor

Jakkals le Roux is in Januarie 2019 by ’n vergadering van Vrystaat Landbou (VL) se Landelike Veiligheidskomitee as nuwe Voorsitter verkies. Le Roux van Wesselsbron en Marthin de Kock van Zastron, nuwe Ondervoorsitter, sal aan die stuur van VL se veiligheid staan.

Le Roux neem oor by Tommie Esterhuyse, Vise-president van VL, wat die laaste paar maande as Voorsitter van VL se Landelike Veiligheid waargeneem het. Esterhuyse is ook einde verlede jaar as Voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid: Landelike Veiligheid aangewys.

 

VL rig versoek oor vuurwapenlisensies

VL verneem van sy lede sukkel om terugvoer van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) én die Appèlraad te kry oor die uitslag van aansoeke om vuurwapenlisensies.

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, het VL die aangeleentheid met Agri SA opgeneem om op die nasionale prioriteitskomitee die SAPD te versoek om daadwerklik aandag aan die probleem te skenk.

Dit blyk daar is ’n gebrek aan mannekrag by die Appèlraad en redes moet verskaf word waarom aansoeke afgekeur word.

Buys sê VL versoek sy lede om skriftelik navraag te rig aan die Registrateur van Vuurwapens indien hulle binne ’n tydperk van drie tot vier maande geen terugvoer vanaf hul plaaslike SAPD kry nie.