Nuusflitse – Februarie 2019 - Só help Vrystaat Landbou om VS as rampgebied te verklaar

Só help Vrystaat Landbou om VS as rampgebied te verklaar

 

Vrystaat Landbou (VL) is bly sy insette het gehelp om die provinsie weens die droogte amptelik as rampgebied te verklaar. Só het Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van VL, gesê.

Hy verwelkom dit, aangesien aansoeke vir hulp nou by die regering ingedien kan word. Volgens Kriel het sy organisasie op verskeie vlakke, en veral die distrikslandbou-unie in Bultfontein, gehelp om die erns van die droogte onder die regering se aandag te bring.

“Ons het ook aansoeke by die Departement van Landbou ingedien en wag nou vir terugvoer vanaf die regering,” het hy gesê.

Die Vrystaatse regering het die provinsie amptelik op 22 Februarie 2019 in die provinsiale koerant weens die droogte as rampgebied verklaar.

Kriel het gesê VL het vroeër ook lede versoek om hul behoeftes by hul plaaslike landbouvoorligters in te dien. “Ons terugvoer was dat daar heelwat aansoekvorms deel was van die Department van Landbou se beplanning en aansoek om droogtehulp by die Nasionale Tesourie.”

 

Voorlegging aan premier

VL was ook deel van die rolspelers wat op 14 Februarie 2019 die regering oor die voortdurende droogte in Tswelopele-distrik ingelig het. Sy bestuur het sy lede verteenwoordig tydens die vergadering in Bultfontein, waar Sisi Ntombela, Vrystaatse Premier, en dr Benny Malakoane, LUR vir Landbou en Landelike Ontwikkeling, die regering se afvaardiging gelei het.

Dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van VL, het ’n aanbieding en oorsig gegee van die erge droogte en hoe dit landbouers en die landboubedryf beïnvloed. Verteenwoordigers van Graan SA en Agri SA was ook teenwoordig.

Ná die Bultfontein-vergadering, is ’n dringende vergadering op 18 Februarie 2019 gehou waar VL ook insette gelewer het oor geld wat benodig word en amptelike insette moes teen  20 Februarie 2019 ingedien word.

Volgens die provinsiale koerant is bedrae van R622 645 681 vir munisipaliteite en R 76 250 000 vir landbou bewillig. Die bedrag vir landbou word vergroot, wat R 1 biljoen vir staatswaarborge, R 70 miljoen vir die kwytskelding van munisipale belasting, kwytskelding van minimum loon vereistes en inligtingsessies insluit.

Die finale besluit en tydraamwerk lê by die Nasionale Tesourie.

 

Klik hier om Armour se voorlegging in Bultonftein aan die regering te sien.

Klik hier om die amptelike afkondiging van die Vrystaat as rampgebied in die provinsiale koerant te sien.