Nuusflitse – Februarie 2019 - Landbouers gemaan om veediefstal-hulplyn te gebruik

Landbouers gemaan om veediefstal-hulplyn te gebruik

Om die enorme impak van veediefstal beter te bepaal, tendense raak te sien én inligting te versamel om dit te bekamp. Dis volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), van die redes waarom ’n veediefstal-hulplyn in die Vrystaat begin is.

“Misdaadstatistieke wys dat tussen 67% tot 80% van veediefstal nie aangemeld word nie,” sê sy.

Die hulplyn, wat deur VL en die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) – in samewerking met die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) in die provinsie – begin is, sal onder meer help met die aflê van verklarings en ondersoeke monitor. Dit is sedert 1 Februarie 2019 in werking en speel ’n ondersteuningsrol aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), binne die Landelike-beveiligingstrategie, om proaktief op te tree. Die SAPD in die Vrystaat het ook sy amptelike ondersteuning vir die inisiatief deurgegee.

 

Regte syfers belangrik

Volgens ’n VL impak- en omvangstudie van misdade op kommersiële landbou in 2017, was veeverliese in die Vrystaat tussen sowat R1 tot R3 biljoen per jaar.

Agri SA se Nasionale Landbousektor-misdaadopname wat deur die Buro vir Marknavorsing by Unisa gedoen is, het bepaal die Vrystaat en Noord-Kaap was in 2017 die provinsies wat die ergste onder veediefstal deurgeloop het. Daar was nagenoeg 26 175 insidente slegs in die Vrystaat. Veediefstal is die voorste landboumisdaad in die provinsie en ’n kommersiële landbouer beleef jaarliks sowat agt insidente.

Johann Stadler, Voorsitter van die Veediefstal-voorkomingsforum van die Vrystaatse RPO, sê ’n jaarlikse VL oudit van die Landelike-beveiligingsplan, het probleme met veediefstal-aanmelding uitgewys. Hieronder tel taal en kommunikasie tydens die aflê van ’n A1-verklarings by party polisiestasies.

“Die hulplyn sal help om verklarings so te kry dat dit verstaanbaar en leesbaar vir almal betrokke is, sodat die ondersoek van die begin af binne die kriminele regstelsel goed kan verloop,” sê hy. “Dit sal landbouers ook bystaan oor byvoorbeeld hoe om die misdaadtoneel te bewaar.”

“’n Mens kan nie veediefstal doeltreffend aanspreek en bekamp as jy nie die regte aanmelding en omstandighede het nie,” sê Buys. Volgens haar is dít ook belangrik om voorkomingsoperasies te loods en die korrekte inligting aan die SAPD en Nasionale Vervolgingsgesag deur te gee.

Verder meen sy die hulplyn sal landbouers se betrokkenheid by die bekamping verbeter en kan daar grotendeels op voorkoming gefokus word.



Hoe werk dit?

Die hulplyn word deur Mientjie Kok, ’n data-analis en voormalige polisielid, beman. Sy sal landbouers bystaan met die aflê van verklarings en hul vrae oor die proses beantwoord.

Volgens Buys word die verklaring per e-pos na die klaer teruggestuur om die feite te bevestig en dit in die teenwoordigheid van SAPD geteken.

Daar word beoog om die hulplyn, wat tans ’n drie maande proeftydperk volg, tot ’n 24-uur sentrum uit te brei om landbouers veral oor naweke by te staan. “Ons doen ’n beroep op landbouers om die hulplyn te gebruik, sodat veediefstal doeltreffend bekamp kan word,” sê Buys.

 

Kontakbesonderhede

Hulplyn-nommer: 086 199 9300 (beskikbaar vanaf 08:00 – 13:00; sewe dae per week).

WhatsApp-nommer om inligting na te stuur: 079 524 5040 (slegs vir WhatsApp). Indien hulplyn-nommer beset is, kan ’n landbouer ’n WhatsApp-boodskap met sy of haar kontakbesonderhede (naam, van, plaasnaam, tel nr en foto van brandmerk-sertifikaat) stuur.

Andersins kan ’n stemboodskap of e-pos met kontakbesonderhede gelos word. Die e-pos adres is Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.