Nuusflitse – Februarie 2019 - VL gaan premier, LUR oor swak paaie sien

VL gaan premier, LUR oor swak paaie sien

 

Vrystaat Landbou (VL) sal die krisis van swak paaie en grondpaaie aanspreek deur onder meer vir Sisi Ntombela, die Vrystaatse Premier, en Sam Mashinini, die LUR vir polisie, paaie en vervoer, daaroor te gaan sien.

Volgens Francois Wilken, President van VL, is Suid-Afrika in groot moeilikheid weens die agteruitgang van infrastruktuur en beïnvloed dit landbouers negatief, aangesien hulle belasting betaal en dié paaie moet gebruik.

Wilken, Tommie Esterhuyse, Vise-president van VL, en dr Jack Armour, Bedryfsbestuur van VL, het op 26 Februarie 2019 ’n vergadering by die Moedersdeel-landbouvereniging in die Heilbron-omgewing bygewoon waar hierdie kwessies bespreek is.

Landbouers in dié omgewing meen die swak toestand van paaie veroorsaak dat hulle nie ordentlik besigheid kan doen nie en dit kan uiteindelik hul voortbestaan in gedrang bring, aangesien vervoer na en van plase al hoe moeiliker word. Landbouers hier hou ook dikwels self van die paaie in stand.

Volgens Armour het VL reeds in September 2018 ’n brief aan dr Blade Nzimande, minister van vervoer, oor die swak toestand van paaie in Vrystaat geskryf.