Nuusflitse – Februarie 2019 - Toename in aksie by Lesotho-grens

Toename in aksie by Lesotho-grens

 

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) meen daar is ’n toename in aggressie en arrogansie van Lesotho-burgers wat by die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho opereer. Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), is dit nie net op die publiek van toepassing nie, maar ook teenoor SANW lede.

Buys het gesê daar het glo twee insidente in dié oorgrens-area gedurende Desember 2018 en Januarie 2019 plaasgevind waar ’n skietery ontstaan het. Die SANW moes homself op die manier teen die Lesotho-burgers beskerm.

Die beplanning van oorgrens-operasies geniet tans aandag. Die SANW se kompanies roteer weer vanaf 4 tot 22 Maart 2019 en dan sal 1 SAI soldate die grens beman.

 

Landbouers by grens versoek om bydra tot opgawe te maak

Volgens Buys word alle landbouers by die grens versoek om met hul streek se veiligheidskoördineerders in aanraking te kom oor ’n opgawe oor hoe om oorgrensmisdade doeltreffend aan te spreek.

Dié opgawe sal met voltooiing aan die SANW, Suid-Afrikaanse Polisiediens, Lesotho se hoë kommissaris en die LUR se kantoor deurgegee word. “Dit sal spesifieke versoeke oor voorgestelde aksiestappe bevat,” het Buys gesê.

 

Streek veiligheidskoördineerders in die oorgrens-area is:

  • Ig Wille (Ficksburg, Clocolan, Marquard, Kommissiepoort)
  • Bernard Maree (Ladybrand, Hobhouse, Tweespruit, Selosesha, Dewetsdorp, Vanstadensrus, Wepener)
  • Marthin de Kock (Zastron)