Nuusflitse – Februarie 2019 - Kriel: Proses aan gang vir verdeling van VKB-voerskenking van R1 miljoen

Kriel: Proses aan gang vir verdeling van VKB-voerskenking van R1 miljoen

“Dit is altyd verblydend om saam met ’n organisasie soos VKB te werk en ons waardeer hul ondersteuning vir georganiseerde landbou. Die beskikbaarstelling van hierdie mielies en voer sal net tot voordeel van landbou wees,” het Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van Vrystaat Landbou (VL), gesê.

“Ons werk hard daaraan om die verdeling te beplan. Ons het insette gekry van die landbouers wat behoeftes gehad het en sal dit op ’n regverdige wyse verdeel.”

Volgens ’n gesamentlike verklaring van VKB Landbou en VL is daar tans groot dele van Suid-Afrika wat onder intense droogtetoestande gebuk gaan. Behalwe vir graanareas wat hierdeur geraak word, is daar dele in ons land wat so erg deur die droogte geaffekteer word dat daar diere op ’n daaglikse basis vrek weens ’n gebrek aan kos en water.

Gegewe die bostaande het VKB besluit om sy hand uit te steek na van die geaffekteerde areas. VKB se direksie het ’n skenking bewillig van R1 miljoen in die vorm van voer en mielies, asook die distribusie daarvan.

Die groot uitdaging is om seker te maak dat hierdie voer uitkom op die plekke waar dit die nodigste is. Daarom is daar besluit om die kanaal van georganiseerde landbou te gebruik. Die skenking word gemaak aan VL, wat weer op sy beurt die voer sal kanaliseer deur plaaslike distrik/landbouverenigings om seker te maak die nood word verlig waar dit die grootste is.

VKB en VL is deur hierdie aksie verbind daartoe om in die beste belang van elke produsent in Suid-Afrika op te tree.