Nuusflitse – Maart 2019


Kry jou paar Vriende-veldskoene en ondersteun landbouers

Besef jy waar jou kos vandaan kom en wie dit elke dag moontlik maak? ’n Landbouer het hard gewerk om dit te produseer.

Is jy dankbaar teenoor hierdie landbouers en wil jy hulle ondersteun? Jy kan dit nou doen deur nie net geld, hulpbronne of kundigheid aan Vriende van Landbou, ’n inisiatief deur Vrystaat Landbou (VL), te skenk nie. Jy kan ook spog met ’n lekker paar Veldskoene met die Vriende-handelsmerk daarop. Jou vriende sal dadelik sien jy is ’n Vriend van Landbou wanneer jy jou treffende Veldskoene dra.

“Ons het hande gevat met ’n maatskappy, wat ’n Vriend van Landbou is, wat veldskoene met verskillende kleure vervaardig om die Vriende-handelsmerk op die skoene aan te bring en beskikbaar te stel,” sê Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van VL. “Ons vra dat mense dit ondersteun en wys hulle is Vriende van Landbou. ’n Gedeelte van die opbrengs gaan aan Vriende van Landbou.”

Veldskoen is eeue lank al ’n ikoniese skoen van Suid-Afrikaanse landbouers wat bekend staan vir uitsonderlike gemak en duursaamheid. Elke paar word met die hand in Suid-Afrika van uitgesoekte Afrika-rooihuidleer vervaardig.

Gaan na Vriende van Landbou se webtuiste, http://www.vlvriende.org/, volg die skakel, kies ’n kleur, ondersteun landbouers én maak ’n verskil.

  • Om Vriende van Landbou te ondersteun kan jy ook heerlike koffiebone koop. Africa Fresh Coffee, ’n organisasie wat self teruggee aan landbou, is ook ’n Vriend van die inisiatief. Gehalte koffie, met die Vriende-handelsmerk daarop, word verkoop.  Die bone kom uit die Afrika-koffiebelt en is handgerooster deur spesialis-roosters. Deur hierdie koffie te koop, dra gebruikers ook by tot Africa Fresh Coffee se visie om plaaslike landbougemeenskappe by die oorsprong te ondersteun.                                Gaan na Vriende van Landbou se webtuiste, http://www.vlvriende.org/, en volg die skakel.

Een van dié vier binnekort as jongboer-wenner aangewys

Vier spesiale mense wat in enige bedryf ’n sukses sou kon maak. Só het prof Pieter Fourie, sameroeper van die beoordelaars en Hoof van die Department van Landbou by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), die finaliste in 2019 se Vrystaat Landbou (VL) Jongboer van die Jaar kompetisie beskryf.

Volgens Fourie is dit sterk kandidate wat sake uitspook om as 24ste wenner aangewys te word. Twee jong landbouers van Bultfontein, Milne Bredenkamp en Henk Harmse, een van Arlington, Herman Janse van Rensburg, en een van Warden, Ludwig Becker, het onlangs die kompetisie se beoordelaarspaneel op hul plase ontvang. Hulle is op 5 en 6 Maart 2019 besoek en beoordeel.

Die wenner stap met ’n VL-kontantprys, asook ander pryse van verskeie borge, weg en sal outomaties aan die Toyota Agri SA nasionale Jongboer van die Jaar kompetisie deelneem. VL se Jongboer-konferensie, met die tema Toeganklike hulpbronne in ’n moderne landbou-omgewing, vind op 17 April 2019 in Bloemfontein plaas, met die Jongboer-wenner wat by ’n gala-dinee aangekondig word. Verlede jaar se wenner was Nelius Ferreira.

Bredenkamp, wat hoofsaaklik met mielies op die plaas Hanover boer, bedryf ’n gemengde boerdery wat gewasse, vee en wild insluit. Harmse se fokus op die plaas Rechtvaardig is saaiery, met skape en beeste wat ook van sy vertakkings is. Mielies en sonneblomme is die grootste gedeelte van Janse van Rensburg, wat ook met vee op Port Arlington boer, se boerdery. Becker plant hoofsaaklik mielies op die plaas Geluk, met sojabone, dekgewasse en beeste wat ook deel van sy boerdery uitmaak.

Afdelings waarop hulle beoordeel word, sluit onder meer in toekomsbeeld, begroting en finansies, produksie, bemarking, instandhouding, personeelbestuur en gemeenskapsbetrokkendheid.

Volgens Boet Wilken, Voorsitter van VL se Jongboer-komitee en ’n beoordelaar, hou niks dié finaliste terug nie. “Wat uitstaan, is die positiwiteit en nuwe denke van hierdie jong landbouers,” het hy gesê.

“Dit is vier spesiale mense wat toevallig boer,” het Fourie gesê. “Dit is mense wat in enige bedryf ’n sukses kon maak, want daar is ongelooflik baie leierseienskappe onder die vier.”

  • VL se gewilde Jongboer-konferensie vind ook op 17 April 2019 plaas. Vanjaar se tema is Toeganklike hulpbronne in ’n moderne landbou-omgewing en die sprekers is Tiaan Terblanche van Axioteq, Phillip Oosthuizen van die Sernick-groep, Divan van der Westhuizen van BFAP en die landbou-ekonoom Prof Johan Willemse.

VL rig versoek aan ringkoppe oor grensprobleme

Vrystaat Landbou (VL) het Agri SA, Sisi Ntombela, die Vrystaatse Premier, Sam Mashinini, die LUR vir Polisie, Paaie en Vervoer, dr Benny Malakoane, LUR vir Landbou en Landelike Ontwikkeling, én die Prioriteitskomitee versoek om dringend aan grensprobleme tussen Suid-Afrika en Lesotho aandag te skenk.

Só het dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, gesê nadat VL se bestuur met verskeie rolspelers by die grens vergader het. Volgens haar is die grensprobleem ’n nasionale probleem. Dit sluit alle grensmisdade, waarvan die onwettige wei van vee deel uitmaak, in.

Sy sê Agri SA kan versoek dat die Portfoliokomitee se verslae rakende hul besoeke aan die grens en die aanbevelings ter tafel gelê word. “ ’n Versoek kan dan aan die betrokke ministers gerig word om ’n taakspan saam te stel oor migrasie oorgrens en moontlike bewusmaking van internasionale maatskappye en organisasies om daadwerklike aandag te fokus rakende probleme oor die internasionale grense vir ingryping op ’n nasionale vlak.”

 

Al dié partye betrokke

VL se bestuur het op 1 Maart 2019 ’n vergadering by die grens saam met landbouers naby die grens, verteenwoordigers van Lesotho se weermag en polisie, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, asook leierfigure in Lesotho, bygewoon.

Volgens Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van VL, is van die grensprobleme dat vee onwettig oor die grens kom en in Suid-Afrika wei. Veesiektes kan ook op dié manier versprei word. Beeste word ook geskud, wat verskeie gevolge soos veearts-prosesse inhou.

“Daar is ooreengekom dat dit op ’n hoër vlak opgevolg moet word en ons het van Vrystaat Landbou se kant af vir die Premier, LUR vir Polisie, Paaie en Vervoer en LUR vir Landbou en Landelike Ontwikkeling versoek dat ons ’n oorgrens-vergadering wil hou,” sê hy.

 

Lewer kommentaar op bou van grenspad

Volgens Buys is die omgewingsimpak se assesseringsverslag deur Delta BEC oor die bou van ’n grenspad en -lyn beskikbaar vir publieke kommentaar. Daarop kan kommentaar gelewer word tot 4 April 2019 (34 dae).

Kommentaar moet skriftelik ingedien word by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. (e-pos) of gefaks word na: 012 348 4738, PO Box 35703, Menlo Park, 0102.

Klik hier om die verslag op Dropbox te bestudeer.


Landbou is ’n vennootskap van klomp rolspelers – Wilken

 

Vrystaat Landbou (VL) beskou die uitsprake dat 20% produsente 80% van Suid-Afrika se voedsel produseer as onverantwoordelik en gevaarlik. Só het Francois Wilken, President van VL, gesê nadat dié uitlatings onlangs in die media gemaak is.

Volgens hom word landbou in die Vrystaat as ’n geïntegreerde vennootskap tussen almal in die landbou-waardeketting beskou. Dit sluit kommunale, opkomende, kommersiële en sogenaamde megaboere, waarvan baie lede van georganiseerde landbou is, in. Landboubesighede en bedrywe, insetverskaffers, verwerkers én finansierders is almal kardinale rolspelers in die landbousektor.

“Om byvoorbeeld ʼn paar groot beesvoerkrale as die voorsieners van vleis vir die land te sien, is oorvereenvoudig. Die beeste wat eers gevoer word, word aan hulle deur die hele spektrum van produsente, ongeag die grootte van die boerdery, voorsien,” het Wilken gesê.

 

Gewone landbouers belangrik

Hy meen om sekere dele van die waardeketting op te offer én die onvermoë van die regering, korrupsie en ideologiese opportunisme te verbloem, is gevaarlik en onregverdig. “Omdat twee lokomotiewe byvoorbeeld 30 treinwaens trek, kan jy nie besluit om die waens eenvoudig af te haak en dink die lokomotiewe gaan in elkgeval die bestemming bereik nie.”

Volgens Wilken is landbouproduksie ook baie meer kompleks as net die produksie van stapelvoedsel. “Vat die wolbedryf as voorbeeld. Dit is ’n multimiljard-uitvoerindustrie waar die wol soms in van die moeilikste dele van ons land geproduseer word deur gewone en kleiner landbouers.”

Hy het gesê daar is dus baie ander bedrywe wat ’n rol speel om die broodnodige buitelandse valuta te genereer. Wilken meen die sogenaamde “kleinboere” is die landbouers wat die ekonomie van klein dorpies in stand hou en werk aan die ongeskoolde arbeidsmag verskaf.

 

Raak betrokke by gevestige strukture en werk saam

“Vrystaat Landbou bly, soos deur sy geskiedenis, verbind daartoe om die belange van al sy lede en landbou in die algemeen te dien en te verseker dat elke produsent ’n regverdige en billike kans sal hê om sy passie uit te leef,” het Wilken gesê.

Volgens hom is dit belangrik dat landbouers binne gevestigde strukture betrokke raak, deelneem en self hul toekoms bepaal.

“Ons moet ook bedag wees vir die misbruik van die media, emosie en persoonlike aanvalle om korttermyn doelwitte te bereik,” het hy gesê. “Elke produsent moet verantwoordelikheid neem vir homself deur betrokke te raak, sy stem te laat hoor en nie net met ’n wenslys te sit en hoop iemand gaan verby kom en dit waar maak nie.”


VKB-voerskenking gaan aan dié plekke

’n Behoefte-bepaling is gedoen en uiteindelik is vier vragte mielies en voer aan die Wes-Kaap en vier vragte aan die Vrystaat toegeken.

Dit volg nadat VKB onlangs ’n skenking van R1 miljoen se voer en mielies, én die verspreiding daarvan, bewillig het om landbouers in droogtetoestande by te staan. Dié skenking is aan georganiseerde landbou gemaak.

Volgens Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van Vrystaat Landbou (VL), is ’n volledige bepaling van behoeftes gedoen en is Agri SA se netwerk gebruik om te bepaal waar dit die nodigste is.

“Ons moes prioritiseer,” sê hy. “Aangesien die aanvanklike doel van VKB was om mielies en voer aan die Wes-Kaap te skenk, het ons na die behoefte gekyk en die besluit geneem om vier vragte in die Vrystaat en vier in die Wes-Kaap te versprei.”

Die gebiede in die Vrystaat wat vragte ontvang, is Boshof/Hertzogville/Dealesville, Heilbron/Edenville, Theunissen en Bultfontein.

Kriel sê verder VKB het met Jannie Strydom, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri Wes-Kaap, gekommunikeer oor die areas in sy provinsie wat vragte ontvang. Dit is Beaufort-Wes/Merweville/Prins Albert/Laingsburg en Kliprand/Bitterfontein.

 

Klik hier vir ’n vorige storie oor die VKB-skenking.


Hierdie plaasprotokol geld tydens verkiesing

Plaasprotokol is van toepassing om toegang tot plase tydens die nasionale verkiesing te reguleer. Dié protokol, wat in 2006 tussen Agri SA en die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) geteken en in 2014 hersien is, sal weer geld.

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), het VL en die OVK op 13 Maart 2019 ’n vergadering hieroor gehou. Die nasionale verkiesing vind op 8 Mei 2019 in Suid-Afrika plaas.

“Die protokol behels dat redelike toegang tot plase aan die OVK gebied word wat betref kiesersopleiding van amptenare en die vestiging van kieslokale,” sê sy.

Meer as 200 politieke partye is geregistreer vir vanjaar se nasionale verkiesing. Die partye kan nie vrye toegang wat betref werwing tot plase verkry nie. Volgens Buys meld die protokol ook dat landbouers werkers na dorpe sal neem waar hulle werwing van verskeie politieke partye kan bywoon.

“Plaastoegang moet nogsteeds geskied in lyn met Agri SA se protokol waar toestemming vanaf die landbouer bekom moet word om sy eiendom te betree,” sê Buys.


Landbouers begin veediefstal-hulplyn al meer gebruik

Daar was in Maart 2019 beslis ’n toename in die gebruik van die nuwe veediefstal-hulplyn. Só sê dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), oor die inisiatief wat op 1 Februarie 2019 begin is om veediefstal in die provinsie te bekamp.

Al hoe meer veeprodusente het bewus geraak van die hulplyn, wat VL saam met die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) en Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) in die Vrystaat begin het. Dit is van stapel gestuur om onder meer die enorme impak van veediefstal beter te bepaal, tendense raak te sien én inligting te versamel om dit te bekamp.

Buys sê daar was in Februarie 2019 altesaam 55 hulplyn-oproepe en in Maart was daar ’n toename. Die finale getal vir Maart was teen druktyd nog nie beskikbaar nie. Die funksionering van die hulplyn word maandeliks deur die RPO en VL gemonitor.

Buys skryf die toe toename in die gebruik van die hulplyn toe aan bemarking deur VL soos video-opnames, radio- en ander mediadekking.

“Verder word raad, advies en hulp ook verskaf rakende misdaadtoneel-bewaring, die neem van foto’s, hoe ondersoeke of sake deur speurders aangespreek kan word en daaglikse skakeling met veediefstal-eenhede en speurders,” sê Buys.

Volgens haar is die hulplyn se gebruik nie beperk tot die afneem van A1-verklarings nie. “Dit het ook ten doel om die impak en omvang van veediefstal in die Vrystaat te bepaal, sodat doeltreffende misdaadvoorkomings-operasies geloods kan word. Die daarstel van volledige databasisse van sake kan gedoen word, sake kan opgevolg en gemonitor word deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die identifisering van misdaadsindikate of groeperinge kan gedoen word vir skakeling met die SAPD en NVG. Én om doeltreffende voorkomingsmaatreëls vir veeprodusente daar te stel om uiteindelik hul eiendom te beskerm.”

 

Kontakbesonderhede

Hulplyn-nommer: 086 199 9300. Dit is beskikbaar vanaf 08:00 – 13:00 (sewe dae per week). Die gebruik van die hulplyn word ook na-ure gemonitor.

WhatsApp-nommer om inligting na te stuur: 079 524 5040 (slegs vir WhatsApp). Indien hulplyn-nommer beset is, kan ’n landbouer ’n WhatsApp-boodskap met sy of haar kontakbesonderhede (naam, van, plaasnaam, tel nr en foto van brandmerk-sertifikaat) stuur.

Andersins kan ’n stemboodskap of e-pos met kontakbesonderhede gelos word. Die e-pos adres is Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

 

Klik hier om ’n ander storie oor die hulplyn te lees.


Nuwe tariewe vir VL-ledegeld beskikbaar

Nuwe ledegeld van Vrystaat Landbou (VL) is onlangs via die organisasie se strukture, soos byvoorbeeld sy landbouverenigings, deurgegee. Lede word versoek om hul betrokke landbouverenigings te kontak om dié tariewe, wat vir 2019/2020 se boekjaar geld, te bekom.

“Ons wil dankie sê vir ons lede se getroue ondersteuning,” sê Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van VL. “Ons pak alle nuwe uitdagings, waar ons ons lede op verskeie vlakke verteenwoordig, volstoom aan.”

Die aangepasde ledegeld is deur VL se bestuur goedgekeur.


VL beklemtoon wéér verskil tussen ’n landbou-organisasie en AfriForum

Agri SA en AfriForum word dikwels met mekaar verwar. Baie mense dink hulle vervul dieselfde rol en daar word ook dikwels dieselfde verwagtinge aan hulle gestel. Daar bestaan boonop ’n oorvleueling in die ledebasis van hierdie organisasies, wat maklik daartoe kan lei dat hulle as twee treine op dieselfde spoor gesien word. Dit is egter nie die geval nie.

Om duidelikheid hieroor te skep, publiseer Vrystaat Landbou (VL) wéér ’n artikel van meer as vier jaar gelede om die verskille onder sy lede se aandag te bring. Hierdié storie het in VL se Nuusflitse van Februarie 2015 verskyn en VL moedig sy lede aan om daarvan kennis te neem.

“Hiermee beklemtoon ons die feit dat ’n organisasie soos Vrystaat Landbou en ’n waghond-organisasie of burgerregte-organisasie verskillende rolle het,” sê Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van VL.

 

Dr Theo de Jager, voormalige vise-president van Agri SA, het destyds hierdie dokument saamgestel waar die verskille tussen AgriSA en AfriForum uitgewys word. 

AfriForum:

Agri SA

-Burgerregte-organisasie: Verdedig regte van individue en minderheidsgroepe teen wie onregmatig gediskrimineer word en veg vir toepassing van gelykheidsbeginsels – gelyke geleenthede, gelykheid voor die reg, en Vryheid binne die raamwerk van die grondwet.


-Waghondkarakter: Waaksaam oor regte en beginsels, moet kan grom en byt en reputasie  van afskrikwaarde hê. (Soos heelagter in rugbyspan-gekies op verdedigingsvermoë.)

-Fokus meestal op politieke- en sosiale regte.

 

-Doel: Slaan staat + ander instellings hard op

neus oor onbillike optrede of diskriminasie

teenoor individue of minderhede. Beskerm

slagoffers van magsoptrede, tree in die bresse

vir uitgelewerdes teen boelies.

 

-Reaktiewe aksieplan vir skending van regte.


-Konfronterende styl: Hoef nie vir beleidmaker/staat aanvaarbaar te wees. Kan verafsku word, sal nie kernbesigheid or suksessyfer beïnvloed.

 
-Wapentuig vir konfrontasie: protesaksie,

mediaveldtogte, hofsake, boikotte,

weerhouding van samewerking of bydrae, en

verset.

 

-Slagveld: hof, openbare domein, die media +

strate.

 

Belange-organisasie: Verskil van burgerregteorganisasie tov karakter, doelwitte, styl, strategie, wapens, slagveld. Grys gebied waar die twee soorte strukture oorvleuel oor funksies en fokuspunte. Geeneen van die eienskappe wat 2 van mekaar onderskei, is absoluut nie.

-Geleentheid soek karakter: Kan nie heeltyd

grom en byt, moet geleenthede kan soek en

voordeel vir lede beding. (Soos senter of

agtsteman-kry bal oor voordeellyn.)

 

-Fokus op ekonomiese, kommersiële belange.

 

-Doel: Beding voordeel vir lede. Aard van AgriSA is dit voordeel itv winsgewendheid en

volhoubaarheid van landbou. Moet staat en

ander instellings beïnvloed vir beleidsraamwerk

waarbinne landbou kan gedy.

 

-Tree pro-aktief op deur beleidsvorming te

beïnvloed tydens vormingsfase.

-Samewerkende styl:Moet oop deur by

beleidmaker/staat hê. Respekvolle verhouding

moet bestaan- bou dit nie deur deurlopende

konfrontasie nie. Oorreed besluitnemers om belange van lede tebevorder. AgriSA konteks: meestal druk op beleidmakers en beleidbeïnvloeders om wetenskaplik ingeligte besluite, eerder as ideologies geïnspireerde besluite, te neem.

 

-Wapentuig beperk tot 2 items: parate feite en

logiese geldige argumente. Moet diplomaties

wees, diskreet en eindelose geduld hê, vertoure

inboesem.

 

-Slagveld: raadsaal, onderhandelingstafel, ‘n

beraad, inklusiewe forums, vergaderings,

openbare konsultasies en verhore en

persoonlike afsprake.

 

Klik hier vir ’n tweede dokument wat uitbrei op die verskille.

Klik hier vir ’n skakel na die vorige Nuusflitse van Februarie 2015.


Landbouers moet beter kommunikasie en beheer op dié WhatsApp-groepe toepas

Vrystaat Landbou (VL) maan veiligheidskoördineerders van gebiedskantore (distriks-landbouverenigings) en landbouverenigings om beter kommunikasie en beheer op WhatsApp-groepe toe te pas. Dit het betrekking tot veiligheidskoördineerders wat administrateurs is van groepe waar onbevestigde inligting versprei word.

Só sê dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL. Volgens haar is kommunikasie binne veiligheidstrukture van kardinale belang. Dit sluit in die deurgee van bevestigde inligting om landbouers in te lig van ’n moontlike opkomende misdaadbedreiging, om hulle raad te gee oor hoe sulke bedreigings aangespreek kan word, te sensiteer en adviseer oor veiligheidsaspekte wat betref misdade. Dít vorm die essensie van die deurgee van inligting.

Buys sê reëls oor die funksionering van veiligheidsgroepe op WhatsApp kan weer op groepe versprei word. “Landbouers word ook versoek om seker te maak dat geen ongemagtigde persone toegang tot veiligheidsgroepe verkry nie,” sê sy.

Volgens haar het VL onlangs bewus geword van ’n moontlike bedrogspul waar ene “Kolonel Chauke” se naam voorkom met ’n versoek om op WhatsApp-groepe ingesluit te word. “Daar word dus spesifiek versoek dat, om sekerheid van groepe te behou, daar bevestiging sal wees dat die betrokke kontaknommer wel aan ’n persoon behoort voor hy sommer net lukraak tot ’n groep gevoeg word.”


Sogenaamde “polisiebeamptes” slaan weer in VS toe

Die sogenaamde “polisiebeamptes” wat landbouers bel oor hul gesteelde vee wat in ander provinsies teruggevind is, slaan wéér in die Vrystaat toe. Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), is die area wat onlangs geraak is, Verkeerdevlei.

VL het herhaaldelik in 2018 oor dieselfde bedrogspul in sy Nuusflitse verslag gedoen en maan landbouers om kennis te neem hiervan, om te voorkom dat hulle slagoffers hiervan word.

 

Klik hier vir meer inligting hieroor.


Tariewe van identifikasie-sertifikate vir diere verhoog in April

Die verhoogde tariewe van identifikasie-sertifikate vir diere tree op 1 April 2019 in werking. Die nuwe tariewe is op 22 Februarie 2019 deur Senzeni Zokwana, die minister van landbou, bosbou en vissery, in die Staatskoerant gepubliseer.

Die registrasie van ’n diere identifikasie-sertifikaat, ’n kopie daarvan, die oordrag van ’n registrasie sertifikaat tussen eienaars én registrasie as ’n brandmerk-operateur sal voortaan R150 kos.

Vrystaat Landbou se lede moet kennis neem hiervan en sorg dat hulle diere identifikasie-sertifikate besit en dat hul besonderhede en brandmerke korrek op sodanige sertifikate gereflekteer word.

 

Klik hier om die aankondiging in die Staatskoerant te sien.

Klik hier vir ’n aansoekvorm vir die oordra van registrasie van ’n identifikasie-merk.

Klik hier vir ’n aansoekvorm vir die heruitreik van ’n identifikasie-merk.

Klik hier vir die aansoekvorm vir die registrasie van ’n identifikasie-merk.


SAPD gee terugvoer oor PSIRA en reserviste

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het onlangs op nasionale vlak terugvoer gegee oor watter PSIRA (die reguleringsowerheid vir die private veiligheidsbedryf) geregistreerde plaaswagte as reserviste in die SAPD kan diens doen. Dit het gebeur tydens Agri SA se nasionale landelike veiligheidsvergadering.

Veiligheidsmaatskappye of wagte val onder Bheki Cele, Minister van Polisie, en het bepaalde regulasies waaraan hulle moet voldoen wat opleiding en graderings betref.

“Die SAPD se beleid maak geensins daarvoor voorsiening dat ’n persoon wat PSIRA geregistreer is, as ’n reservis in die SAPD in diens geneem mag word nie,” sê dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL). “Waar daar wel plaaswagte bestaan of landbouers wat deel vorm van ’n plaaswag, mag sodanige persone as reserviste in die SAPD in diens geneem word.”

Verder moet landbouers moet kennis neem dat daar nog poste vir reserviste in die Vrystaat beskikbaar is en dat werwing weer op 1 April 2019 begin.

Landbouers se aansoeke moet per hand aan of hul onderskeie SK’s of by die provinsiale werwingskantoor by die Metpol-gebou, Charlotte Maxeke straat in Bloemfontein ingehandig word. Navrae kan gerig word aan Lt.Kol. Tshesebe by 051 507 6407.


Onwettige jag met honde neem toe in VS

Die onwettige jag met honde op landbougrond in die Vrystaat blyk die laaste twee maande toe te neem. Só sê dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL).

Volgens haar word landbouers wie se lande langs treinspore geleë is, redelik geteiken.

“Landbouers word versoek om waar moontlik nie alleen op te tree teenoor ’n groep jagters met verskeie honde nie, omdat die oortreders dikwels vals klagtes rakende die rig van ’n vuurwapen teen die landbouer open en dit dan kan lei tot onregmatige arrestasies teenoor die landbouers deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens.”

Buys sê indien dit moontlik is, moet die Landelike-beveiligingsplan in werking gestel en hulp of bystand deur naburige landbouers verleen word om die situasie doeltreffend aan te spreek.

“Waar moontlik kan foto’s en video’s met selfone geneem word waar die soort betreding plaasvind wat as bewys in howe gebruik kan word.”