Nuusflitse – April 2019 - RPO, VL hou werkswinkel om veediefstal aan te spreek

RPO, VL hou werkswinkel om veediefstal aan te spreek

Die bekamping en voorkoming van veediefstal in die Vrystaat. Dit was op die agenda van ’n werkswinkel wat deur die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), in samewerking met Vrystaat Landbou (VL), in Bloemfontein gehou is.

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, is daar by die veediefstalvoorkoming-werkswinkel strategie formuleer vanuit die provinsiale veediefstalvoorkomings-forum van die RPO en uit landbougeledere om die misdaad saam met die kriminele regstelsel aan te spreek.

Die werkswinkel het op 10 en 11 April 2019 in die Rosestad by Peritum Agri Institute plaasgevind. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens en Nasionale vervolgingsgesag was ook as primêre rolspelers betrokke.

“Landbouers word weer eens versoek om seker te maak dat hulle oor brandmerk-sertifikate beskik, waarop hul geregistreerde brandmerke vanaf die Registrateur bekom is,” sê Buys. “Maak seker dat korrekte persoonlike besonderhede, veral kontakbesonderhede, reg op die diere identifikasiestelsel aangebring is.”

Navrae kan aan Carine Annandale van die RPO (079 529 5000) gerig word waar landbouers sukkel om sodanige sertifikate te bekom.

Volgens Buys moet landbouers ook poog om hul diere op ’n vroeë ouderdom te tatoeër en of/te brandmerk om bewys van eienaarskap te bevestig wanneer vee in geval van diefstal teruggevind is. “Daar word nog groot hoeveelhede vee (skape en beeste) in die Vrystaat gesteel vanaf produsente wat groot verliese teweeg bring,” sê sy.

Volgens haar sal ’n opsomming van die werkswinkel deurgegee word aan RPO en VL se veiligheidsverteenwoordigers. Versoeke vir opleidingswerkswinkels oor bogenoemde kan ook met Johann Stadler, Voorsitter van die Veediefstal-voorkomingsforum van die Vrystaatse RPO, opgeneem word.

 

Dié aspekte het onder meer by die werkswinkel aandag geniet:

  • Alle wetgewing oor die identifikasie en verwydering/verkoop van vee waaraan produsente gehoor moet gee
  • Stop en deursoeking van vee wat slegs gesetel is in die SAPD se werksaamhede
  • Wat is landbouers se pligte om die beweging van vee te monitor in landelike gebiede
  • Hoe veediefstal sake ondersoek word deur VDE speurders
  • Watter probleme ervaar aanklaers (NVG) rakende sake in howe en hoe lyk vonnisse in howe
  • Dienslewering deur KRS en impak/omvang van veediefstal in die Vrystaat
  • Die RPO VL veediefstal-hulplyn
  • Watter permitte en hoeveel word deur DAFF uitgereik aan Lesotho-burgers rakende oorgrens weiding
  • Die mandaat van die SANW en hoe oorgrens weiding en misdade aangespreek word saam met SAPD
  • Hoë misdaad areas wat betref oorgrens-misdade
  • Die rol van veediefstal-inligtinsentrums in die voorkoming/bekamping van veediefstal
  • Kameras, voorkomingsmaatreëls en ander tegnologiese hulpmiddels in die bekamping van veediefstal