Nuusflitse – April 2019


Soek geleenthede in SA, sê VL Jongboer-wenner

“Jongboere moet ophou Google oor moontlike geleenthede wat daar in die buiteland is. Google eerder oor watter geleenthede daar in Suid-Afrika is.” Só sê Herman Janse van Rensburg, Vrystaat Landbou (VL) se Jongboer van die Jaar vir 2019.

Die raakvatter van Arlington glo daarin om positief te wees en meen landbouers moet plaaslik geleenthede soek. Janse van Rensburg is op 17 April 2019 in Bloemfontein as VL se 24ste Jongboer-wenner aangewys en sal die Vrystaat by die Toyota Agri SA nasionale Jongboer van die Jaar kompetisie verteenwoordig.

Janse van Rensburg (39) se boodskap aan jong landbouers is: “Dink positief en hê hoop. Hoop is baie belangrik. Want as jy nie hoop het nie, is daar nie lewe nie.”

Die ander finaliste in 2019 was Milne Bredenkamp, Henk Harmse (albei van Bultfontein) en Ludwig Becker (Warden). Janse van Rensburg het met ’n VL-kontantprys, asook ander pryse van verskeie borge, weggestap.

Mielies en sonneblomme maak die grootste deel van Janse van Rensburg, wat ook met vee boer, se boerdery uit. Hy bedryf ook ’n besigheid, Arlington Staalwerke, waar hy implimente bou.

Hy was oorweldig oor dié eerbewys. “Om eerlik te wees, voel ’n mens eintlik baie nietig en klein (om só iets te ontvang),” sê hy. “Dis ’n groot voorreg.”

Hy meen dis egter belangrik om nederig te bly: “Ek kan net die Vader daar bo bedank, asook my pa wat my die geleentheid gegee het om te kan boer en te kon voortgaan.”

Afdelings waarop die finaliste beoordeel is, het onder meer hul toekomsbeeld, begroting en finansies, produksie, bemarking, instandhouding, personeelbestuur en gemeenskapsbetrokkendheid ingesluit.

Volgens prof Pieter Fourie, sameroeper van die beoordelaars en Hoof van die Department van Landbou by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, was dit ’n baie moeilike proses om die wenner te bepaal. “Die kandidate was naby aan mekaar en ons was verbaas om sulke goeie kandidate in ’n moeilike jaar (vir landbou) te hê.”

Janse van Rensburg meen jongboere is belangrik, omdat daar voortdurend vernuwing moet plaasvind om onder meer voedselsekuriteit te verseker. Hy glo aanpasbaarheid in alle afdelings is ook nodig.

“Daar is ’n groot toekoms vir elke landbouer in Suid-Afrika,” sê hy. “Die groot ding gaan daaroor om positief te wees.”


Buys: Kyk uit vir diewe tydens oestyd  

Mieliediefstal het die laaste tyd in die Vrystaat toegeneem en landbouers word gewaarsku om veral tydens strooptyd ekstra voorsorg te tref sodat hulle nie slagoffers daarvan word nie. Só sê dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL). Hierdie voorsorg geld ook vir ander graangewasse wat geoes word.

Volgens haar moet landbouers seker maak gestroopte mielies word nie onnodig oornag gestoor of byvoorbeeld in vragmotors op landerye gelos nie, aangesien dit dikwels gesteel word.

Sy raai hulle ook aan om hul vragte te weeg en seker te maak die regte hoeveelheid word by die silo afgelaai. Dit is ook belangrik om vervoerkontrakteurs en hul vragmotorbestuurders se werk na te gaan om seker te maak landbouers word nie ingedoen nie.

“Die diefstal van groenmielies is reeds in verskeie dele van die provinsie aangemeld,” sê Buys. “Dit is aangemeld by dorpe soos Allanridge, Bethlehem, Bothaville, Bultfontein, ClocoIan, Hobhouse, Ficksburg, Odendaalsrus, Virginia, Fouriesburg en Warden.”

Volgens haar veroorsaak diefstalle van byvoorbeeld vragte mielies of ander gewasse dat landbouers duisende rande se skade ly. Verder gebruik hulle ook veiligheidswagte en ander maatreëls om hul landerye te bewaak, wat hulle ekstra geld uit die sak jaag.


VKB samel rekordbedrag in uit industrie vir VL se veiligheid 

Die geld wat ingesamel is, is nie uit landbouers vir landbouers nie. Dit is uit die ondersteunende industrie ter wille van landbouers se veiligheid. So sê Koos Janse van Rensburg, Besturende Direkteur van die VKB-groep, oor die rekordbedrag wat op 11 April 2019 vir Vrystaat Landbou (VL) se veiligheid ingesamel het.

Volgens hom vat VKB, wat ook sy 100ste bestaansjaar vier, met sy Plaasveiligheid-gholfdag in Clarens “hande met sy verskaffers” om produsente te ondersteun.

“Dit is ’n groot voorreg om deel te wees hiervan,” sê Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van VL. “Maar wat nog groter is, is om die harte van die mense te sien vir veiligheid en georganiseerde landbou. Ons wil altyd daarop voortbou.”

Janse van Rensburg en sy span hou die laaste ses jaar die gholfdag waar hy geld vir die VKB VL Veiligheidslessenaar insamel en het ’n allemintinge R755 000 aan VL oorhandig. Dié VKB-bydrae is dus R 145 000 meer as in 2018. Altesaam 39 spanne het aan die gholfdag deelgeneem en meegeding om pryse ter waarde van sowat R90 000.

 

Funksie van lessenaar

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, het die VKB VL Veiligheidslessenaar ’n tweeledige doel. “Eerstens is dit om interne veiligheidstrukture op grondvlak te bemagtig en uit te brei om voorkomend misdaad en veiligheid aan te spreek,” sê sy. Die ander funksie is ekstern om skakeling met alle rolspelers, waarvan die Suid-Afrikaanse Polisiediens die hoofrolspeler is, binne die Landelike Beveiligingstrategie uit te brei.

Deur die lessenaar word daar onder meer gehelp om plaasaanvalle te voorkom, dit samel belangrike inligting in om misdaad te bekamp en opleidingsessies word aan VL se lede aangebied.

 

Afhanklik van landbouers

“Vrystaat Landbou is baie dankbaar dat ons hierdie goeie verhouding met VKB kan hê,” sê Kriel.

Volgens Janse van Rensburg is die gholfdag een wat VKB na aan die hart lê. “Ons voortbestaan is afhanklik van die produsente – ons landbouers in die gebiede wat ons bedien. En uit daardie oogpunt is hul veiligheid vir ons kardinaal belangrik. Sonder hulle het ons nie ’n industrie nie en sonder hulle het ons nie ’n besigheid nie.”

Hy het groot verskaffers, Total, Standard Bank, BCX en Nashua uitgesonder. Hulle het ’n reuse bydrae gemaak om ’n groot bedrag aan VL te oorhandig.

Oresti Christodoulou, Algemene Handelsbestuurder by Total Suid-Afrika, sê veiligheid is een van Total se belangrikste waardes. “Die veiligheid van landbouers is noodsaaklik om die volhoubaarheid van die bedryf te verseker. Daarom ondersteun ons alle inisiatiewe wat die veiligheid in hierdie land bevorder en ook die veiligheid van landbouers.”

Volgens Danie Retief, Streeks-lanboubestuurder in die Vrystaat en Noord-Kaap by Standard Bank, is voedselsekuriteit belangrik vir verbruikers en die Suid-Afrikaanse ekonomie. Daarom moet landbouers voedsel in ’n veilige omgewing kan produseer.

“Met dit in gedagte is dit vir Standard Bank van Suid-Afrika belangrik dat produsente in ’n veilige finansiële- en fisiese omgewing hulle bedryf beoefen en wil die bank ’n positiewe bydrae maak. Ons glo dat ’n land wat vir sy landbouers sorg, sorg vir sy toekoms.”


VL lewer insette oor paaie op nasionale vlak

Vrystaat Landbou (VL) het insette gelewer tot ’n brief wat aan die Departement van Paaie oorhandig is om padprobleme aan te spreek. Volgens Dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van VL, het Agri SA op 26 April 2019 met die Nasionale Departement van Vervoer vergader en het sy organisasie insette gemaak oor die sistemiese probleme wat aangespreek moet word.

Armour het gesê VL hou op 7 Mei 2019 ’n opvolgvergadering in sy provinsie met die Departement van Polisie, Paaie en Vervoer.

“Vrystaat Landbou besef die toenemende verslegtende toestand van ons provinsie se paaie na die onlangse goeie reën oor die hele provinsie,” het hy gesê. “Die departement van paaie begin met ’n nuwe begrotingsjaar en hopelik sal daar hernude aksie op die paaie wees.” 

Klik hier om Agri SA se brief te sien.

 

Waar paaie egter intussen dringend aandag nodig het en waarby die plaaslike paaiekantoor nie kan uitkom nie, kan padgebruikers wat gewillig is om iets daaraan te doen met die paaiekantoor reëlings tref vir ’n samewerkende projek. Dit word Letsema-projekte genoem.

Klik hier vir ’n kopie van die samewerking en vrywaringsvorms.

Klik hier vir ’n vorm vir eise wat gemaak kan word vir skade aan voertuie weens swak paaie.


Baanbrekersvergadering met Fidelity ADT gee landelike veiligheid hupstoot

’n Baanbrekersvergadering en ’n eerste stap om veiligheid en misdaad in landelike gebiede op ’n hoër vlak aan te spreek. Só het Jakkals le Roux, Voorsitter van die Landelike Veiligheidskomitee by Vrystaat Landbou (VL), ’n belangrike vergadering tussen georganiseerde landbou en Fidelity ADT beskryf.

Die doel van dié vergadering, tussen Fidelity ADT, VL, Agri Noord-Kaap, die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in die Vrystaat en Noord-Kaap én Agri SA, was om om aspekte wat groter veiligheid en bekamping van misdaad op die kommersiële landbousektor in die Vrystaat en Noord-Kaap te versterk. Die voorkoming van ernstige gewelds- en eiendomsverwante misdade vorm deel hiervan. Die vergadering het op 29 April 2019 by die Middelwater Plaas Hotel buite Bloemfontein plaasgevind.

Tommie Esterhuyse, Voorsitter van die Sentrum van Uitnemendheid: Landelike Veiligheid by Agri SA, het gesê die betrokkenheid en uitbreiding van Fidelity ADT se voetspoor in die landelike gebiede, in samewerking met landbouers, gaan in alle areas tot ’n “wen-wen situasie” lei. Esterhuyse is ook Vise-president van VL.

Fidelity ADT wil samewerking en vennootskappe in landbougemeenskappe in die twee provinsies uitbrei deur samewerking tussen bestaande plaaswagte en bestaande Fidelity ADT beheerkamers te bevorder. Wahl Bartmann, Hoof Uitvoerende Beampte van die Fidelity-dienstegroep, en sy span deskundiges het die vergadering bygewoon. Alle streeks-veiligheidsverteenwoordigers van VL, afgevaardigdes van Agri Noord-Kaap en die RPO was ook teenwoordig.

Die toename in veral eiendomsverwante misdade op landbougrond, waarvan veediefstal die grootste georganiseerde misdaad is, sal deur middel van groter tegnologiese hulpmiddels, verbeterde inligtingsvloei en groter toetrede van privaatsekuriteit aangespreek word.

Die integrering van kamerastelsels en inligting vanaf bestaande plaaswagte, die identifisering van hoë misdaadareas, asook die opleiding van die lede van landbouverenigings en gebiedskantore van georganiseerde landboustrukture is bespreek.

Volgens Le Roux is ’n taakspan saamgestel om maandeliks te vergader om die vordering met die implimentering, die vloei van inligting en aspekte om veiligheid en misdade te integreer met verbeterde tegnologiese hulpmiddels en behoeftebepalings te doen.

Al die aksies wat geloods is, word in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) binne die raamwerk van die hersiende Landelike-beveiligingstrategie, gedoen.

Een hiervan, wat binnekort begin word, is geïntegreerde vergaderings met alle plaaswagte, sekuriteitsmaatskappye en die SAPD wat in landelike gebiede en landbougemeenskappe betrokke is by veiligheid en misdaad in georganiseerde landbou se strukture.

Joe Scholtz en Johann Stadler, onderskeidelik van die RPO se Veediefstal-voorkomingsforums in Agri Noord-Kaap en die Vrystaat, is oortuig dié ooreenkoms gaan landbougemeenskappe bemagtig om hul diens, betrokkenheid en inskakeling te verbeter.

Die befondsing van Agri Securitas wat betref tegnologiese stelsels in landelike gebiede in hoë misdaad areas was ook ’n groot prioriteit by die vergadering.

“Hierdie is nie net ’n hande-vat aangeleentheid wat tot voordeel van landelike gemeenskappe is nie, maar beklemtoon die erns waarmee landelike misdaad aangespreek moet word,” het Esterhuyse gesê. “Die betrokkenheid van grondvlakstrukture, wat bydra tot die sukses in die voorkoming en bekamping van landelike misdaad, kan nie oorbeklemtoon word nie. Want veiligheid begin by jouself.”


Landbouers gemaan oor skiet van vee

Landbouers word gemaan om nie reg in eie hande te neem en diere wat langs openbare paaie wei te skiet nie. Só sê dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Lanbou (VL).

Volgens haar hou rondloper diere, veral beeste, ’n groot gevaar vir motoriste in wat tot ernstige ongelukke en selfs lewensverlies kan lei. “Indien sulke diere opgemerk word, moet dit onder die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se aandag gebring word, selfs al het die SAPD nie eintlik ’n funksie om daarmee te vervul nie,” sê sy.

Munisipale skutte is nie in plek om diere te skut nie en die eienaars van sulke diere is dan afwesig en moeilik opspoorbaar. Indien diere eiendom beskadig, kan daar kriminele klagtes by die SAPD gelê word en moontlike vergoedingsbevele deur die klaers bekom word.

“Waar landbouers diere skiet, kan hulle hulself skuldig maak aan kwaadwillige saakbeskadiging en die risiko loop om gearresteer en aangekla te word,” sê Buys.

Volgens haar sal weer gepoog word om druk op die Rooivleisprodusente-organisasie uit te oefen om die Nasionale Skutwet gefinaliseer te kry, asook om munisipaliteite sover te kry om skutte te promulgeer deur CoGTa, wat glo ook afwesig blyk te wees.


Twee plaasaanvalle in VS in April

Daar het gedurende April 2019 twee plaasaanvalle in die Vrystaat voorgekom. Dit is volgens die VKB Vrystaat Landbou (VL) Veiligheidslessenaar se inligting.

Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, sê die voorvalle het by Hoopstad, en die ander een tussen Frankfort en Villiers, in die provinsie plaasgevind.

“ ’n Plaasmoord het oor die Paasnaweek in Hoopstad voorgekom. In die voorval is ’n plaasvoorman én ’n aanvaller noodlottig gewond,” sê Buys. Die ander aanval, tussen Frankfort en Villiers, was op ’n produsent.

Volgens die VKB VL Veiligheidslessenaar se inligting het daar in dieselfde maand verlede jaar (April 2018) ook twee plaasaanvalle in die Vrystaat plaasgevind. Dit was in Hertzogville en Paul Roux (twee produsente is toe aangeval).


RPO, VL hou werkswinkel om veediefstal aan te spreek

Die bekamping en voorkoming van veediefstal in die Vrystaat. Dit was op die agenda van ’n werkswinkel wat deur die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), in samewerking met Vrystaat Landbou (VL), in Bloemfontein gehou is.

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, is daar by die veediefstalvoorkoming-werkswinkel strategie formuleer vanuit die provinsiale veediefstalvoorkomings-forum van die RPO en uit landbougeledere om die misdaad saam met die kriminele regstelsel aan te spreek.

Die werkswinkel het op 10 en 11 April 2019 in die Rosestad by Peritum Agri Institute plaasgevind. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens en Nasionale vervolgingsgesag was ook as primêre rolspelers betrokke.

“Landbouers word weer eens versoek om seker te maak dat hulle oor brandmerk-sertifikate beskik, waarop hul geregistreerde brandmerke vanaf die Registrateur bekom is,” sê Buys. “Maak seker dat korrekte persoonlike besonderhede, veral kontakbesonderhede, reg op die diere identifikasiestelsel aangebring is.”

Navrae kan aan Carine Annandale van die RPO (079 529 5000) gerig word waar landbouers sukkel om sodanige sertifikate te bekom.

Volgens Buys moet landbouers ook poog om hul diere op ’n vroeë ouderdom te tatoeër en of/te brandmerk om bewys van eienaarskap te bevestig wanneer vee in geval van diefstal teruggevind is. “Daar word nog groot hoeveelhede vee (skape en beeste) in die Vrystaat gesteel vanaf produsente wat groot verliese teweeg bring,” sê sy.

Volgens haar sal ’n opsomming van die werkswinkel deurgegee word aan RPO en VL se veiligheidsverteenwoordigers. Versoeke vir opleidingswerkswinkels oor bogenoemde kan ook met Johann Stadler, Voorsitter van die Veediefstal-voorkomingsforum van die Vrystaatse RPO, opgeneem word.

 

Dié aspekte het onder meer by die werkswinkel aandag geniet:


Dien inligting vir landbousensus elektronies in

Grondeienaars het ook die opsie om die vraelyste van die Sensus vir Kommersiële Landbou (CoCA) per e-pos in te vul en dus hoef beamptes van Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) nie op ’n plaas te kom nie. Só sê Dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou (VL).

Volgens hom is Stats SA weer vanaf 4 Maart 2019 besig om afsprake met landbouers te maak oor CoCA.

“Indien Statistiek SA nog nie by ’n landbouer uitgekom het nie, word hulle aangemoedig om die tolvrye nommer (080 021 2169) te skakel of ’n epos aan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. te stuur om aan die belangrike opname, van alle kommersiële landbouers, per e-pos deel te neem,” sê Armour.

Landbouers en grondeienaars word ook daarop gewys dat die protokol vir toegang tot plase, asook die Konfidensialiteit-klousule van die Statistiek Wet 6 van 1999, ten alle tye geld.

Vir vrae, meer inligting of klagtes, kontak Armour by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. of 071 672 0271. Of kontak Olvin Chakela, Stats SA se provinsiale koördineerder, by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. of 051 412 7517.


Verhoudings gebou om “tradisionele grond” te kommersialiseer

Goeie samewerkende verhoudings is gebou en kan in die toekoms geleenthede bied vir kommersiële landbouers om in produksievennootskappe met nuwe landbouers in te gaan wat wen-wen oplossings bied. Dit kan boonop onder ondersteuning en leiding van landboubesighede en kommoditeitsorganisasies geskied.

Só sê Dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou (VL), oor die betrokkenheid van VL by die aksies van die Patrice Motsepe Foundation. Volgens hom het VL die inisiëringsfase van die inisiatief in die Vrystaat gelei.

Die doel is om gepaste landboubesighede, kommoditeitsorganisasie lede en landboukonsultante te identifiseer wat kans sien om “volhoubare, markgerigte, kommersiële projekte in sekere gebiede, wat deur tradisionele leierskap bestuur word, aan te pak en hulle in kontak te bring met die tradisionele leiers”.

Die Patrice Motsepe Foundation, in samewerking met Agri SA, is besig met ’n inisiatief om grond wat voorheen deur tradisionele leierskap beheer is, te kommersialiseer deur kommersiële vennote daar betrokke te kry. Volgens Armour het Dr Partice Motsepe, ’n sakeman, die eerste vergadering in die Vrystaat hieroor op 16 November 2019 gelei om plaaslike tradisionele leiers aan die kommersiële landbousektor voor te stel.


Ekonomiese groei straks beter ná verkiesing

Die ekonoom dr Roelof Botha het onlangs ’n meer positiewe prentjie geskets oor die toekoms van Suid-Afrika ná die nasionale verkiesing op 8 Mei 2019. Hy het  positiewe ekonomiese groei vir die land voorspel as beleidsekerheid en sterk leierskap na vore kom ná die verkiesings.

Dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou (VL), het die geleentheid, waar Botha ’n spreker was, bygewoon en meen dit is goeie nuus in die lig van onder meer Eskom wat onlangs kragpryse verhoog het. Die funksie is op 4 April 2019 in Bloemfontein deur Old Mutual aangebied.

Eskom is deur Nersa, die energiereguleerder, toegelaat om kragpryse met 13.87% te lig. “Dit is darem heelwat laer as waarvoor Eskom aansoek gedoen het en waarteen Vrystaat Landbou ook onder meer beswaar gemaak het,” sê Armour. 

Klik hier vir ’n elektroniese weergawe van Eskom se tariefboek.

 

Verder het brandstofpryse ook op 1 Mei 2019 gestyg, maar landbouers kan steeds vir 80% dieselrabat eis. Dit is 332,8 sent per liter op 80 persent van die totale waarvoor in aanmerking gekom word.

Volgens Armour is die omslagtige boekhoustelsel vir die terugeis van diesel ongelukkig steeds in plek, maar werk Graan SA en Agri SA, saam met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, daaraan.


Só werk uitreik van rampverklarings

Die belangrikheid van verhoudings op plaaslike vlak en die vinnige aanmelding van ’n ramp aan die burgemeester of plaaslike rampbestuurder by die munisipaliteit. Dit is van die lesse wat Vrystaat Landbou (VL) onlangs geleer het oor die werkswyse om rampverklarings verklaar te kry.

Dit volg nadat onlangse goeie reën groot skade in die Rouxville-omgewing aangerig en vloede op 23 Maart 2019 verwoesting gesaai het. Volgens Dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van VL, kan die burgemeester of plaaslike rambestuurder in kennis gestel word deur plaaslike raadslede te kontak.

Armour sê met die Rouxville-ramp het die munisipale raad gesloer om die rampverklaring uit te reik. Sowat 44 damme is beskadig en baie publieke paaie en brûe is erg beskadig en ontoelaatbaar verspoel.

“Sonder die rampverklaring kan die Departement van Paaie nie hulle rampfondse beskikbaar stel nie, asook nie die Departement van Landbou om damme te help herstel nie,” het Armour gesê.

VL het toe die strukture van bo (wat die premier, LUR en hoof van rampe in die Vrystaat by COGTA insluit) van die ramp ingelig, maar met geen sukses nie. Hy moes toe die saak aan die Menseregtekommissie rapporteer om die plaaslike raad hopelik te dwing om te vergader dat ’n rampverklaring in die staatskoerant gepubliseer kan word en grondeienaars wat geraak word en rampverliese gely het die nodig bystand kan kry.