Nuusflitse – Mei 2019 - Waarskuwing: Sogenaamde “beamptes” weer aktief in VS

Waarskuwing: Sogenaamde “beamptes” weer aktief in VS

Die skelms wat hulself as beamptes van die Departement van Arbeid voordoen en landbouers indoen, is weer aktief in die Vrystaat. Volgens Gernie Botha, Regsadviseur van Vrystaat Landbou (VL), word VL se lede gewaarsku om nie slagoffers hiervan te word nie en eerder voorvalle by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aan te meld.

Landbouers word deur dié sogenaamde “beamptes” geintimideer om arbeidswetgewing-plakkate by hulle te koop. Hulle maak of hulle vir die departement werk en voer aan hulle is afgevaardig om dit te verkoop.

Die Departement van Arbeid het in Mei 2019 in ’n verklaring gewaarsku dat misdadigers in die Wesselsbron-area in die Vrystaat toegeslaan het en dat dit nie die eerste keer is wat sulke voorvalle voorkom nie. Soortgelyke insidente het in 2018 in Phillipolis, Edenburg, Jagersfontein, Fauresmith en Luckhoff plaasgevind. Daar was toe ook sulke aktiwiteite in dorpe soos Vrede, Steynsrus en Odendaalsrus.

“Daar was ’n versoek vanaf die departement dat indien gevalle voorkom waar hierdie persone hulself voordoen as werknemers van die Departement van Arbeid, sulke gevalle by die SAPD gerapporteer en die nodige sake geopen word,” sê Botha.

“Ons wil dit onomwonde duidelik stel dat die Departement van Arbeid onder geen omstandighede arbeidswetgewing-plakkate aan werkgewers sal verkoop nie. Enige werkgewer kan boonop hierdie inligting verniet van die Departement van Arbeid se webtuiste aflaai,” sê Emily Maneli, waarnemende hoof van die Departement van Arbeid in die Vrystaat.

 

Klik hier om die verklaring van die Departement van Arbeid te sien.