Nuusflitse – Mei 2019 - Toename in VS plaasaanvalle; werkers meer geteiken

Toename in VS plaasaanvalle; werkers meer geteiken

Daar was ’n toename in plaasaanvalle in die Vrystaat in die eerste deel van 2019, terwyl die meerderheid slagoffers plaaswerkers was. Dit is volgens die nuutste statistiek van die Vrystaat Landbou (VL) VKB Veiligheidslessenaar wanneer daar na plaasaanvalle vanaf 1 Januarie 2019 tot 28 Mei 2019 gekyk word.

Vanjaar het daar 23 plaasaanvalle, waarvan vyf moorde, in dié tydperk plaasgevind. Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, was die moordslagoffers ’n opkomende landbouer, winkeleienaar (moontlike opkomende landbouer), plaaswerker, ’n voorman én iemand wat op ’n plaas woon. “Vanuit die plaasaanvalle in die provinsie, was vyf op produsente gewees,” sê Buys. “Die meerderheid was werkers wat geteiken is.”

In dieselfde tydperk verlede jaar, was daar egter 14 plaasaanvalle, waarvan twee moorde was. In dié moorde, is ’n produsent en plaaswerker vermoor.

“Dit wil dus voorkom asof daar ’n toename in plaasaanvalle en moorde was wanneer ons die kalenderjaar van 2019 met dieselfde tydperk verlede jaar vergelyk,” sê Buys.

Soveel aanvalle voorkom

Volgens die VL VKB Veiligheidslessenaar is daar vanjaar, vanaf 1 Januarie 2019 tot 28 Mei 2019, reeds 10 plaasaanvalle in die Vrystaat voorkom. Dit was in clusters soos Zandela (drie), Mangaung (twee), Ficksburg (twee) en Welkom (drie).

“Die skakeling en kry van vooraf-inligting deur plaaswerkers en mense vanuit gemeenskappe wat info aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens deugee speel ’n kardinale rol in die voorkoming van aanvalle,” sê Buys.

 

Mei se plaasaanvalle

In Mei 2019 was daar drie plaasaanvalle in die Vrystaat. Dit was by Mafube en Tseki (QwaQwa), waar ’n produsent en plaaswerker slagoffers was. Die ander een was op ’n persoon wat op ’n plaas in Vredefort gewoon het.