Nuusflitse – Mei 2019 - Wees deel van demonstrasie-dag in Arlington

Wees deel van demonstrasie-dag in Arlington

“Kry ’n klomp mense bymekaar, klim in ’n bussie en maak dit ’n lekker dag. Dit is beslis die moeite werd om dit by te woon.” Só sê Waldo van Niekerk, Voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se Jongboer-komitee, oor ’n spesiale akkerbou-demonstrasie wat op 13 Junie 2019 in Arlington plaasvind.

Van Niekerk sien uit na die dag en het landbouers regoor die Vrystaat aangmoedig om dit by te woon. Volgens hom is een van die doele van die dag om deur praktiese demonstrasies te wys wat sekere tegnologie kan doen. Agri Arlington bied dit, in samewerking met VL se Jongboere, aan en dit sluit verskeie demonstrasies, saamkuier en braaivleis in. Daar sal onder meer stroper demonstrasies, balers, trekkers, spuite, planters, laaigrawe, asook verskeie bees- en skaaprasse, te sien wees.

“Op Nampo sien jy byvoorbeeld al die uitstallings (van tegnologie), trekkers en implemente. Die doel is om dit meer prakties te maak om te kan sien wat presies hierdie goed alles kan doen. Die maatskappye is uitgedaag om dit met demonstasies te wys,” sê Van Niekerk.

Die bekende landbou-ekonoom Prof Johan Willemse is ’n spreker en sal op sy unieke manier sy kennis oor landboumarkte deel. Herman Janse van Rensburg, VL se Jongboer van die Jaar vir 2019, is die organiseerder en sal teenwoordig wees.

Van Niekerk meen teen slegs R 100, sal landbouers beslis waarde vir geld kry. “Ek wil almal aanmoedig, nie net jongboere nie, om die dag by te woon. Dit is ’n groot projek. Nie net vir Agri Arlington nie, maar ook vir Vrystaat Landbou se Jongboere. Dit help ons met die pad vorentoe.”

  • Kaartjies is R 100 per persoon en sluit ete in. Vir meer inligting, kontak Herman Janse van Rensburg by 082 788 3324 of Piet Ferreira by 082 579 1303.

 

Van Niekerk en Willie Stols is onderskeidelik op 17 April 2019 by VL se Jongboer-konferensie as nuwe Voorsitter en Onder-voorsitter van VL se Jongboer-komitee aangewys.