Nuusflitse – Mei 2019 - Duisende vee in een maand gesteel; kalwers meer geteiken

Duisende vee in een maand gesteel; kalwers meer geteiken

’n Totaal van 101 sake, 1 139 stuks vee én 31 landbougemeenskappe wat geraak is. Dit is die omvang van die enorme impak wat veediefstal slegs in April 2019 in die Vrystaat gehad het.

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), bly veediefstal die grootste eiendomsverwante misdaad in die provinsie. Die statistiek van die VL VKB Veiligheidslessenaar toon dat altesaam 31 landbougemeenskappe veediefstal ondervind het en 101 veediefstal-sake op landbougrond in April 2019 aangemeld is.

Die meeste van dié voorvalle (5 of meer) het in Bethlehem (16), Bultfontein (6), Ficksburg (8), Heilbron (8), Koppies (5), Reitz (11) en Ventersburg (5) plaasgevind. Volgens Buys is 1 139 stuks vee in dié maand gesteel, waarvan 171 opgespoor is. Dus is 968 stuks vee steeds weg. Én boonop is hierdie slegs die voorvalle waarvan VL bewus is.

 

Jonger diere geteiken

Volgens Buys “wil dit voorkom asof jonger diere grotendeels in veediefstal-sake geteiken word”. Kalwers vanaf een maand oud tot en met kalwers wat 200 kg weeg word gesteel. “Produsente word versoek om die kalwers te brandmerk, sodat eienaars gevind kan word wanneer diere opgespoor word,” sê sy.

Verder word produsente wéér daarop gelet om hul selfoonnommers en adresse met die Registrateur van Brandmerke op te volg om seker te maak hul besonderhede is reg op die stelsel of databasis. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens, en veral VDE, wat toegang tot dié databasis het, ervaar probleme om produsente te kontak wanneer gesteelde vee teruggevind word. 

 

Sogenaamde “polisiebeamptes” slaan weer toe

Die sogenaamde “polisiebeamptes” wat landbouers bel oor hul gesteelde vee wat teruggevind is en hulle geld wil laat betaal vir die vervoer daarvan, het weer toegeslaan. Dit het in Vierfontein en Zastron gebeur.

Volgens Buys word landbouers wéér versoek om geensins gelde oor te betaal wanneer sogenaamde versoeke gerig word nie. Die persone blyk baie geloofwaardig te wees.

VL het herhaaldelik in 2018 en 2019 oor dieselfde bedrogspul in sy Nuusflitse verslag gedoen en maan landbouers om kennis te neem hiervan, om te voorkom dat hulle slagoffers word.