Nuusflitse – Mei 2019 - VL lewer insette om swak selfoonsein op nasionale vlak aan te spreek

VL lewer insette om swak selfoonsein op nasionale vlak aan te spreek

Swak en verswakkende selfoonsein in landelike gebiede is krities om ramp- en veiligheids-kommunikasie in krisistye te kan voer én dit belemmer die doen van besigheid. Dit is volgens Dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou (VL), sy organisasie se boodskap aan Agri SA se Ekonomiese Sentrum van Uitmuntendheid.

Dié sentrum het insette van provinsies gekry en sal op nasionale vlak druk, deur skrywes én vergaderings oor seinprobleme in die platteland, op selfoonmaatskappye plaas.

Armour sê VL het reeds op provinsiale vlak die probleem met die vier hoof selfoonverskaffers opgeneem. “Soos wat selfoonmaatskappye hul dienste uitbrei, van 3G na 4G ens, maak dit die uitbreiding van toestelle soos veiligheidskameras en ander, wat ook meer data gebruik, makliker. Wanneer sein dus swak is, omdat selfoonmaatskappye nie kan bybly met die oprig van torings nie, beteken dit dat landbouers negatief geraak word,” sê hy. “Die diefstal van veral batterye en infrastruktuur in afgeleë gebiede belemmer ook sein betroubaarheid.”

Volgens Armour sal die druk wat Agri SA op nasionale vlak op selfoonmaatskappye sit, hopelik tot antwoorde en oplossings lei.

 

Klik hier vir ’n brief wat Agri SA aan Vodacom geskryf het.

Klik hier vir ’n storie oor hoe VL selfoonprobleme in die Vrystaat aanspreek.