Nuusflitse – Mei 2019 - VL vergader met regering oor swak paaie

VL vergader met regering oor swak paaie

“Ons terugvoer van die hoof pad-superintendent en hoof van spesiale projekte was die besef en hoop dat die pad-situasie ná die verkiesing heelwat moet verander.” Só het Dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou (VL), gesê nadat dringende padprobleme ná die goeie reën in die Vrystaat met die Departement van Paaie op 7 Mei 2019 bespreek is.  

Volgens hom wys die Road Asset Management System (RAMS) die behoefte uit van R20 biljoen en hiervoor word begroot, maar dan kry dié department slegs R1.1 biljoen. “Die realiteit is weer uitgewys dat dit waarvoor begroot is (R20 miljoen vir 20 km hergruis per distrik) heeltemal te min is om ooit by al die grondpaaie (22 000 km se gruispaaie) uit te kom. Dit sal ook nie die lewensduur van die paaie help nie,” sê hy. “Dieselfde geld vir die begroting en instandhouding van teerpaaie.”

Francois Wilken, President van VL, het op sy beurt gesê daar sal dringend met die nuwe LUR’e van die Departement van Landbou, asook die Departement van Polisie, Paaie en Vervoer, vergader word sodra hulle aangewys word. Dan sal die probleme in die Vrystaat, wat ook deel vorm van ’n brief wat Agri SA op 26 April 2019 aan die Nasionale Departement van Vervoer oorhandig en bespreek het, ook verder aangespreek word.