Nuusflitse – Mei 2019


Skryf vroeg in en kry korting vir jaarkongres

Die fokus sal weer vanjaar by Vrystaat Landbou (VL) se jaarkongres op sy lede val. Verlede jaar was die tema Terug na ons lede en vanjaar is dit Wat is my rol as lid van Vrystaat Landbou?

VL wil graag sy lede aanmoedig om vroegtydig vir die jaarkongres, aandfunksie en damesprogram in te skryf. Diegene wat teen 4 Julie 2019 registreer, kan boonop spesiale korting op registrasiefooie kry. Die finale sperdatum vir inskrywings, teen die gewone tarief, is 25 Julie 2019. Sien die dokumente aangeheg vir meer inligting.

Die jaarkongres vind op 7 en 8 Augustus 2019 by Monte Bello Estate, die aandfunksie op 7 Augustus 2019 by Leopards & Lace en die damesprogram op 8 Augustus 2019 by Urth in Bloemfontein plaas. Die oproep vir die kongres, aandfunksie en damesprogram is reeds op 7 Mei 2019 aan alle landbouverenigings en VL strukture gestuur.

Beskrywingspunte en landbouvereniging van jaar

Beskrywings- of besprekingspunte vir die jaarkongres, wat via die landbouvereniging voorgelê word, moet VL se kantoor teen 27 Junie 2019 bereik. Die kongres se agendakomitee vergader in die tweede week van Julie 2019 en sal dan die verskillende punte oorweeg, waarna die kongresprogram aan afgevaardigdes en affiliasies gestuur sal word. Sien die oproep hieronder vir meer inligting.

VL moedig ook sy landbouverenigings aan om in te skryf vir die Landbouvereniging van die Jaar kompetisie. Hierdie gesogte eerbewys word aan die landbouvereniging toegeken wat uitsonderlik funksioneer. Die sluitingsdatum vir inskrywings is 3 Julie 2019. Agri Hertzogville is in 2018 as Landbouvereniging van die Jaar aangewys.

 

Damesprogram

VL sal oudergewoonte ’n heerlike damesprogram 8 Augustus 2019 in die Rosestad aanbied. Dit beloof om ’n ontspanne oggend vol verrassings en opwinding te wees. Die gasspreker is die bekende aktrise, regisseur en TV-aanbieder Lizz Meiring.

 

Belangrike sperdatums:

  • Beskrywingspunte vir jaarkongres: 27 Junie 2019
  • Inskrywings vir Landbouvereniging van die Jaar: 3 Julie 2019
  • Korting/afslag op registrasie vir jaarkonges, aandfunksie en damesprogram: 4 Julie 2019 (Jaarkongres: R450 per persoon teen 4 Julie 2019, gewone prys R550; Aandfunksie: R300 per persoon teen 4 Julie 2019, gewone prys R400; Damesprogram: R250 per persoon teen 4 Julie 2019; gewone prys R300)
  • Registrasie vir jaarkonges, aandfunksie en damesprogram: 25 Julie 2019

 

Klik hier vir die oproep na VL se jaarkongres van 2019.

Klik hier vir ’n inskrywingsvorm vir die jaarkongres, aandfunksie en damesprogram, asook die indien van beskrywingspunte.

Klik hier vir ’n inskrywingsvorm vir Landbouvereniging van die Jaar.

 

Vir meer inligting oor registrasie van die kongres, aandfunksie en damesprogram, afgevaardigdes, Landbouvereniging van die Jaar en ledegelde kontak Cynthia Troost, Ledebeampte by VL, by 051 444 4609 of 082 454 4024 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Vir algemene inligting oor kongresreëlings, borgskappe en uitstallings, kontak Elana Bester, Kommunikasiebeampte van VL, by 051 444 4609 of 083 483 1859 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.


VL eis sterk optrede van wetstoepassers oor miltsiekte

“Vrystaat Landbou (VL) spreek ernstige kommer uit oor die uitbreek van miltsiekte in Lesotho. Dit kan katastrofiese gevolge vir die vleisbedryf in die provinsie inhou.” Só sê Francois Wilken, President van VL, nadat ’n uitbreking van dié siekte naby Maseru in Lesotho bevestig is.

Volgens hom het VL oor ’n tydperk van 15 jaar die regering in en uit die hof van die gevare by die Lesotho-grens probeer bewus maak. “Dit het telkens op niks uitgeloop nie en het die owerhede weggestap van hul verantwoordelikhede om hul burgers te beskerm in situasies soos dié wat nou ontstaan.” Hy meen die owerhede het herhaaldelik opdragte wat deur die hof aan hulle opgelê is verontagsaam en sodoende het die finansiële las vir VL te veel geword om in die howe daarmee voort te gaan.

“Ons eis saam met ander rolspelers in die bedryf sterk optrede en verantwoordelikheid van die Departement van Landbou en wetstoepassers om die dreigende krisis met die nodige erns aan te spreek,” sê Wilken.

Deur slegs ’n verbod op invoer van vee en wol te plaas, sal nie die probleem aanspreek nie. “Groot probleme by dié grens is veediefstal en onwettige weiding van vee vanuit Lesotho. Dit moet gesamentlik deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, die Suid-Afrikaanse Polisiediens en veeartse wat onder die Departement van Landbou resorteer aangespreek word deur die nodige skutte in plek te stel. Die meeste vee kom onwettig oor die grens en nie by wettige toegangsroetes of grensposte nie.”

’n Verdere bron van kommer vir VL is die toenemende gevalle van plaasaanvalle deur Lesotho-burgers op landbouers in die Vrystaat, en selfs sover as die Wes-Kaap. Volgens Wilken sal VL so spoedig moontlik dié situasie met die nodige owerheidsinstellings opneem. “Ons doen ’n beroep op ons lede om alle relevante inligting aan VL se kantoor deur te gee, sodat ’n doelgerigte aksie geloods kan word.”


Wees deel van demonstrasie-dag in Arlington

“Kry ’n klomp mense bymekaar, klim in ’n bussie en maak dit ’n lekker dag. Dit is beslis die moeite werd om dit by te woon.” Só sê Waldo van Niekerk, Voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se Jongboer-komitee, oor ’n spesiale akkerbou-demonstrasie wat op 13 Junie 2019 in Arlington plaasvind.

Van Niekerk sien uit na die dag en het landbouers regoor die Vrystaat aangmoedig om dit by te woon. Volgens hom is een van die doele van die dag om deur praktiese demonstrasies te wys wat sekere tegnologie kan doen. Agri Arlington bied dit, in samewerking met VL se Jongboere, aan en dit sluit verskeie demonstrasies, saamkuier en braaivleis in. Daar sal onder meer stroper demonstrasies, balers, trekkers, spuite, planters, laaigrawe, asook verskeie bees- en skaaprasse, te sien wees.

“Op Nampo sien jy byvoorbeeld al die uitstallings (van tegnologie), trekkers en implemente. Die doel is om dit meer prakties te maak om te kan sien wat presies hierdie goed alles kan doen. Die maatskappye is uitgedaag om dit met demonstasies te wys,” sê Van Niekerk.

Die bekende landbou-ekonoom Prof Johan Willemse is ’n spreker en sal op sy unieke manier sy kennis oor landboumarkte deel. Herman Janse van Rensburg, VL se Jongboer van die Jaar vir 2019, is die organiseerder en sal teenwoordig wees.

Van Niekerk meen teen slegs R 100, sal landbouers beslis waarde vir geld kry. “Ek wil almal aanmoedig, nie net jongboere nie, om die dag by te woon. Dit is ’n groot projek. Nie net vir Agri Arlington nie, maar ook vir Vrystaat Landbou se Jongboere. Dit help ons met die pad vorentoe.”

  • Kaartjies is R 100 per persoon en sluit ete in. Vir meer inligting, kontak Herman Janse van Rensburg by 082 788 3324 of Piet Ferreira by 082 579 1303.

 

Van Niekerk en Willie Stols is onderskeidelik op 17 April 2019 by VL se Jongboer-konferensie as nuwe Voorsitter en Onder-voorsitter van VL se Jongboer-komitee aangewys.


Duisende vee in een maand gesteel; kalwers meer geteiken

’n Totaal van 101 sake, 1 139 stuks vee én 31 landbougemeenskappe wat geraak is. Dit is die omvang van die enorme impak wat veediefstal slegs in April 2019 in die Vrystaat gehad het.

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), bly veediefstal die grootste eiendomsverwante misdaad in die provinsie. Die statistiek van die VL VKB Veiligheidslessenaar toon dat altesaam 31 landbougemeenskappe veediefstal ondervind het en 101 veediefstal-sake op landbougrond in April 2019 aangemeld is.

Die meeste van dié voorvalle (5 of meer) het in Bethlehem (16), Bultfontein (6), Ficksburg (8), Heilbron (8), Koppies (5), Reitz (11) en Ventersburg (5) plaasgevind. Volgens Buys is 1 139 stuks vee in dié maand gesteel, waarvan 171 opgespoor is. Dus is 968 stuks vee steeds weg. Én boonop is hierdie slegs die voorvalle waarvan VL bewus is.

 

Jonger diere geteiken

Volgens Buys “wil dit voorkom asof jonger diere grotendeels in veediefstal-sake geteiken word”. Kalwers vanaf een maand oud tot en met kalwers wat 200 kg weeg word gesteel. “Produsente word versoek om die kalwers te brandmerk, sodat eienaars gevind kan word wanneer diere opgespoor word,” sê sy.

Verder word produsente wéér daarop gelet om hul selfoonnommers en adresse met die Registrateur van Brandmerke op te volg om seker te maak hul besonderhede is reg op die stelsel of databasis. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens, en veral VDE, wat toegang tot dié databasis het, ervaar probleme om produsente te kontak wanneer gesteelde vee teruggevind word. 

 

Sogenaamde “polisiebeamptes” slaan weer toe

Die sogenaamde “polisiebeamptes” wat landbouers bel oor hul gesteelde vee wat teruggevind is en hulle geld wil laat betaal vir die vervoer daarvan, het weer toegeslaan. Dit het in Vierfontein en Zastron gebeur.

Volgens Buys word landbouers wéér versoek om geensins gelde oor te betaal wanneer sogenaamde versoeke gerig word nie. Die persone blyk baie geloofwaardig te wees.

VL het herhaaldelik in 2018 en 2019 oor dieselfde bedrogspul in sy Nuusflitse verslag gedoen en maan landbouers om kennis te neem hiervan, om te voorkom dat hulle slagoffers word.


Armour: Landbouers moet in Junie insette tot GOP lewer

Landbouers moet in Junie 2019 spesifieke insette, soos oor die opgradering van landelike paaie, instandhouding en netheid van landelike dorpe, by hul munisipaliteite maak. Volgens Dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou (VL), is Junie die maand vir die finalisering en afteken van munisipale geïntegreerde ontwikkelingsplanne (GOP’s of IDP’s) en moedig hy landbouers aan om hul saak te stel.

“Kwessies van besoedeling van asgate en watersuiweringsaanlegte se impakte op landbou moet ook opgeneem word in die GOP’s,” sê Armour. Volgens hom behoort landbouforums, wat bestaan uit een verteenwoordiger uit elke landbouvereniging in ’n munisipale gebied, met die plaaslike munisipaliteit te vergader en amptelike insette te lewer. Die verteenwoordiger doen dit gewoonlik onder leiding van ’n streekverteenwoordiger.

Armour en Gernie Botha, Regsadviseur van VL, het byvoorbeeld vir Kempen Nel, die Letsemeng-streekverteenwoordiger, bygestaan en die Letsemeng-landbouforum verteenwoordig. Dit is gedoen saam met Chris Nel en Pieter Havenga van Koffiefontein en Gert Labuschagné van die Petrusburg-landbouvereniging om insette tot hul GOP en voorlopige begroting te maak.


Fidelity ADT: Behoeftebepalings word gedoen

Landbouverenigings, gebiedskantore en distrikslandbou-unies sal ’n behoeftebepaling doen van hul gebiede om veiligheid en misdaad voorkomend aan te spreek. ’n Riglyn hiervoor sal deur Vrystaat Landbou (VL) deurgestuur word om hulle te help om dit saam te stel. Só sê dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, nadat die ooreenkoms tussen VL en Fidelity ADT, wat in April van stapel gestuur is, verder bespreek is.

“Alle aansoeke vir kamerastelsels vanaf die landbouverenigings/DAUs moet deur VL se Veiligheidskomitee na Fidelity ADT gestuur word,” sê sy. Dit volg nadat VL en Fidelity ADT weer op 29 Mei 2019 vergader het.

’n Eerste vergadering het op 29 April 2019 tussen Fidelity ADT, VL, Agri Noord-Kaap, die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in die Vrystaat en Noord-Kaap én Agri SA plaasgevind om aspekte wat groter veiligheid en bekamping van misdaad op die kommersiële landbousektor in die Vrystaat en Noord-Kaap te versterk.

Volgens Buys moet aansoeke vir AgriSecuritas boonop ook deur VL se Veiligheidskomitee deurgestuur word en Fidelity ADT moet een van die drie kwotasies voorsien.

“’n Taakspan bestaande uit twee verteenwoordigers van Fidelity ADT, lede van VL se Veiligheidskomitee en die RPO is saamgestel om alle aspekte rakende verbeterde samewerking te koördineer,” sê sy.

Daar is ook besluit dat al 22 plaaswagte, wat as privaatsekuriteit onder landbouverenigings/DAUs resorteer en betaling ontvang eerste ’n behoeftebepaling deurstuur, asook waar daar versoeke is om plaaswagte uit te brei en moontlik aan Fidelity ADT te koppel.

Buys sê VL se Veiligheidskomitee en Fidelity ADT sal plaaswagte besoek om met hul te gesels en ’n gedetaileerde oudit sal gedoen word om behoeftebepalings aan te spreek.

“Individuele landbouers kan dan vir sulke produkte, alarms, kameras ens met Fidelity ADT in verbinding tree. Daar is verskeie veiligheidstoepassings of apps deur Fidelity beskikbaar gestel wat aan ’n selfoon en alarm gekoppel kan word.”

VL se Veiligheidskomitee sal ook binnekort ’n opsomming deurstuur van veiligheidsprodukte wat deur Fidelity ADT vir landbougemeenskappe beskikbaar gestel word teen baie bekostigbare pryse. 

’n Fidelity-hulplyn is ook gestig. Dit word 24 uur per dag beman en kan gekontak word by 083 256 8329 waar individuele landbouers hul versoeke vir alarms, kameras, ens kan deurgee.

Individuele versoeke vir veiligheidsprodukte kan ook gerig word by 011 766 6043 en Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. (e-pos).


Lede gemaan om besonderhede op VL databasis te bevestig

Vrystaat Landbou (VL) is besig om sy databasis van lede op te dateer. Hy moedig daarom sy lede aan om hul besonderhede, wat kontaknommers, e-pos adresse en algemene inligting insluit, te verifieer.

Lede se besonderhede, wat slegs vir kantoorgebruik is, word dikwels verander sonder dat VL se kantoor daarvan bewus is. Die doel van die proses is om seker te maak die organisasie het die regte kontakbesonderhede van sy lede.

’n Skrywe is op 28 Maart 2019 aan VL se landbouverenigings gestuur om die proses aan die gang te sit en die inligting aan lede te stuur. Die sperdatum vir die indien van die korrekte inligting is 28 Junie 2019.

 

Klik hier vir ’n dokument om jou inligting op VL se databasis te bevestig. 

Vir meer inligting en om die dokument in te dien, kontak Cynthia Troost, Ledebeampte by VL, by 051 444 4609 of 082 454 4024 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.


VL lewer insette om swak selfoonsein op nasionale vlak aan te spreek

Swak en verswakkende selfoonsein in landelike gebiede is krities om ramp- en veiligheids-kommunikasie in krisistye te kan voer én dit belemmer die doen van besigheid. Dit is volgens Dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou (VL), sy organisasie se boodskap aan Agri SA se Ekonomiese Sentrum van Uitmuntendheid.

Dié sentrum het insette van provinsies gekry en sal op nasionale vlak druk, deur skrywes én vergaderings oor seinprobleme in die platteland, op selfoonmaatskappye plaas.

Armour sê VL het reeds op provinsiale vlak die probleem met die vier hoof selfoonverskaffers opgeneem. “Soos wat selfoonmaatskappye hul dienste uitbrei, van 3G na 4G ens, maak dit die uitbreiding van toestelle soos veiligheidskameras en ander, wat ook meer data gebruik, makliker. Wanneer sein dus swak is, omdat selfoonmaatskappye nie kan bybly met die oprig van torings nie, beteken dit dat landbouers negatief geraak word,” sê hy. “Die diefstal van veral batterye en infrastruktuur in afgeleë gebiede belemmer ook sein betroubaarheid.”

Volgens Armour sal die druk wat Agri SA op nasionale vlak op selfoonmaatskappye sit, hopelik tot antwoorde en oplossings lei.

 

Klik hier vir ’n brief wat Agri SA aan Vodacom geskryf het.

Klik hier vir ’n storie oor hoe VL selfoonprobleme in die Vrystaat aanspreek.


VL vergader met regering oor swak paaie

“Ons terugvoer van die hoof pad-superintendent en hoof van spesiale projekte was die besef en hoop dat die pad-situasie ná die verkiesing heelwat moet verander.” Só het Dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou (VL), gesê nadat dringende padprobleme ná die goeie reën in die Vrystaat met die Departement van Paaie op 7 Mei 2019 bespreek is.  

Volgens hom wys die Road Asset Management System (RAMS) die behoefte uit van R20 biljoen en hiervoor word begroot, maar dan kry dié department slegs R1.1 biljoen. “Die realiteit is weer uitgewys dat dit waarvoor begroot is (R20 miljoen vir 20 km hergruis per distrik) heeltemal te min is om ooit by al die grondpaaie (22 000 km se gruispaaie) uit te kom. Dit sal ook nie die lewensduur van die paaie help nie,” sê hy. “Dieselfde geld vir die begroting en instandhouding van teerpaaie.”

Francois Wilken, President van VL, het op sy beurt gesê daar sal dringend met die nuwe LUR’e van die Departement van Landbou, asook die Departement van Polisie, Paaie en Vervoer, vergader word sodra hulle aangewys word. Dan sal die probleme in die Vrystaat, wat ook deel vorm van ’n brief wat Agri SA op 26 April 2019 aan die Nasionale Departement van Vervoer oorhandig en bespreek het, ook verder aangespreek word.


VL in gesprek om dié agentskap in VS te koördineer

Dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou (VL), is in gesprek met Malcolm Ferguson, sameroeper van die nie-regerings Nasionale Ontwikkelingsagentskap, om ’n been daarvan in die Vrystaat of Vrystaat Ontwikkelingslessenaar in die provinsie te koördineer.

Dit volg nadat Armour tydens Nampo buite Bothaville die Nasie in Gesprek geleentheid oor finansiering van grondhervorming en landelike ontwikkeling bygewoon het. Die idee van ’n nie-regerings Nasionale Ontwikkelingsagentskap is in diepte bespreek met moontlike befondsing deur banke en besighede.

Volgens Armour bied Landbank se “Blended Financing” produk geleenthede vir grondhervorming. “Met hierdie nuwe manier van finansiering (en heel waarskynlik die befondsingsmodel van grondhervorming in die toekoms) kry nuwe voorheen benadeelde grondkopers (insluitend plaaswerker trusts) ’n skenking van die Departement van Grondsake en Landbou van tot 50% op die lening waarvoor aansoek gedoen word. Die grondhoudende entiteit moet meer as 60% swart eienaarskap hê. Dit bied die geleentheid vir huidige grondeienaars om van hulle eie grond te verkoop en fondse in die boerdery te herkapitaliseer of naburige grond by te koop om hulle plaaswerkers te bemagtig of om goeie nuwe opkomende boere in die gebied op meent- of staatsgrond te help hul eie grond bekom,” sê hy.” “Hierdie uitbreiding is ’n 50/50 wen-situasie. Dit beteken ’n wen-produksie vennootskap.”

  • Kontak Armour by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. of 071 672 0271 om 'n aanbieding oor Black Producers Commercialisation Programme Blended Finance Facility (“BPCP BF”) te bekom.

 

’n Brugbouers-grondberaad is op 20 en 21 Mei 2019 in Middelburg deur Armour bygewoon waar geleenthede vir die koppeling van landboustudente aan praktiese ondervinding interaktief by die werkswinkel bespreek is. Wessel Bibbey, ’n lid van VL wat grond in Frankfort en Middleburg het, het gepraat oor hoe hy gekom het om tot drie studente op ’n slag praktiese landbou-ondervindingsgeleenthede te bied. Bibbey is ook gekoppel aan die Amos AgriMin Good Foundations for Good Fruits (Willows GF4GF) centre op Tweeling. Vir meer inligting, besoek www.landsummit.co.za


Waarskuwing: Sogenaamde “beamptes” weer aktief in VS

Die skelms wat hulself as beamptes van die Departement van Arbeid voordoen en landbouers indoen, is weer aktief in die Vrystaat. Volgens Gernie Botha, Regsadviseur van Vrystaat Landbou (VL), word VL se lede gewaarsku om nie slagoffers hiervan te word nie en eerder voorvalle by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aan te meld.

Landbouers word deur dié sogenaamde “beamptes” geintimideer om arbeidswetgewing-plakkate by hulle te koop. Hulle maak of hulle vir die departement werk en voer aan hulle is afgevaardig om dit te verkoop.

Die Departement van Arbeid het in Mei 2019 in ’n verklaring gewaarsku dat misdadigers in die Wesselsbron-area in die Vrystaat toegeslaan het en dat dit nie die eerste keer is wat sulke voorvalle voorkom nie. Soortgelyke insidente het in 2018 in Phillipolis, Edenburg, Jagersfontein, Fauresmith en Luckhoff plaasgevind. Daar was toe ook sulke aktiwiteite in dorpe soos Vrede, Steynsrus en Odendaalsrus.

“Daar was ’n versoek vanaf die departement dat indien gevalle voorkom waar hierdie persone hulself voordoen as werknemers van die Departement van Arbeid, sulke gevalle by die SAPD gerapporteer en die nodige sake geopen word,” sê Botha.

“Ons wil dit onomwonde duidelik stel dat die Departement van Arbeid onder geen omstandighede arbeidswetgewing-plakkate aan werkgewers sal verkoop nie. Enige werkgewer kan boonop hierdie inligting verniet van die Departement van Arbeid se webtuiste aflaai,” sê Emily Maneli, waarnemende hoof van die Departement van Arbeid in die Vrystaat.

 

Klik hier om die verklaring van die Departement van Arbeid te sien.


Toename in VS plaasaanvalle; werkers meer geteiken

Daar was ’n toename in plaasaanvalle in die Vrystaat in die eerste deel van 2019, terwyl die meerderheid slagoffers plaaswerkers was. Dit is volgens die nuutste statistiek van die Vrystaat Landbou (VL) VKB Veiligheidslessenaar wanneer daar na plaasaanvalle vanaf 1 Januarie 2019 tot 28 Mei 2019 gekyk word.

Vanjaar het daar 23 plaasaanvalle, waarvan vyf moorde, in dié tydperk plaasgevind. Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, was die moordslagoffers ’n opkomende landbouer, winkeleienaar (moontlike opkomende landbouer), plaaswerker, ’n voorman én iemand wat op ’n plaas woon. “Vanuit die plaasaanvalle in die provinsie, was vyf op produsente gewees,” sê Buys. “Die meerderheid was werkers wat geteiken is.”

In dieselfde tydperk verlede jaar, was daar egter 14 plaasaanvalle, waarvan twee moorde was. In dié moorde, is ’n produsent en plaaswerker vermoor.

“Dit wil dus voorkom asof daar ’n toename in plaasaanvalle en moorde was wanneer ons die kalenderjaar van 2019 met dieselfde tydperk verlede jaar vergelyk,” sê Buys.

Soveel aanvalle voorkom

Volgens die VL VKB Veiligheidslessenaar is daar vanjaar, vanaf 1 Januarie 2019 tot 28 Mei 2019, reeds 10 plaasaanvalle in die Vrystaat voorkom. Dit was in clusters soos Zandela (drie), Mangaung (twee), Ficksburg (twee) en Welkom (drie).

“Die skakeling en kry van vooraf-inligting deur plaaswerkers en mense vanuit gemeenskappe wat info aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens deugee speel ’n kardinale rol in die voorkoming van aanvalle,” sê Buys.

 

Mei se plaasaanvalle

In Mei 2019 was daar drie plaasaanvalle in die Vrystaat. Dit was by Mafube en Tseki (QwaQwa), waar ’n produsent en plaaswerker slagoffers was. Die ander een was op ’n persoon wat op ’n plaas in Vredefort gewoon het.