Nuusflitse – Junie 2019


Mieliediefstal groot kopseer in Vrystaat

Twee tot drie ton mielies word per dag in sekere dele van die Vrystaat gesteel en selfs veiligheidswagte word aangeval. Dit beklemtoon die omvang van die probleem waarmee landbouers in die provinsie te doen het.

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), is mieliediefstal so ’n groot kopseer dat daar op 5 Junie 2019 in Kroonstad ’n intervensie-vergadering hieroor met landbougemeenskappe gehou is. Sy sê voorvalle van mieliediefstal het volgens VL se VKB Veiligheidslessenaar reeds in gebiede soos Allanridge, Bothaville, Bultfontein, Clocolan, Ficksburg, Heuningspruit, Hobhouse, Hoopstad, Kestell, Kroonstad, Odendaalsrus, Reitz en Wesselsbron plaasgevind.

“Dit het uit die vergadering in Kroonstad geblyk dat daar gevalle was waar landbouers sake aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gerapporteer het, maar daar slegs in enkele gevalle MAS-nommers, met OB-inskrywings die norm, bekom is,” sê Buys. “ ’n Opgawe is aangevra van veiligheidsverteenwoordigers in die Vrystaat waar landbouers met mielies boer om die omvang van saaknommers en OB-inskrywings te bekom.”

Sy sê dit wil verder voorkom dat heelwat landbouers wagte aangestel om hul mielies te beskerm. Die wagte word met pangas aangeval en daar word op hulle geskiet in pogings om hulself en landbouers se eiendom te beskerm.

“Dit wil voorkom asof daar daagliks tussen twee tot drie ton mielies in die Kroonstad- en Vredefort-omgewing gesteel word,” sê Buys.

 

Só word mielies gesteel en verkoop

Volgens Buys pluk groterige groepe mense glo mielies van landerye af, waarna dit in gebruikte kunsmissakke gesit en met bakkies vervoer word. Die mielies word dan teen R2 elk in informele nedersettings verkoop.

“Daar is geen landbouers wat mielies aan mense in hul gebiede verkoop nie. Al die mielies word na silo’s van korporasies gelewer,” sê Buys. Sy meen landbouers kan dalk ’n permitstelsel in plek sit sodra hul mielies per hand aan mense verkoop en dit so onder die aandag van hul plaaslike SAPD koördineerder bring.

 

Hoër gesag moet aandag skenk

Volgens Buys is die Prioriteitskomitee versoek om dringend aan mieliediefstal aandag te skenk. Sy sê die Nasionale Vervolgingsgesag is ook gevra om te kyk na die suksesvolle vervolging van sake in hof vir die besit van vermoedelik gesteelde mielies.

’n Vraelys is ook opgestel om die impak en omvang van mieliediefstal te probeer bepaal. Dit is byvoorbeeld aan landbouers in die Kroonstad- en Vredefort area versprei.


Bespreek jou plek vir jaarkongres voor sperdatum

Daar is slegs enkele dae oor vir Vrystaat Landbou (VL) se lede om vir spesiale korting op registrasiefooie vir die organisasie se jaarkongres te kwalifiseer. Hulle moet spring en daarvoor, of vir die aandfunksie en damesprogram, teen 4 Julie 2019 registreer.

VL het reeds in Mei se Nuusflitse daaroor berig en die oproep na die kongres, aandfunksie en damesprogram is op 7 Mei 2019 aan alle landbouverenigings en VL strukture gestuur. Die finale sperdatum vir inskrywings, teen die gewone tarief, vir dié geleenthede is 25 Julie 2019. Sien die dokumente aangeheg vir meer inligting.

Die kongres fokus weer vanjaar op VL se lede. Verlede jaar was die tema Terug na ons lede en vanjaar is dit Wat is my rol as lid van Vrystaat Landbou? Die jaarkongres vind op 7 en 8 Augustus 2019 by Monte Bello Estate, die aandfunksie op 7 Augustus 2019 by Leopards & Lace en die damesprogram op 8 Augustus 2019 by Urth in Bloemfontein plaas.

 

Skryf in vir Landbouvereniging van Jaar kompetisie

VL moedig sy landbouverenigings aan om in te skryf vir die Landbouvereniging van die Jaar kompetisie. Hierdie gesogte eerbewys word aan ’n landbouvereniging toegeken wat uitsonderlik funksioneer. Die sluitingsdatum vir inskrywings is 3 Julie 2019. Agri Hertzogville is in 2018 as Landbouvereniging van die Jaar aangewys.

 

Damesprogram

VL sal oudergewoonte ’n heerlike damesprogram op 8 Augustus 2019 in die Rosestad aanbied. Dit beloof om ’n ontspanne oggend vol verrassings en opwinding te wees. Die gasspreker is die bekende aktrise, regisseur en TV-aanbieder Lizz Meiring.

 

Belangrike sperdatums:

  • Inskrywings vir Landbouvereniging van die Jaar: 3 Julie 2019
  • Korting/afslag op registrasie vir jaarkonges, aandfunksie en damesprogram: 4 Julie 2019 (Jaarkongres: R450 per persoon teen 4 Julie 2019, gewone prys R550; Aandfunksie: R300 per persoon teen 4 Julie 2019, gewone prys R400; Damesprogram: R250 per persoon teen 4 Julie 2019; gewone prys R300)
  • Registrasie vir jaarkonges, aandfunksie en damesprogram: 25 Julie 2019

 

Klik hier vir die oproep na VL se jaarkongres van 2019.

Klik hier vir ’n inskrywingsvorm vir die jaarkongres, aandfunksie en damesprogram.

Klik hier vir ’n inskrywingsvorm vir Landbouvereniging van die Jaar.

 

Vir meer inligting oor registrasie van die kongres, aandfunksie en damesprogram, afgevaardigdes, Landbouvereniging van die Jaar en ledegelde kontak Cynthia Troost, Ledebeampte by VL, by 051 444 4609 of 082 454 4024 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Vir algemene inligting oor kongresreëlings, borgskappe en uitstallings, kontak Elana Bester, Kommunikasiebeampte van VL, by 051 444 4609 of 083 483 1859 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.


Tree steeds voorkomend op, sê Wilken oor miltsiekte

Landbouers moet steeds voorkomend optree en hul diere teen miltsiekte inent. Só het Francois Wilken, President van Vrystaat Landbou (VL), gesê ná die uitbreking van die siekte meer as ’n maand gelede in Lesotho.

Hy meen Vrystaters wat met vee- en wild boer is nog nie buite gevaar nie, al is miltsiekte nog nie in die provinsie aangemeld nie. “Landbouers moet steeds bewus wees van vee en wild wat oor die landsgrense beweeg,” het hy gesê.

Wilken het vroeër op 31 Mei 2019 in ’n verklaring VL se saak oor die uitbreek van dié siekte en jarelange grensprobleme duidelik gemaak. Hy het toe gesê die organisasie het oor ’n tydperk van 15 jaar die regering in en uit die hof van die gevare by die Lesotho-grens probeer bewus maak.

Volgens hom sal ’n verbod op die invoer van vee en wol alleen nie die probleem doeltreffend aanspreek nie, omdat veediefstal ’n groot probleem is en diere maklik oor die Lesotho-grens beweeg.

Wilken het bevestig VL is steeds met staatsveeartse in kontak. “Daar was ’n paar verdagte gevalle waar die karkasse deeglik ondersoek is. Geen tekens van miltsiekte is binne die provinsie se grense aangemeld nie.”

Volgens hom sukkel VL om inligting oor die presiese situasie in Lesotho te kry, maar volgens dit wat van staatsveeartse ontvang word blyk die siekte ook in Lesotho onder beheer te wees.

  • Die Vrystaat Dieregesondheidsforum hou op 10 Julie 2019 ’n vergadering in Bloemfontein waar VL en veebedrywe teenwoordig sal wees. Miltsiekte is ook op die agenda.
  • Klik hier om VL se volledige verklaring, wat op 31 Mei 2019 uitgereik is, oor die uitbreek van miltsiekte en die Lesotho-grensprobleme te sien.

Voltooi sensus-vraelys en verhoed besoek

Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) gaan besoeke aan landbouers hervat, al het van hulle aangedui hulle wil vraelyste elektronies indien. Dit volg nadat grondeienaars die geleentheid gekry het om vraelyste vir die Sensus vir Kommersiële Landbou (CoCA) per e-pos in te vul.

Volgens Itani Magwaba, Projekdirekteur van Stats SA, het diegene wat aangedui het hulle wil vraelyste per e-pos voltooi tien werksdae gehad om daarop te reageer. “Ongelukkig het meer as 90% van landbouers, tot en met 25 Junie, nie voltooide vraelyste teruggestuur nie,” sê hy.

“Ons moedig dus landbouers aan om vraelyste so gou as moontlik terug te stuur om te voorkom dat hulle besoek word. Selftelling is ook ons ​​voorkeur-metode vir die insameling van inligting, omdat dit die mees doeltreffende en koste-effektief is.”

Stats SA het intussen bevestig dat hy boodskappe, per e-pos en SMS, aan landbouers stuur, sodat diegene wat die selftelling opsie gekies het, hul vraelyste moet voltooi.

Hy het ook reeds met besoeke aan landbouers begin. Diegene wat die selftelling opsie gekies het en nie hul vraelyste teruggestuur het nie, gaan ook besoek word.

Dit is belangrik dat landbouers aan die sensus deelneem, omdat akkurate inligting nodig is vir georganiseerde landbou om vir doeltreffende beleid te beding.

Volgens dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou (VL), het sy organisasie ’n brief van Stats SA ontvang waarin bevestig word dat beamptes weer voortgaan om landbouers, wat aangedui het hulle wil elektroniese opnames doen, te besoek. Dit is omdat hulle nie reageer het nie. VL het sy lede in die April-uitgawe van sy maandelikse Nuusflitse aangemoedig om CoCA-vraelyste per e-pos te voltooi. Dan hoef beamptes van Stats SA nie op ’n plaas te kom nie.

Magwaba sê landbouers kon kies tussen selftelling of ’n besoek deur ’n beampte.

Hy het beklemtoon dat plaasprotokol tydens besoeke geld. “Besoeke word gereël per area. Voordat landbouers besoek word, of hulle nou selftelling doen of besoek word, sal hulle telefonies gekontak word. Ons gaan net na plase wat ingestem het tot ’n besoek. Dus is besoeke per afspraak,” sê hy.

Volgens hom sal Stats SA se voertuie gemerk wees en beamptes sal geïdentifiseer kan word deur ID-etikette, sakke, pette en klere met ’n Stats SA-logo daarop. Indien landbouers iets vreemd vermoed, kan hulle 080 021 2169 skakel.

  • ’n Vergadering tussen VL en Stats SA se nasionale afdeling vind op 3 Julie 2019 plaas om sekere kwessies aan te spreek.
  • Klik hier om die brief van Stats SA te sien.

Arlington-dag beïndruk met kleure, geure en demonstrasies

“Die omvang en grootte van die demonstrasies is iets wat ek nog nie beleef het nie. Die kleure en geure van die verskillende trekkers en stropers was iets om te sien.” Só sê Waldo van Niekerk, Voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se Jongboer-komitee, oor ’n suksesvolle dag vol akkerbou-demonstrasies wat in Arlington gehou is.

Volgens hom was die tegnologie, waaraan landbouers op 13 Junie 2019 blootgestel is, uitstaande. Dié dag, wat deur Agri Arlington in samewerking met VL se Jongboere aangebied is, is ’n hoogtepunt op die landbou-kalender. Dit sluit praktiese demonstrasies van onder meer stropers, balers, trekkers, spuite, planters en laaigrawe in. Boonop was daar vanjaar ietsie ekstra, met verskeie bees- en skaaprasse wat te sien was.

“Die dag is beslis soos Herman (Janse van Rensburg) sê. Jy sien die tegnologie in die vorm van trekkers en stropers by Nampo, maar by die Arlington-dag kan jy werklik in die veld deur demonstrasies sien wat hulle kan doen,” sê Van Niekerk. Janse van Rensburg, VL se Jongboer van die Jaar vir 2019, en Agri Arlington het die dag gereël.

Van Niekerk sê die teenwoordigheid van skaap- en beesrasse, as nuwe toevoeging tot die dag, was ook suksesvol.

Die bekende landbou-ekonoom Prof Johan Willemse was ’n spreker en het sy kennis oor landboumarkte oudergewoonte op sy unieke manier gedeel.

Volgens Van Niekerk was dit ’n voorreg vir VL se jongboere om deel hiervan te kon wees. “Herman-hulle het ons jongboere ’n groot guns bewys deur ons te betrek. Sodoende kon ons ook voordeel daaruit trek deur ’n gedeelte van die geld wat aan Vrystaat Landbou se jongboere gaan. Ons is dankbaar daarvoor.”

Hy moedig alle landbouers aan om nie in die toekoms die dag mis te loop nie.


Dien só aansoeke in via VL vir Fidelity-kameras

Landbouverenigings en gebiedskantore van Vrystaat Landbou (VL) kan nou aansoeke indien oor kostes vir die oprigting van kamerastelsels in hul gebiede. Hiervoor het VL en Fidelity ADT, met wie daar in April 2019 ’n ooreenkoms begin is om misdaad voorkomend aan te spreek, ’n pro forma aansoekvorm ontwerp en kan kwotasies op dié manier aangevra word.

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, gaan hierdie vorms binnekort aan landbouverenigings en gebiedskantore gestuur word. Dit moet aan VL, wat ook sy streke se veiligheidsverteenwoordigers daaroor sal inlig, teruggestuur word, waarna dit aan Fidelity ADT deurgegee word. ’n Fidelity-verteenwoordiger sal dit verder hanteer en deurgee aan VL se Veiligheidskomitee om met die betrokke landbouvereniging of gebiedskantoor te kommunikeer.

“Die rede vir hierdie proses is om seker te maak daar kan opgevolg word indien ’n probleem onstaan,” sê Buys. “Die doel is ook om toe te sien dat daar op papier van hele proses rekord gehou word, hoe dit vorder en of dit suksesvol afgehandel is.”

Volgens Jakkals le Roux, Voorsitter van die Landelike Veiligheidskomitee by VL, gaan aansoeke vir kamerastelsels in landelike gebiede vir eers konsentreer op nasionale-, primêre, sekondêre- en tersiêre paaie. Vir GPS lesings, moet die “grade, minute en sekondes” stelsel gebruik word, sê hy.

Kwotasies moet nie onnodig duur, met verkeerde of ekstra installasies, gemaak word nie. Veral waar sogenaamde duur Licence Plate Recognition kameras geinstalleer moet word, moet dit as ’n primêre toegang en uitgangsroete aangedui word.

Vir die invul van die aansoekvorm waar GPS punte benodig word, kan Google Maps gebruik word om die GPS lesing te bekom. Hier moet die “grade, minute en sekondes” stelsel gebruik word. Dit moet op die aansoekvorm aangedui word, asook watter elektriese kragpunt beskikbaar is en of daar dalk van sonpanele gebruik gemaak moet word.

  • Aansoekvorms en kwotasies vir befondsing van Agri Securitas het sy ’n eie prosedure en vorms wat voltooi moet word. Die landelike-beveiligingsplan, asook wanneer ’n inoefening plaasgevind het, vorm deel hiervan en moet via die streek se veiligheidsverteenwoordiger aan VL se Veiligheidskomitee gekommunikeer word. Dié komitee sal dit weer aan Agri SA deurstuur. Buys sê dit is ook belangrik om daarop te let dat landbouverenigings en gebiedskantore versekering moet bekom vir sulke kamerastelsels.

Kyk uit vir “beamptes” wat plakkate verkoop

Die skelms wat hulself as beamptes van die Departement van Arbeid voordoen en landbouers indoen, is weer aktief in die Vrystaat. Volgens Gernie Botha, Regsadviseur van Vrystaat Landbou (VL), word VL se lede gewaarsku om nie slagoffers hiervan te word nie en eerder voorvalle by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aan te meld.

Landbouers word deur dié sogenaamde “beamptes” geintimideer om arbeidswetgewing-plakkate by hulle te koop. Hulle maak of hulle vir die departement werk en voer aan hulle is afgevaardig om dit te verkoop.

Die Departement van Arbeid het in Mei 2019 in ’n verklaring gewaarsku dat misdadigers in die Wesselsbron-area in die Vrystaat toegeslaan het en dat dit nie die eerste keer is wat sulke voorvalle voorkom nie. Soortgelyke insidente het in 2018 in Phillipolis, Edenburg, Jagersfontein, Fauresmith en Luckhoff plaasgevind. Daar was toe ook sulke aktiwiteite in dorpe soos Vrede, Steynsrus en Odendaalsrus.

“Daar was ’n versoek vanaf die departement dat indien gevalle voorkom waar hierdie persone hulself voordoen as werknemers van die Departement van Arbeid, sulke gevalle by die SAPD gerapporteer en die nodige sake geopen word,” sê Botha.

“Ons wil dit onomwonde duidelik stel dat die Departement van Arbeid onder geen omstandighede arbeidswetgewing-plakkate aan werkgewers sal verkoop nie. Enige werkgewer kan boonop hierdie inligting verniet van die Departement van Arbeid se webtuiste aflaai,” sê Emily Maneli, waarnemende hoof van die Departement van Arbeid in die Vrystaat, in die Departement van Arbeid se verklaring.

 

Klik hier om die verklaring van die Departement van Arbeid te sien.


Landbouers moet reg wees vir brande in winter – Armour

Landbouers moet seker maak hulle is gereed vir wanneer veldbrande in die wintermaande voorkom. Volgens dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou (VL), verhoog ’n goeie hoeveelheid brandbare materiaal en die koue die kanse vir veldbrande.

Daarom versoek VL landbouers om voorsorgmaatreëls tydens die brandseisoen te tref. “Lede van die Vrystaat Landbou word gevra om seker te maak hul toerusting vir brandbestryding is in werking, die Brandbeskerming-verenigings (BBV’s) het hul operasionele planne opgestel en almal is op dieselfde bladsy,” sê Armour.

Indien enige beheerde brande plaasvind, moet landbouers eers die brandgevaarindeks met ’n plaaslike brandbeampte nagaan voor enige aksie geneem word. Anders kan hulle ’n boete van die brandbeampte kry indien hulle op ’n verkeerde tyd brand.

  • Volgens Armour, sal VL, die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye in die provinsie en die Vrystaatse sambreel-organisasie vir brandverenigings (FSUFPA) op 15 Julie 2019 ’n vergadering hou om “duidelikheid oor die werking van die BBVs, Brandbestuur-gebiede en die FSUFPA te kry”.

VL se bestuur kies dié pad oor swak paaie

Die swak toestand van paaie, veral in landelike gebiede, bly ’n kopseer en is iets waaraan Vrystaat Landbou (VL) aandag gee. Daarom was dit op 19 en 20 Junie 2019 op die agenda van vergaderings van VL se bestuur.

Volgens dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van VL, het die bestuur besluit om Agri SA te vra om die regering se verpligtinge oor dienslewering, asook die voorsiening en onderhoud van publieke paaie te ondersoek.

“Die strukture op grondvlak om probleme met paaie doeltreffend aan te spreek, sal ook op Vrystaat Landbou se jaarkongres met sy lede bespreek word,” sê hy. VL se jaarkongres vind op 7 en 8 Augustus 2019 in die Rosestad plaas.

VL het ook onlangs insette gelewer tot ’n brief wat deur Agri SA aan die Departement van Paaie oorhandig is om padprobleme aan te spreek en het ’n opvolgvergadering met die Departement van Polisie, Paaie en Vervoer in die Vrystaat gehou.

Volgens Armour het Agri SA, met die ondersteuning van provinsiale- en bedryfsorganisasies, op 10 April 2019 ’n opname gedoen oor die beginsels van infrastruktuur wat met die Departement van Vervoer aangespreek moet word.

“Die uitkoms van die vergadering was ’n besluit om te probeer om die infrastruktuur-forum by Business Unity South Africa weer te laat herleef,” sê hy. Indien daar nie vordering gemaak word nie, beplan Agri SA om ’n vergadering met die portefeuljekomitee van vervoer te versoek. Die beginsels van infrastruktuur wat aangespreek moet word sal dan daar voorgelê word.

“In kort is daar heeltemal te min begroot om landelike paaie in stand te hou én die bietjie wat wel begroot word, word nie doeltreffend gebruik word nie,” sê Armour.

Volgens hom sal VL aanhou skakel tussen sy grondvlakstrukture en die regering, asook VL se landbouverenigings help organiseer om plaaslik paaie wat die dringendste aandag kort te prioritiseer. Daar sal ook aangehou word om op distriksvlak druk toe te pas om padrade weer tot stand te bring.

 

Sien vorige stories oor hoe VL padprobleme help aanspreek:

Klik hier vir inligting oor ’n vergadering wat op 7 Mei 2019 met die Vrystaatse Departement van Paaie gehou is.

Klik hier vir inligting oor VL se insette tot die brief wat Agri SA aan die Departement van Paaie oorhandig het.


VL verwelkom nuwe landbouvereniging 

Vrystaat Landbou (VL) verwelkom ’n nuwe landbouvereniging in sy geledere. Die Oppermansgronde-landbouvereniging (OLB) sal binnekort die nuutste vereniging word wat by VL geaffilieer is.

Dié vereniging dien sy lede en die gemeenskap in die Suidwes-Vrystaat, bestaan ​​uit 40 lede en potensieel 150 klein landbouers.

Die OLB het ook op 29 Junie 2019 ’n landboudag ​​aangebied. Adam Speak, ’n deeltydse landbouer en werknemer van VL, is ’n trotse lid van die vereniging.

Volgens dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van VL, is die Oppermans Kommunale Eiendomsvereniging die grootste grondeienaar in die Vrystaat, “wat grootliks op 36 000 ha se baie marginale grond boer, maar met toegang tot 200 ha en potensieel 800 ha besproeiingsregte”.

Fokus van Landbou Ontwikkeling-komitee gewysig

Volgens Armour het VL se bestuur onlangs besluit dat die Landbou Ontwikkeling-komitee, wat voorheen ​​as die Grondsake-komitee bekend gestaan het, meer op die ontwikkeling van alle nuwe toetreders tot die landbou moet fokus en nie net op nuwe swart toetreders nie. Dit is op 19 en 20 Junie 2019 by vergaderings van VL se bestuur besluit.

“Ons fokus op die ontwikkeling van landbou en landelike gebiede as ’n geheel en nie net op die transformasie-aspek van landbou-grondeienaarskap en Swart Ekonomiese Bemagtiging  alleen nie,” sê Armour.

 

Landbank kan dalk weer aansoeke begin verwerk

VL het onlangs via WhatsApp aan lede gekommunikeer dat die Landbank aansoeke vir sogenaamde “Blended Financing” eers op ys gesit het. Hierdeur kan die staat, via die Departemente van Grondsake en Landbou, tot 60% van die waarde van die lening aan ’n begunstigde toestaan.

“Ons is verheug om te kan sê ons het inligting van Mapula Kemang, Hoof van die Landbank in die Vrystaat, ontvang dat hulle dalk weer aansoeke vir die Blended Financing-skema kan begin verwerk,” sê Armour.

 

Motsepe Foundation gaan voort met tweede fase

Volgens Armour is fase een van die Motsepe Foundation se projek voltooi.

“Daardeur het VL gehelp fasiliteer aan inleidings en vergaderings tussen tradisionele leiers, kommoditeitsorganisasies en landboubesighede om breë kommoditeits spesifieke projekte in tradisionele gebiede te identifiseer,” sê hy. Hierdie projekte is aan Agri SA voorgelê om dit aan die stigting voor te lê. Die stigting is tevrede om voort te gaan met die tweede fase van die projek.

“ ’n Beroep het aan konsultante uitgegaan om gedetailleerde sakeplanne en uitvoerbaarheidstudies oor hierdie projekte op te stel en daar sal binnekort aanbevelings gedoen word.”

 

Kommersialisering van Glen College

Die voorstel vir die kommersialisering van die Glen-landboukollege geniet steeds aandag van personeel van Glen en die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling.

Armour sê VL se voorstel is in konsep aanvaar en regsdokumente moet nog afgehandel word. “Die haakplekke was in die bewoording wat in VL se modelvoorstel vir befondsing gebruik word in én die gebruik van plaaslike arbeid.”

Volgens hom is party kommoditeitsorganisasies versigtig oor die inmenging van die departement, plaaslike arbeidskwessies en eise, asook die veiligheid van vee en toerusting op die perseel.

’n Werkswinkel sal in Julie 2019 gehou word om die plan uitvoerbaar te maak en finale inkoop van kommoditeitsorganisasies en landboubesighede te kry om Glen se praktiese aanbod te omskep sodat dit toepaslike en relevante praktiese opleiding vir aspirant-landbouers bied.


VS plaasaanvalle vind in dié tye plaas

Naweke en in die nag. Dit is die tye wanneer plaasmoorde en –aanvalle onderskeidelik die meeste in 2019 in die Vrystaat plaasgevind het.

Volgens die VKB Veiligheidslessenaar van Vrystaat Landbou (VL) het vier van die vyf moorde in landbougemeenskappe, drie op ’n Saterdag en een op ’n Sondag, oor naweke plaasgevind. Verder het 15 van die 28 plaasaanvalle vanjaar tussen 18:00 en 06:00, dus in die nagtelike ure, voorgekom.

Inligting van dié lessenaar toon dat daar vanaf 1 Januarie 2019 tot 10 Junie 2019 altesaam 28 plaasaanvalle, waarvan vyf moorde was, in die provinsie plaasgevind het. Die meeste van die aanvalle, 11 in totaal, was op plaaswerkers. Sewe daarvan was op produsente, wat opkomende landbouers insluit, en vyf op mense wat op plase woon.

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, was “twee van vanjaar se moorde op werkers, een op ’n opkomende landbouer, een op iemand wat op ’n plaas gewoon het en een op iemand wat by ’n winkel op ’n plaas gewerk het”.

Die dae waarop aanvalle die meeste plaasgevind het, was Saterdae, Sondae, Dinsdae en Woensdae (6 insidente elk). Die meeste aanvalle het vanaf die 1ste tot die 5de van ’n maand (9) voorgekom. Ander tye wat ook dikwels deurgeloop het, was vanaf die 15de tot 19de (7 aanvalle) en vanaf die 21ste tot 25ste (6).

Die VL VKB Veiligheidslessenaar se inligting toon ook dat in 22 van die 28 aanvalle was daar twee tot vyf aanvallers betrokke en in 16 aanvalle is vuurwapens deur die aanvallers gebruik. “In meeste gevalle was daar slegs een slagoffer betrokke, terwyl twee mense in ses gevalle aangeval is,” sê Buys.

Volgens haar is daar in nege van die 28 aanvalle niks gesteel nie, met vee wat in vyf aanvalle gesteel is. Laasgenoemde vee-voorvalle het in Bothaville, Clocolan, Ficksburg, Rosendal en QwaQwa (Tseki) plaasgevind.

In altesaam vier aanvalle is voertuie gesteel, terwyl selfone, kontant en vuurwapens die meeste geteiken is.

In 11 van die aanvalle is voertuie gebruik om na en van misdaadtonele te reis. Buys sê volgens inligting is aanvallers slegs slegs in vyf gevalle gearresteer.


Soveel dorpe loop deur onder veediefstal

’n Totaal van 28 dorpe het deurgeloop en 1044 stuks vee is slegs in Mei 2019 in die Vrystaat gesteel. Dit sluit boonop slegs voorvalle in waarvan Vrystaat Landbou (VL) se Veiligheidslessenaar bewus is.

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, kan dié getalle slegs sowat ’n derde van die beweerde veediefstal (dus 31%) in die provinsie verteenwoordig. Dit beteken dat dit moontlik is dat meer as 3000 stuks vee net in Mei 2019 gesteel is.

Die VL VKB Veiligheidslessenaar toon dat 271 van die 1044 stukke vee wat bo genoem word, teruggevind is. Dus is 773 steeds gesteel of weg.

“Die hoë misdaad areas in die Vrystaat in Mei was Allanridge, Bethlehem, Bothaville, Edenburg, Ficksburg, Fouriesburg, Heilbron, Hobhouse, Kestell, Koppies en Paul Roux,” sê Buys.