Nuusflitse – Julie 2019 - Landbouers gevra om te help met probleme by Lesotho-grens

Landbouers gevra om te help met probleme by Lesotho-grens

Vrystaat Landbou (VL) maan landbouers om alle inligting oor probleme en onwettige aktiwiteite by die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho deur te gee, sodat misdaad beter bekamp kan word. Só sê dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, na aanleiding van misdaad en plaasaanvalle wat met die oorgrens-area verband hou.

Volgens haar is dit belangrik dat VL se lede en landbouers die regte kommunikasiekanale volg, voorvalle onder die aandag van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) en  Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bring en inligting aan die veiligheidskoördineerders in betrokke areas deurgee word. Dit alles om misdade meer doeltreffend te bekamp.

“Daar is ’n SANW Ops nommer wat hulle 24 uur per dag kan kontak. Dit is beskikbaar by die veiligheidskoördineerder in die streek,” sê Buys. “Die SANW het omtrent elke 10 km ’n tydelike basis wat operasies uitvoer en wat vir hulp gekontak kan word indien daar ’n groot probleem in die oorgrens-area ontstaan.”

Buys sê landbouers word versoek om alle oorgens-aktiwiteite en inligting op Maandae aan die VL VKB Veiligheidslessenaar deur te gee. Dit word weer aan die SANW, wat saam met die SAPD oorgrens-operasies help beplan, verskaf.

“Meeste landelike veiligheidkoördineerders by die grens het onlangs ’n toegekende voertuig gekry en baie van die oorgrens-aktiwiteite maak misdade uit wat onder die SAPD se aandag gebring moet word.” Volgens haar moet die SAPD en veiligheidkoördineerders behulpsaam wees om misdaad-voorkomingsoperasies, saam met landbougemeenskappe, te loods.

Volgens Buys word landbouers ook versoek om sake wat by die SAPD aangemeld is op te volg. Hulle moet onder meer seker te maak watter saaknommer geopen is, wanneer die SAPD op die toneel was en watter speurder op die toneel was. Probleme hiermee moet met die landelike veiligheidkoördineerders, VL se Veiligheidslessenaar en die betrokke stasiekommissaris opgeneem word. “Indien steeds probleme ondervind word, kan dit na VL se Veiligheidslessenaar en die prioriteitskomitee verwys word,” sê sy.