Nuusflitse – Julie 2019 - Stats SA suiwer lug oor sensus-selftelling

Stats SA suiwer lug oor sensus-selftelling

Vrystaat Landbou (VL) het met Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) vergader om onduidelikheid oor die elektroniese deelname aan die Sensus vir Kommersiële Landbou (CoCA) uit die weg te ruim.

Volgens dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van VL, het Stats SA beklemtoon dat landbouers wat selftelling kies, deur inligting elektronies in te dien, die sensus-vraelyste teen ’n spesifieke sperdatum moet indien. Hy sê dit is nodig, sodat die resulate van CoCA hopelik reeds teen November 2019 gepubliseer kan word.

Stats SA het ook by die vergadering, wat op 3 Julie 2019 plaasgevind het, dit duidelik gemaak dat alle inligting vertroulik is. Die organisasie mag glad nie enige individuele of persoonlike inligting met enige persoon of instelling deel nie, anders sal die geloofwaardigheid van al sy statistiek daarmee heen wees.

Stats SA voldoen ook aan internasionale statistiekstandaarde en resorteer onder die Statistiekwet. Artikel 17 van die Wet op Statistieke (Wet No. 6 van 1999) verplig hom om alle inligting wat verskaf word deur respondente as streng vertroulik te hanteer. Dit word ook so op die vraelys aangedui. Resultate word verder slegs in ’n saamgestelde formaat uitgegee.

VL moedig sy lede aan om aan die sensus deel te neem. Stats SA kommunikeer ook met VL en sy streekverteenwoordigers oor besoeke. “Skedules vir besoeke volgens plaasprotokol word aan VL deurgegegee. Stats SA se dataversamelaars sal in gemerkte voertuie ry en hulle sakke, klere en pette sal ook die Stats SA-handelsmerk daarop hê. Hulle sal tablette gedurende besoeke gebruik,” sê Armour.

  • Klik hier vir ’n advertensie van Stats SA oor selftelling.
  • Vir meer inligting of navrae met die invul of indiening van sensus-vraelyste, kan landbouers die tolvrye-nommer 0800 212 169 skakel of ’n e-pos na Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

 

Departement en Stats SA onderteken memorandum

Stats SA en die Departement van Landbou, Bosbou en Vissery het ook onlangs ’n ooreenkoms in die vorm van ’n memorandum onderteken.

Dit bepaal dat Stats SA die Sensus vir Kommersiële Landbou uitrol om statistiek oor landbouers wat geregistreer is vir belasting in te samel. Die departement sal weer op sy beurt inligting oor landbouers wat nie vir belasting geregistreer is nie, insamel.

Die doel is om ’n realistiese prentjie van die landbousektor in Suid-Afrika te kry, aangesien die laaste nasionale sensus in 2007 gedoen is. Die sensus het weens finansiële tekortkominge nie in 2012 plaasgevind nie.