Nuusflitse – Julie 2019 - Goeie deurgee van info lei tot afname in VS plaasaanvalle

Goeie deurgee van info lei tot afname in VS plaasaanvalle

Wanneer die afgelope drie jaar se syfers in die finansiële jare, 2016/17, 2017/18 en 2018/19, met mekaar vergelyk word, het die Vrystaat ’n afname in plaasaanvalle beleef. Dit is volgens die Vrystaat Landbou (VL) VKB Veiligheidslessenaar se inligting.

In 2016/17 was daar 66 plaasaanvalle, wat ses moorde insluit (een op ’n produsent en vyf werkers). In 2017/18 was daar 60 plaasaanvalle, wat sewe moorde insluit (vier op produsente en drie werkers), terwyl in 2018/19 was daar 48 plaasaanvalle, wat sewe moorde insluit (twee op produsente, drie opkomende landbouers, een werker en een persoon wat ’n winkel op ’n plaas bedryf het). In die kalenderjaar van 2018 het daar egter 31 plaasaanvalle in die Vrystaat voorgekom, terwyl daar vanaf Januarie tot Junie 2019 reeds 14 plaasaanvalle plaasgevind het.

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, is die afname grootliks te danke aan die skakeling van vooraf-inligting en vroeë waarneming van verdagte voertuie of mense. Hierdie inligtig word gewoonlik deur werkers en landbouers in landelike gebiede deurgegee. “Dit sluit ook navrae aan sekere werkers deur moontlike rowers oor geld en vuurwapens binne huise, inligtingsnetwerke van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se Misdaad-intelligensie en POPS-strukture, asook plaaswag-strukture wat aandui dat spesifieke plase geteiken kan word, in” sê Buys.

’n Goeie vennootskap binne die Landelike-beveiligingstrategie (LBS) dra volgens haar ook heelwat by tot die sukses van ’n pro-aktiewe benadering oor plaasaanvalle. “Net drie (uit 20) produsente wat lede van georganiseerde landbou is, was die afgelope finansiële jaar in die Vrystaat in plaasaanvalle die teiken,” sê sy.

Die betrokkenheid van landbougemeenskappe binne die LBS, die deurlopende bou van verhoudings met die SAPD, bure, gemeenskappe, werkers en inwoners op plase, asook die opskerping en verbetering van kommunikasienetwerke deur WhatsApp-groepe vir veiligheid en radionetwerke dra alles by tot beter veiligheid.

“Verder dra die skakeling van inligting om pro-aktief en voorkomend op te tree, die aanbieding van opleidingswerkswinkels om landbougemeenskappe te bemagtig en hulle te leer hoe om in noodsituasies op te tree ook by tot die skepping van ’n veiliger kommersiële landbousektor,” sê Buys.

 

Klik hier vir ’n analise oor plaasaanvalle in die Vrystaat die afgelope drie finansiële jare.