Nuusflitse – Augustus 2019 - Miljoene se veeverliese; landbouers aangemoedig om sentrums te stig

Miljoene se veeverliese; landbouers aangemoedig om sentrums te stig

Verliese van meer as R7,4 miljoen slegs in Julie 2019. Dit is ’n beraming van die omvang van die impak wat veediefstel in die Vrystaat gehad het. Én boonop sluit dit net die insidente in waarvan Vrystaat Landbou (VL) en die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) kennis dra.

Alle veediefstalsake word nie aangemeld nie en volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, verteenwoordig hierdie syfers waarskynlik nie naastenby die totale hoeveelheid nie. Sy sê die groot getalle vee en insidente wys weer eens dat veediefstal op ’n georganiseerde wyse deur groepe en sindikate uitgevoer word.

Volgens VL en die RPO se inligting het daar in Julie 2019 118 insidente op landbougrond in die provinsie voorgekom, is 1 831 stuks vee gesteel en word 36 Vrystaatse dorpe of gebiede daardeur geraak.

Die dorpe wat die meeste deurgeloop het, was Bethlehem (15 insidente) en Paul Roux (11). Die ander plekke waar vyf of meer insidente voorgekom het, was Clocolan (5), Fouriesburg (5), Hobhouse (5), Kestell (5), Reitz (7) en Reddersburg (5).

Van die 1 831 stuks vee wat gesteel is, is 281 teruggevind is. Dit beteken verliese van 1 550 stuks vee by 36 dorpe vir Julie 2019. Dit verteenwoordig slegs ongeveer 40% van die dorpe in die provinsie en is die waarvan af inligting ontvang is. Dus kan dit beteken dat na raming sowat 4 500 stuks vee en meer in totaal die Vrystaat gesteel is.

In 10 van die sake wat in Julie 2019 aangemeld is, is die getal vee wat gesteel is nie gemeld nie. In 61 van sake is meer as vyf beeste of skape in een insident gesteel.

Landbouers kan só help om veediefstal te bekamp

Volgens Buys word landbouers weer eens versoek om gereeld, op ’n daaglikse basis, hul vee te tel. “Hulle moet ook seker maak hul diere is gebrandmerk, veral jonger vee, dat hulle oor ’n brandmerksertifikaat beskik en dat hul kontakbesonderhede en brandmerke by die Registrateur van Diere Identifikasie bevestig is.”

Verder moet hulle so vinnig as moontlik enige diefstal by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aanmeld en inligting oor hul diere op veiligheidsgroepe op WhatsApp versprei. Landbouers moet ook seker maak dat hulle saaknommers, ook wanneer gesteelde vee teruggevind is, van die SAPD kry.

Landbouers word ook aangemoedig om Veediefstal-inligtingsentrums in hoë veediefstal-areas te stig. Die sentrums kan voor of na ’n landelike veiligheidsvergadering bymekaarkom om spesifieke besonderhede oor veediefstal aan alle rolspelers deur te gee.