Nuusflitse – Augustus 2019 - Wenners, oorkondes en hoogtepunte van VL kongres

Wenners, oorkondes en hoogtepunte van VL kongres

Vrystaat Landbou (VL) vereer jaarliks van sy lede en landbouverenigings wat ’n uitstaande bydra tot die organisasie gemaak het. Van die gesogte eerbewyse is die Landbouvereniging van die Jaar en Streekverteenwoordiger van die Jaar.

Hierdie eerbewyse is oudergewoonte by ’n deftige aandfunksie, wat deel vorm van die verrigtinge tydens VL se jaarkongres, op 7 Augustus 2019 in Bloemfontein toegeken.

Die Landbouvereniging van die Jaar was Steynsrus-gebiedsbestuur, met Agri-Hertzogville in die tweede plek en die Karee-landbouvereniging derde. Steynsrus het met die trofee weggestap nadat hy homself as pilaar in die gemeenskap onderskei het. Hy het ook onder meer uitgeblink op gebiede soos samewerking met belanghebbende rolspelers, werksaamhede in die gemeenskap en ’n ingesteldheid teenoor natuurbewaring.

VL se Streekverteenwoordiger van die Jaar was Bernard Maree van Streek 15 (Mantsopa). Hy het dit ontvang vir die goeie diens wat hy aan die landbougemeenskap, komitees en personeel van VL gelewer het.

 

Hulle ontvang oorkondes

VL het ook verskeie mense en instansies by sy jaarkongres, wat op 7 en 8 Augustus 2019 in Bloemfontein plaasgevind het, vereer deur aan hulle spesiale oorkondes te oorhandig. Dit is aan Frik Combrinck, Pieter Swart, Malcolm Procter, OVK en VKB gegee.

Combrinck en Swart (albei 91 jaar oud) is vereer as oudste lede van VL en Procter (adjunkdirekteur van regulasies van die Vrystaatse departement van landbou, bosbou en visserye) vir sy diens in die oprigting van veldbrandvereniging-strukture en die rapportering van veldbrande in die Vrystaat.

OVK (wat VL van ’n voertuig voorsien) het ’n oorkonde ontvang vir sy bydra tot die bevordering van landelike veiligheid, terwyl VKB (wat jaarliks VL se Veiligheidslessenaar borg en geld skenk) ook vereer is vir die bevordering van landelike veiligheid in die provinsie.

 

Lizz-hulle dra by tot heerlike damesprogram

VL het ook soos gewoonlik tydens kongrestyd ’n damesprogram vol verrassings op 8 Augustus 2019 in Bloemfontein aangebied.

Dit het onder meer stalletjies, lekker kos, gaskunstenaars, ’n kookdemonstrasie en pryse ingesluit. Die gaskunstenaars was die bekende aktrise, regisseur en TV-aanbieder Lizz Meiring en die sanger Urnus Human, terwyl die sjef Jaco-Louw Wolmarans sy kennis oor kosmaak gedeel het.

 

Kry hoogtepunte van jaarkongres hier

Het jy dalk iets gemis of wil jy en jou landbouvereniging weer na die belangrikste punte van VL se jaarkongres kyk? Kry alles daaroor op een sentrale plek op VL se webtuiste.

Dit sluit in nota’s en video’s van die sprekers, Francois Wilken, President van VL, se presidentsrede én ’n opsomming van die kongres.

 

  • Klik hier om dit alles kry.