Nuusflitse – Augustus 2019 - Vals inligting oor plaasaanvalle in dié gebiede aangemeld

Vals inligting oor plaasaanvalle in dié gebiede aangemeld

Landbouers in die omgewing van Odendaalsrus, Bultfontein en Hoopstad moet kennis neem van vals inligting oor plaasaanvalle wat by polisiestasies aangemeld word. Die inligting kan moontlik verband hou met kriminele wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se mannekrag en voertuie om die bos wil lei om ander misdade in sekere areas te pleeg of om die SAPD se reaksietyd te toets.

Dit is volgens inligting wat deur die Vrystaat Landbou (VL) VKB Veiligheidslessenaar bekom is. Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, sê polisiestasies word gebel en daar word gemeld dat ’n plaasaanval op ’n spesifieke plaas plaasgevind het.

“By verdere ondersoek deur die SAPD word gevind dat die inligting vals is,” sê sy. “Indien sulke vals inligting in jou area na vore kom, word jy versoek om met ’n veiligheidsverteenwoordiger in verbinding te tree.”

 

Toename in moorde in VS

’n Toename in moorde het die afgelope finansiële jaar, sedert April tot Augustus 2019, in die Vrystaat voorgekom. Dit is volgens die VL VKB Veiligheidslessenaar se inligting.

Wanneer dieselfde tydperk met verlede jaar vergelyk word, was daar ’n toename in die getal moorde in landelike gebiede, vanaf twee tot vier. Die aantal plaasaanvalle (16), wat moorde uitsluit, was dieselfde in die Vrystaat.

In 2019 se finansiële jaar, vanaf April tot Augustus 2019, het daar altesaam 20 plaasaanvalle, wat vier moord-insidente insluit, in die provinsie plaasgevind. In 2018 se finansiële jaar was daar 18 plaasaanvalle, wat twee moorde insluit.

Volgens vanjaar se statistiek is twee moorde op persone wat op plase woon, een op ’n werker/voorman en een op ’n plaaswerker gepleeg. Dit het in Boshof, Hoopstad, Kroonstad en Vredefort plaasgevind.

“In die 16 plaasaanvalle in 2019 is sewe produsente aangeval, twee opkomende landbouers, vier werkers en drie mense wat op plase woon. Die aanvalle het in Bothaville, Clocolan, Deneysville, Hennenman, Kroonstad, Mafube, Odendaalsrus, Petrusburg, QwaQwa, Verkeerdevlei, Viljoenskroon en die Welkom-area plaasgevind,” sê Buys. Odendaalsrus, Kroonstad, Mafube, Clocolan het twee en meer insidente die afgelope vyf maande beleef.

 

Aanvalle vind in dié tye plaas

Tien van die 20 aanvalle/moorde in 2019 se finansiële jaar het op Saterdae en Sondae plaasgevind, terwyl twaalf daarvan tussen 18:00 en 06:00 in die nag plaasgevind het. In 12 insidente is twee slagoffers aangeval deur drie en meer aanvallers. In vier insidente is arrestasies tot dusver gemaak.

Verlede jaar se twee moord-insidente het in Ladybrand en Vanstadensrus plaasgevind en is produsente geteiken. In 2018 se 16 plaasaanvalle, was agt produsente, een opkomende landbouers en sewe werkers geteiken.