Nuusflitse – Augustus 2019 - Wilken: Groter fokus moet op suksesstories wees

Wilken: Groter fokus moet op suksesstories wees

Die landbousektor en landbouers, in samewerking met landboubesighede en -bedrywe, het groot suksesstories van volhoubare grondhervorming. Maar dit geniet nie die aandag wat dit verdien nie, veral nie deur die regering nie. Só het Francois Wilken, President van Vrystaat Landbou (VL), by VL se jaarkongres in Bloemfontein gesê.

Daarom meen hy moet daar ’n groter fokus op hierdie suksesstories gesit word. Wilken het by die kongres, wat op 7 en 8 Augustus 2019 plaasgevind het, gesê daar is ook ’n negatiewe verbintenis met die woord grondhervorming. Hy meen ook dit is een van die grootste uitdagings vir die landbousektor.

“Ek wil graag nie die woord grondhervoming gebruik nie. Ek wil dit verander na die ontwikkeling van die landbousektor.

“Dit klink vir my meer volhoubaar. Want die oomblik wanneer jy praat van grondhervorming, dan skep jy die indruk dat ek wil vat by die een en gee vir die ander. Landbou Ontwikkeling is volhoubaar, doelgerig en daarmee kan ons resultate behaal.”

Hy het ook bevestig dat die naam van VL se Grondsake-komitee reeds vroeër na die Landbou Ontwikkeling-komitee verander het, omdat die werksaamhede daarvan eerder positief en opbouend moet wees. Dit sal meer op die ontwikkeling van alle nuwe toetreders tot die landbou fokus en nie net op nuwe swart toetreders nie. VL het reeds in Junie se Nuusflitse hieroor berig.

Bestuur werk strategie uit

’n Kerngroep VL-bestuurslede sal ook na aanleiding van dr Frans Cronje, Hoof Uitvoerende Beampte van die Instituut vir Rasseverhoudinge, se toespraak by VL se kongres oor die gronddebat en onteiening sonder vergoeding koppe bymekaarsit.

Cronje het ’n vyfpunt-strategie gegee vir hoe om risiko’s teë te werk. Volgens dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van VL, sal die bestuur daaraan skaaf vir uitvoering, hoofsaaklik wat grondsake betref.

Klik hier en gaan na bladsy 16 om Cronje se vyfpunt-strategie te sien.

 

Kyk na hierdie suksesstories

By VL se jaarkongres is besluit om meer klem te lê op bogenoemde suksesstories en dit in die openbaar te kry. 

Klik hier vir VL se verslag oor Landelike Ontwikkeling wat in 2019 se Kongresboek verskyn het. Dié verslag bevat verskeie skakels na suksesstories.

 

Ander voorbeelde (klik op die skakel) van suksesstories, sluit in:

Landbou.com en Agri SA se Grondberaad

14 models of Transformation success

10 Vrystaat modelle

 

Armour lewer voorlegging by viering

Armour het ook op 10 Augustus 2019 in Riversdal by die viering van Amos Agrimin se 25ste bestaansjaar aan ’n paneelbespreking oor landelike transformasie se suksesstories deelgeneem.

“Die belangrikheid van brugbouers of vaderfigure in gemeenskappe is beklemtoon om inklusiewe ontwikkeling, samehorigheid en die bou van vertroue te bevorder om gemeenskappe vorentoe te neem,” het hy gesê.

Klik hier vir Armour se voorlegging.

Klik hier vir 'n skakel na Amos Agrimin se webtuiste.