Digicoms

Nuusflitse – September 2019 - Dié dorpe loop meeste deur onder veediefstal

Dié dorpe loop meeste deur onder veediefstal

Harrismith, Selosesha en Bethlehem. Dit is die areas in die Vrystaat wat volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se statistieke, vir die finansiële jaar, die ergste onder veediefstal deurgeloop het.

Die meeste sake is by hierdie dorpe se polisiestasies aangemeld en boonop tel dié drie ook onder die voorste 30 in die land wat veediefstal betref.

Volgens die SAPD se syfers, wat vanaf 1 April 2018 tot 31 Maart 2019 strek, is 497 sake (uit ’n totaal van 4 066 sake in die Vrystaat), by hulle aangemeld. Dit beteken 12, 22% van die voorvalle in die provinsie kom hier voor. Verder het Harrismith ’n toename van 17 sake (8,7%), Selosesha ’n afname van 13 sake (-7.56%) en Bethlehem ’n toename van 5 sake (4.17%) beleef wanneer dit met die vorige jaar vergelyk word.

Die ander polisiestasies in die Vrystaat, wat saam met hierdie drie die voorste 17 stasies in die provinsie uitmaak, het almal tussen 62 en 92 sake in die finansiële jaar beleef. Hulle verteenwoordig sowat 20% van Vrystaat se 88 dorpe en is Bultfontein, Dewetsdorp, Edenburg, Ficksburg, Kestell, Koppies, Makwane, Memel, Namahadi, Phuthaditjaba, Steynsrus, Tweeling, Ventersburg en Vrede. ’n Totaal van 1 505 sake (37.01% van die Vrystaat se voorvalle) is by hulle aangemeld.

Sewe van bogenoemde stasies is egter reeds sedert 2011, met loodsing van die Landelike-beveiligingstrategie as hoë misdaadareas oor veediefstal in die provinsie uitgewys. Van hulle wat steeds onder die voorste 14 resorteer is Harrismith, Selosesha, Bethlehem, Phuthaditjaba, Vrede, Ficksburg en Makwane.

Die 11 stasies of dorpe wat langs die grens tussen Suid-Afrikan en Lesotho geleë is, saam met vyf dorpe wat Phuthaditjaba se stasies insluit, het nagenoeg 1 066 veediefstal sake beleef (26.21% van die Vrystaat se totaal).

Hulle beleef almal toenames

Altesaam veertig dorpe in die provinsie het gedurende die laaste finansiële jaar hul grootste toename in aangemelde veediefstal-sake oor die laaste vier jare beleef. Van hulle is Trompsburg (toename van 95.24%; met 20 sake), Koppies (71.79%; 28 sake), Viljoenskroon (69.23%; 18 sake), Wepener (62.96%; 17 sake), Villiers (60%; 18 sake), Zamdela (53.85%; 14 sake), Cornelia (51.52%; 17 sake), Memel (38.64%; 17 sake), Fouriesburg (34.09%; 15 sake), Kestell (33.90%; 20 sake), Bultfontein (23.08; 12 sake) en Theunissen (22.73%; 10 sake). Twintig dorpe het ’n afname in die vier jaar periode beleef.

Volgens Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), meld die SAPD se statistieke egter nie die getal en tipes vee wat gesteel word nie, dit wat teruggevind is nie en ook nie wat die arrestasie- en vervolgingsyfer is nie (suksesvolle vervolging in howe).

“Tussen 30% tot 70% van landbouers meld nie meer veediefstal by die polisie aan nie,” sê sy. Volgens haar blyk dit dat ’n klomp landbouers vertroue in die kriminele regstelsel verloor het.

Analises wys dat die gemiddelde getal vee wat per insident/saak gesteel is wissel van 10 -18 skape en 6 tot 12 beeste. Dus kan daar beraam word dat tussen 35 000 tot 75 000 stuks vee in die Vrystaat gedurende die finansiële jaar gesteel is, wat verliese van miljarde rande teweegbring.

Buys sê gevolglik kan die werklike impak en omvang van veediefstal in die provinsie nie bepaal word nie, maar dat miljarde rande se verliese deur landbouers gelei word.

 

Landbouers kan só help om veediefstal te keer

Volgens Buys word landbouers weer eens versoek om alle inligting oor veediefstal, asook aangemelde sake, aan hul onderskeie veiligheidsverteenwoordigers van landbouverenigings of gebiedskantore deur te gee sodat dit deel van VL se VL VKB Veiligheidslessenaar se inligting kan uitmaak.

“Landbouers moet ook seker maak dat hul ’n veeregister byhou, hul diere van ’n jong ouderdom af gebrandmerk en/of getatoeëer is, dat hulle oor ’n brandmerk-registrasiesertifikaat beskik, hul kontakbesonderhede en brandmerke by die Registrateur van Brandmerke bevestig is en dat hulle deel van georganiseerde landboustrukture in hul area vorm,” sê Buys. Sy meen die kommunikasie of deurgee van inligting is bitter belangrik om veediefstal voorkomend aan te spreek.

Volgens haar moet dorpe of polisiestasies wat langs hoofpaaie geleë, soos die N1 en N3, groter sigbaarheid van wetstoepassers, provinsiale verkeer, sogenaamde “Highway patrol” en sigbare polisiering insluit, kry. Dit sal help om die beweging van vee met bakkies, sleepwaens en trokke te monitor en uiteindelik seker te maak dat mense wat vee vervoer aan die nodige wetgewing voldoen en oor permitte beskik.