Digicoms

Nuusflitse – September 2019


VL lê klem op verantwoordbaarheid en stem in tot verstandhouding met Departement van Landbou

Verantwoordbaarheid. Dit is ’n opsomming van Francois Wilken, President van die Vrystaat Landbou (VL), se boodskap aan William Bulwane, LUR vir Landbou en Landelike Ontwikkeling in die Vrystaat, en sy afvaardiging.

Volgens Wilken is die belangrikste aspek van ’n verhouding tussen VL en Bulwane se departement om verantwoordbaar te wees. “As ons dit nie gaan regstel nie, kan ons maar net sowel huis toe gaan,” het hy op 5 September 2019 by ’n vergadering tussen lede van VL se Uitvoerende Bestuur en die department gesê.

Albei partye het op die vergadering, wat ook deur dr Tankisi Masiteng bygewoon is, ooreengekom om ’n memorandum van verstandhouding op te stel om ’n werksverhouding tussen hulle te struktureer. Masiteng is die Hoof van die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling in die Vrystaat.

Wilken het daarop aangedring dat die vergadering nie net nóg ’n gepraat met geen tasbare resultate, soos soortgelyke vergaderings in die verlede, is nie. Tommie Esterhuyse, Vise-president van VL, het ook beklemtoon dat wedersydse vertroue nodig is om doeltreffend vorentoe te gaan en dat die department se leierskap deur voorbeeld moet lei. “Dan kan ons op die positiewe aspekte konsentreer om die sektor in die toekoms te inspireer,” het hy gesê toe hy Bulwane vir die ontmoeting bedank het.

 

Kwessies aangespreek

Wilken het VL se standpunt oor die privaatbesit van grond benadruk en gesê deur nie volle titelaktes aan nuwe toetreders tot landbou, via gesubsidieerde bankkrediet, te gee nie, ook iets is wat opkomende landbouers terughou.

Hy het die Departement van Landbou se veearts-dienste en die weermag geprys vir die voorkoming van die verspreiding van miltsiekte vanaf Lesotho na Suid-Afrika en het die nasionale Departement van Landbou gekritiseer oor die hantering van bek-en-klouseer, wat Suid-Afrika miljarde rande aan uitvoerinkomste gekos het.

Van die belangrikste kwessies wat deur VL geopper is, was onder meer landelike misdaad en veediefstal wat die volhoubaarheid van landbouers (groot, klein en bestaans) en plaaswerkers beïnvloed. Probleme by die Lesotho-grens, wat brandstigting, misdaad en die bedreiging van die verspreiding van aanmeldbare siektes weens onvoldoende polisiëring (mannekrag, voertuie, ondersoekkapasiteit en skutte) insluit, is ook uitgelig.

Die skokkende toestand en instandhouding van landelike paaie en die sluiting van landelike lisensiërings- en toetsstasies was ook op die agenda, asook die bedreiging van goedkeurings vir gas- en myn-prospektering en die departement se disfunksionele kantore in klein dorpies.

 

Bulwane se pleidooi aan landbouers

Bulwane het plaasmoorde en alle vorme van landelike misdaad veroordeel en erken dat die regering te veel in silo’s werk. Hy het gesê hy sal spesifieke departementele kwessies na die regte partye en Lesotho-eweknieë herlei en het voorgestel om oor twee maande weer te vergader om die vordering te evalueer.

Hy het VL versoek om saam te werk om die bruto binnelandse produk van die provinsie te verhoog en erken dat landbou die enigste sektor is wat die ekonomie kan laat groei en meer werk kan skep. Bulwane het ’n pleidooi aan VL landbouers gerig om hul vaardighede te deel en nuwe toetreders tot landbou te help om hul voete te vind en toegang tot markte te kry om volhoubare, ekonomies lewensvatbare landbou-eenhede te hê.


Noodsaaklike vergadering met owerhede oor veediefstal en misdaad gehou

Misdaad en veediefstal is só ’n groot probleem in die provinsie dat landbouers selfs in die toekoms privaat-ondersoekers kan inspan om te help om dit te bekamp. Met hierdie stelling het Francois Wilken, President van Vrystaat Landbou (VL), die impak van dié probleme aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Vrystaat beklemtoon.

Hy het gewaarsku dat produsente hulle hiertoe kan wend, aangesien hulle “geweldige finansiële verliese ly en daar ’n lae voorkoms van arrestasies en kriminele vervolging in sekere gebiede is”. Hy het terselfdertyd ook die SAPD bedank vir die werk wat hy reeds doen.

“Daar moet ook meer gefokus word op die verantwoordbaarheid van polisiebeamptes in terme van bevelstrukture,” het Wilken gesê. Johann Stadler, Voorsitter van die Veediefstal-voorkomingsforum van die Vrystaatse Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), het by hom aangesluit deur ook verskeie probleme uit te lig.

In ’n poging om misdaad aan te spreek, het Wilken en VL, asook die RPO, op 16 September 2019 ’n noodsaaklike vergadering met senior bestuur van die SAPD en NVG in die provinsie gehou. Kwessies soos hoë veediefstal, probleme by die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho, asook tekorte aan personeel en hulpmiddels by veediefstaleenhede, was onder meer op die agenda.

SAPD spreek probleme só aan

VL en die RPO het aan die betrokke partye gesê daar was ’n toename in veediefstal van tot 100% in sekere gebiede. Volgens Wilken is die opleiding van polisielede by veediefstaleenhede, tekorte aan personeel by sekere polisiestasies, gebrek aan dienslewering en tekorte aan hulpbronne soos voertuie by polisiestasies ook bespreek.

Lt. Genl. Moeketsi Sempe, Provinsiale Kommissaris van die SAPD, het gesê die SAPD neem kennis van die probleme en dat hulle daarna streef om dit aan te preek. Ekstra beamptes gaan, sodra hulle hul opleiding voltooi het, byvoorbeeld by veediefstaleenhede geplaas word.

Verder sal nóg ekstra voertuie beskikbaar gestel word om te help om misdaad te bekamp. Dit volg nadat sowat 50 voertuie vroeër aan landelike polisiestasies se koördineerders voorsien is.

 

Landbouers se plig

Adv. Jacques Harrington het namens die NVG produsente versoek om seker te maak hul diere is gemerk en dat hulle dit gereeld getel. Gevalle kom voor waar die SAPD produsente inlig dat hul vee gesteel is en dit maak sake ingewikkeld, aangesien landbouers nie betyds kennis neem van hul diere wat gesteel word nie.

Wilken het gesê alle partye is versoek om binne die huidige raamwerk saam te werk om misdaad te bekamp.


VL bedank lede vir droogtehulp; doen beroep vir wanneer jy skenk

Groot gedeeltes van die Noord-, Oos- en Wes-Kaap gaan steeds onder ’n geweldige droogte gebuk en verskeie landbouers is in die greep daarvan vasgevang. Weens die erge droogtetoestande word daar baie skenkings van voer en ander benodighede aan dié gebiede gemaak. Hierdie skenkings word vreeslik verwelkom en bied beslis ’n tydelike uitkoms, maar met die omstandighede wat voortduur het mense en diere altyd hulp nodig.

Verskeie skenkings is al vanuit die Vrystaat aan droogtegebiede gedoen en Vrystaat Landbou (VL) bedank diegene vir wie dit moontlik is om landbouers in nood by te staan.

Hoewel VL nie sy lede voorskryf nie, doen hy ’n beroep op skenkers om moontlik met die spesifieke areas wat hulp ontvang se landbouverteenwoordigers in verbinding te tree. Dit is om seker te maak van spesifieke reëlings, terme en voorwaardes waaronder hulp geskied en om duidelik te verstaan waarop ooreengekom word. “Hoe korter die ketting tot op grondvlak waar die behoefte is, hoe minder is die kans vir onduidelikheid en misverstande,” sê Francois Wilken, President van VL.

Indien lede onseker is oor ’n spesifieke area of waarheen ’n skenking moet gaan, kan hulle met die spesifieke georganiseerde landboukantoor in die betrokke provinsie in verbinding tree. Dié kantoor dra kennis van waar behoeftes is en wie om te kontak om seker te maak skenkings kom op die regte plekke uit.

Lede kan ook VL se kantoor kontak indien hulle nie oor die kontakbesonderhede van die provinsiale kantoor in ’n provinsie beskik nie.

Volgens dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van VL, is daar egter ook gewoonlik ’n groot behoefte aan vervoer van die skenkings. “Dikwels wanneer landbouers self hulle trokke met voer stuur, is die ontvangers, via hul landboubesigheid, gewoonlik heel gewillig om diesel in te gooi,” sê hy.

  • Landbouers van die Jacobsdal-omgewing, wat deel is van die Rietrivier-landbouvereniging, het byvoorbeeld in September 2019 vragte droogtepille aan mede-landbouers in Sutherland geskenk. Die voer of bale wat ingesamel is, is in pille (’n mengsel van onder meer mielies, lusern en koringkaf is) omgesit. Dié pille kan makliker en meer ekonomies vervoer word, is makliker om uit te deel en te voer én ook uiteindelik beter voer vir die diere. Verder spaar dit ook onkostes aan die ontvangers en kan hulle dit meer doeltreffend aanwend.

Bande regoor provinsie gesmee tydens besoek aan VS Agri

Bande is regoor die Vrystaat gesmee – tussen jong landbouers uit verskeie dele van die provinsie én ook met hul hoofborg. Só som Waldo van Niekerk, Voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se Jongboer-komitee, ’n onlangse besoek aan VS Agri in Vrede op.

Volgens hom is sulke geleenthede belangrik vir jong landbouers in georganiseerde landbou om by mekaar uit te kom, gees te vang én hul borge beter te leer ken. Tydens die besoek aan VL se Jongboer-komitee se hoofborg op 12 September 2019 is daar onder meer by VS Agri se kantore, fabriek en ander bedrywighede ingeloer.

Volgens Van Niekerk het die Vrystaatse landbouers heelwat nuwe landboukennis opgedoen en is dit ook van VL se kant af belangrik om by VS Agri uit te kom. “Ons stap nou al ’n lekker pad van twee jaar met VS Agri. Oom Hein-hulle het ons baie bederf. Hulle is manne wat ’n passie het vir jong landbouers en ook vir die landbou in die Vrystaat.”

Hy meen dit was interessant om te sien hoe VS Agri as ’n besigheid werk en wat hy alles doen. Hulle het byvoorbeeld ’n kunsmisfabriek, veevoer-afdeling en gas-implementering in die saaibedryf besoek. Van Niekerk moedig landbouers aan om VS Agri in verband met hierdie bedrywighede te kontak en meen hul tegnologie en kennis kan baie werd wees.

Hy het ook vir VS Agri vir sy gasvryheid en borgskap bedank. “Ons het die aand by die Poortje dam oorgeslaap waar VS Agri vir ons ’n spitbraai en verversings gereël het. Hulle doen werklik moeite en ons stap graag ’n pad met hulle. Hulle is mens-mense.”

Van Niekerk het ook vir John Williams bedank wat die groep se vervoer vanaf Bloemfontein na Vrede moontlik gemaak het. Hy raai landbouers aan om hulle puik diens op die proef te stel.


Fidelity ADT maak aanstelling in VS om landbouers te help

Fidelity ADT, met wie Vrystaat Landbou (VL) vroeër vanjaar ’n ooreenkoms aangegaan het om te help om misdaad in die provinsie te bekamp, het ’n toegewyde persoon aangestel om landelike gemeenskappe in die Vrystaat te help.

Ernest Botha is aangewys om landbougemeenskappe met die oprigting van kameras, alarms en/of stelsels by privaatwonings en in landelike gebiede by te staan.

“Landbouverenigings en/of gebiedskantore wat kamerastelsels wil oprig op hul hoofingang en -uitgangroetes kan ook met Ernest skakel vir kwotasie-doeleindes. AgriSecuritas aansoeke kan ook hier ter sprake kom vir befondsing van kamerastelsels,” sê Jakkals le Roux, Voorsitter van die Landelike Veiligheidskomitee by VL.

Fidelity ADT het ook aangedui dat hy voor die einde van die jaar, in samewerking met VL, ’n Gesamentlike Operasionele Sentrum vir die Vrystaat in Bloemfontein gaan vestig. Die doel sal wees om landelike misdade deur die integrasie van kameranetwerke en inligtingskakeling te help monitor.

Volgens Le Roux is die eenvormigheid, integrasie en koördinering van misdade van kardinale belang om dit te bekamp en voorkomend aan te spreek.

Lede van VL kan Botha by 083 570 1655 kontak. Enige ander navrae kan aan VL, via VL se VL VKB Veiligheidslessenaar, gerig word.


Kry wenke vir dieselrabat-probleme

Vrystaat Landbou (VL) verneem dat landbouers steeds probleme met die terugbetaling van dieselrabatte ondervind. Lede van VL is onder meer ontevrede oor sekere beperkinge wat voorkom en oor die moeisame proses wat gevolg moet word.

Volgens Dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van VL, is die algemene reël dat diesel terugbetaal kan word wanneer daar nie op publieke paaie gery word nie. Die dieselrabat is juis ingestel, aangesien landbouers byvoorbeeld nie op grondpaaie heffings vir die padongeluk-fonds en brandstof hoef te betaal nie. Plaasvoertuie en implemente gebruik dikwels nie publieke paaie, waar heffings geld, nie.

Landbouers word ongelukkig verplig om streng boek te hou van waar hul voertuie ry. VL is bewus daarvan dat lede probleme met dié stelsel en die terugbetalings van dieselrabatte ondervind. Daarom neem hy en Agri SA dikwels die kwessies met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) op.

 

Lees meer or hoe dieselrabatte werk:

Klik hier vir inligting op die SAID se webtuiste oor die dieselrabat-stelsel.

Klik hier vir inligting op die SAID se webtuiste oor hoe dieselrabatte in landbou werk.

Klik hier vir ’n dokument van Agri SA oor samesprekings wat tussen Agri SA, Graan SA en die SAID plaasgevind het oor die terugbetaling van dieselrabatte.

 

Sien ook vorige Nuusflitse van VL oor dieserabatte:

Klik hier vir Augustus 2019.

Klik hier vir Oktober 2018.


Skelms probeer landbouers só om bos lei

Landbouers in die Vrystaat, veral diegene wat onder finansiële druk is, moet seker maak hulle word nie ingedoen nie. Vrystaat Landbou (VL) waarsku sy lede teen die skelmstreke van booswigte wat kwesbare landbouers om die bos probeer lei.

Volgens Gernie Botha, Regsadviseur van VL, moet landbouers seker maak met wie hulle te doen het, ooreenkomste aangaan en ook die reputasies van die betrokke partye goed nagaan.

VL verneem daar is individue wat maak of hulle landbouers finansieël kan help deur lenings aan te bied, veral wanneer oplossings soos banke of ander instellings nie meer hulp kan aanbied nie. Hulle konsentreer glo op landbouers wat finansieël swaarkry.

Botha sê ’n klomp beloftes word glo gemaak van geld wat voorgeskiet gaan word. “Hulle gesels blykbaar so ’n bietjie met jou en nadat hulle inligting van jou verkry het, laat hulle jou weet dat jy vir ’n sekere bedrag geld kwalifiseer.”

Daarna probeer hulle ’n mens moed inpraat en is baie vriendelik, maar wil eintlik ’n sogenaamde “administrasiefooi” van die voornemende lener hê. Wanneer hierdie fooi betaal is, word kommunikasie egter al hoe minder en moeiliker. Uiteindelik word geen leningsbedrag oorbetaal nie.

Verder word daar ook nie van papierwerk gebruik gemaak nie, wat dit verder moeilik maak om weer by die bedrieërs uit te kom.


Maak seker jy is deel van gewilde Toekomsfokusdag

Hoe doeltreffend gebruik jy die GROOT 5 in jou boerdery? Kom meet jouself tydens vanjaar se 16de Senwes Toekomsfokus!

Is jou boerdery waarlik Toekomsgefokus? Wel, op 29 Oktober 2019 by Nampopark kry produsente die unieke geleentheid om die top aspekte in boerdery die hoof te bied tydens die aanbieding van die 16de Senwes Toekomsfokus.

Vanjaar sal honderde produsente weereens op Nampopark toesak vir hierdie immergewilde Toekomsfokusdag. Die vraag is: Is die GROOT 5 deel van jou boerdery?

En indien jy gewonder het, ons praat nie hier oor wild nie. In jou boerdery is daar vyf top aspekte wat jou koste-effektiwiteit, produktiwiteit en winsgewendheid bepaal. Dit is jou strategie, bestuursinligtingstelsels, hulpbronne, finansies en vennootskappe.

Gebruik jy nog ou landboumetodes of sukkel jy met finansiële beplanning of skuld terwyl jy nie byhou met tegnologiese uitbreidings nie? Kry jy die beste uit jou toerusting en wil jy jou landboupraktyke na die volgende vlak neem?

Hierdie geleentheid is dan dié een wat jy nie kan misloop nie. Jaco Minnaar, Voorsitter van Graan SA en Senwes-direkteur, sal as fasiliteerder op dié dag optree en verskeie ander produsente se praktyksuksesse deel. Hierdie suksesse is dan telkens op een van die onderskeie aspekte van die GROOT 5 gefokus.

Jaco is al twee dekades ’n produsent op die plaas Botesrust in die Hennenman-omgewing en sedert 2000 ook by verskeie georganiseerde landboubeheer­strukture betrokke, wat verskeie Agri SA beleidskomitees insluit. Hy is ook sedert 2004 ’n lid van die Uitvoerende Komitee van Vrystaat Landbou en deel van Graan SA se bestuurspan vir die afgelope vier jaar. Hy is ook ’n direkteur van Senwes en voorsitter van die Uitvoerende Komitee van Graan SA en die Vergoeding- en Risikokomitee van Senwes. ’n Landbouer in die middel van georganiseerde landbou.

Hier gaan dit oor produsente wat produsente help, landboumetodes en hulp wat vir landbouers werk, spesifiek daarop gefokus om jou boerdery se besigheidsukses te bepaal. Jy kan dus nie verkeerd gaan met dekades se ondervinding op jou voorstoep tydens die dag nie.

Dan is daar ook tyd vir vraag- en antwoordsessies indien jy spesifieke kwelvrae het, wat aangevul word met interessante videodemonstrasies, gekompakteer vir jou gerief. Die wie’s wie van landbou gaan daar wees – so gebruik die tyd nuttig om te netwerk, om verhoudings te bestuur en jou persoonlike kwessies aan te spreek. Jy bestuur die dag.

En om alles te kroon, open ds Laurie Naude die verrigtinge, die gewilde kunstenaar Appel tree op en jy sal ook ’n spitbraai en iets te drinke kan geniet. Vir slegs R100 is dit ook sakpas vir elke produsent, sy personeel en besigheidsvennote. Hierdie fondse is ten bate van die onderskeie jongboerkomitees.

Die dag word al sedert 2004, in trotse samewerking met Graan SA, en die jongboerkomitees van Vrystaat Landbou en Agri NW aangebied en is werklik ’n plek waar daar na volhoubare oplossings vir produsente gesoek word.

RSVP by Shevaun Haig (018 464 7129 / Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.), Elize Spence (051 444 4609 / Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.) of Marlize Fritz (018 632 3612 / Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.). – Senwes 


Meeste plaasaanvalle en -moorde kom oor naweke in VS voor

Die meeste plaasmoorde en –aanvalle in die Vrystaat in die laaste ses maande het naby of oor naweke plaasgevind. Dit is volgens inligting van die Vrystaat Landbou (VL) VKB Veiligheidslessenaar wanneer daar na hierdie statistiek vanaf 1 April 2019 tot 25 September 2019 gekyk word.

Boonop was daar ook ’n toename in plaasaanvalle en –moorde in die provinsie wanneer hierdie tydperk met verlede jaar s’n vergelyk word.

“Die meeste aanvalle in dié tydperk in 2019 is op Vrydae, gevolg deur Saterdae, gepleeg. 16 van die aanvalle was tussen 18:00 en 06:00 die volgende oggend gepleeg,” sê Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL.

Altesaam 24 plaasaanvalle, wat vier moord-insidente insluit, het vanaf 1 April tot 25 September 2019 in die Vrystaat op plase of kleinhoewes plaasgevind. Inligting toon dat twee van die moord-insidente was op Vrydae, gevolg deur ’n Saterdag. Een het tussen ’n Woensdag en Vrydag plaasgevind.

Volgens die VL VKB Veiligheidslessenaar se inligting, het daar in dieselfde tydperk in 2018 altesaam 19 aanvalle, wat twee moord-insidente insluit, in die provinsie voorgekom.

Buys sê daar het in Junie, Julie en Augustus 2019 elkeen vyf aanvalle/moorde plaasgevind. “Die vier moord-insidente het voorgekom in Bethlehem, Boshof, Hoopstad en Vredefort. Hiertydens is ’n produsent, ’n werker en twee mense wat op plase woon vermoor,” sê sy.

Meeste van vanjaar se aanvalle/moorde in die betrokke tydperk het op plase, slegs een was op ’n kleinhoewe, voorgekom. Tien van die 20 aanvalle was op produsente, twee op opkomende landbouers, vyf op werkers en drie op mense wat op plase woon.

Verdere inligting toon dat in vyf van die aanvalle in 2019 twee slagoffers aangeval is, terwyl die ander aanvalle almal op een slagoffer gemik was. Die dorpe wat vanjaar meer as twee aanvalle, wat moorde insluit, beleef het, is Clocolan, Odendaalsrus, Mafube en Vredefort.

Verlede jaar se statistiek in dieselfde tydperk toon dat albei moord-insidente op produsente plaasgevind het. Verder was agt van die 17 aanvalle op produsente, sewe op werkers, een op ’n opkomende landbouer en een een waar ’n werker én produsent aangeval is.

Die maande gedurende dié tydperk in 2018 waarin daar die meeste aanvalle voorgekom het, was Junie en Augustus. Daar het saam in dié maande 12 insidente voorgekom, met Warden en Ladybrand wat elkeen meer as twee insidente beleef het. 


Dié dorpe loop meeste deur onder veediefstal

Harrismith, Selosesha en Bethlehem. Dit is die areas in die Vrystaat wat volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se statistieke, vir die finansiële jaar, die ergste onder veediefstal deurgeloop het.

Die meeste sake is by hierdie dorpe se polisiestasies aangemeld en boonop tel dié drie ook onder die voorste 30 in die land wat veediefstal betref.

Volgens die SAPD se syfers, wat vanaf 1 April 2018 tot 31 Maart 2019 strek, is 497 sake (uit ’n totaal van 4 066 sake in die Vrystaat), by hulle aangemeld. Dit beteken 12, 22% van die voorvalle in die provinsie kom hier voor. Verder het Harrismith ’n toename van 17 sake (8,7%), Selosesha ’n afname van 13 sake (-7.56%) en Bethlehem ’n toename van 5 sake (4.17%) beleef wanneer dit met die vorige jaar vergelyk word.

Die ander polisiestasies in die Vrystaat, wat saam met hierdie drie die voorste 17 stasies in die provinsie uitmaak, het almal tussen 62 en 92 sake in die finansiële jaar beleef. Hulle verteenwoordig sowat 20% van Vrystaat se 88 dorpe en is Bultfontein, Dewetsdorp, Edenburg, Ficksburg, Kestell, Koppies, Makwane, Memel, Namahadi, Phuthaditjaba, Steynsrus, Tweeling, Ventersburg en Vrede. ’n Totaal van 1 505 sake (37.01% van die Vrystaat se voorvalle) is by hulle aangemeld.

Sewe van bogenoemde stasies is egter reeds sedert 2011, met loodsing van die Landelike-beveiligingstrategie as hoë misdaadareas oor veediefstal in die provinsie uitgewys. Van hulle wat steeds onder die voorste 14 resorteer is Harrismith, Selosesha, Bethlehem, Phuthaditjaba, Vrede, Ficksburg en Makwane.

Die 11 stasies of dorpe wat langs die grens tussen Suid-Afrikan en Lesotho geleë is, saam met vyf dorpe wat Phuthaditjaba se stasies insluit, het nagenoeg 1 066 veediefstal sake beleef (26.21% van die Vrystaat se totaal).

Hulle beleef almal toenames

Altesaam veertig dorpe in die provinsie het gedurende die laaste finansiële jaar hul grootste toename in aangemelde veediefstal-sake oor die laaste vier jare beleef. Van hulle is Trompsburg (toename van 95.24%; met 20 sake), Koppies (71.79%; 28 sake), Viljoenskroon (69.23%; 18 sake), Wepener (62.96%; 17 sake), Villiers (60%; 18 sake), Zamdela (53.85%; 14 sake), Cornelia (51.52%; 17 sake), Memel (38.64%; 17 sake), Fouriesburg (34.09%; 15 sake), Kestell (33.90%; 20 sake), Bultfontein (23.08; 12 sake) en Theunissen (22.73%; 10 sake). Twintig dorpe het ’n afname in die vier jaar periode beleef.

Volgens Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), meld die SAPD se statistieke egter nie die getal en tipes vee wat gesteel word nie, dit wat teruggevind is nie en ook nie wat die arrestasie- en vervolgingsyfer is nie (suksesvolle vervolging in howe).

“Tussen 30% tot 70% van landbouers meld nie meer veediefstal by die polisie aan nie,” sê sy. Volgens haar blyk dit dat ’n klomp landbouers vertroue in die kriminele regstelsel verloor het.

Analises wys dat die gemiddelde getal vee wat per insident/saak gesteel is wissel van 10 -18 skape en 6 tot 12 beeste. Dus kan daar beraam word dat tussen 35 000 tot 75 000 stuks vee in die Vrystaat gedurende die finansiële jaar gesteel is, wat verliese van miljarde rande teweegbring.

Buys sê gevolglik kan die werklike impak en omvang van veediefstal in die provinsie nie bepaal word nie, maar dat miljarde rande se verliese deur landbouers gelei word.

 

Landbouers kan só help om veediefstal te keer

Volgens Buys word landbouers weer eens versoek om alle inligting oor veediefstal, asook aangemelde sake, aan hul onderskeie veiligheidsverteenwoordigers van landbouverenigings of gebiedskantore deur te gee sodat dit deel van VL se VL VKB Veiligheidslessenaar se inligting kan uitmaak.

“Landbouers moet ook seker maak dat hul ’n veeregister byhou, hul diere van ’n jong ouderdom af gebrandmerk en/of getatoeëer is, dat hulle oor ’n brandmerk-registrasiesertifikaat beskik, hul kontakbesonderhede en brandmerke by die Registrateur van Brandmerke bevestig is en dat hulle deel van georganiseerde landboustrukture in hul area vorm,” sê Buys. Sy meen die kommunikasie of deurgee van inligting is bitter belangrik om veediefstal voorkomend aan te spreek.

Volgens haar moet dorpe of polisiestasies wat langs hoofpaaie geleë, soos die N1 en N3, groter sigbaarheid van wetstoepassers, provinsiale verkeer, sogenaamde “Highway patrol” en sigbare polisiering insluit, kry. Dit sal help om die beweging van vee met bakkies, sleepwaens en trokke te monitor en uiteindelik seker te maak dat mense wat vee vervoer aan die nodige wetgewing voldoen en oor permitte beskik.


Vul sensus-vraelys só in as dit pla

Vrystaat Landbou (VL) moedig sy lede aan om sover moontlik aan die Sensus vir Kommersiële Landbou (CoCA) deel te neem.

Dit volg nadat hy verskeie klagtes van lede ontvang het wat ongemaklik is oor van die inligting wat deel sensus uitmaak. Daarom doen VL ’n beroep op landbouers om die dele van die vraelys waarmee hulle gemaklik is in te vul en die gedeeltes uit te los wat hulle nie bereid is om in te vul nie.

Die inligting wat deur sensus ingesamel word, is noodsaaklik vir beleidsbesluite en beplanning van die landbousekor in Suid-Afrika. Uitslae van die sensus word reeds in November 2019 verwag.

VL het reeds verskeie kere met Statistieke Suid-Afrika (Stats SA), wat die sensus se inligting versamel, vergader om seker te maak alles is in plek en kwessies word aangespreek.

Daar is ook vroeër in VL se Nuusflitse van Julie 2019 oor die vertroulikheid van die sensus berig. Stats SA het byvoorbeeld by ’n vergadering op 3 Julie 2019 dit duidelik gemaak dat alle inligting vertroulik is. Hy mag glad nie enige individuele of persoonlike inligting met enige persoon of instelling deel nie, anders sal die geloofwaardigheid van al sy statistiek daarmee heen wees.

Stats SA voldoen ook aan internasionale statistiekstandaarde en resorteer onder die Statistiekwet. Artikel 17 van die Wet op Statistieke (Wet No. 6 van 1999) verplig hom om alle inligting wat verskaf word deur respondente as streng vertroulik te hanteer. Dit word ook so op die vraelys aangedui. Resultate word verder slegs in ’n saamgestelde formaat uitgegee.

 

Klik hier om alle inligting oor die sensus op CoCA se webtuiste te kry.

Klik hier vir die berig, wat onder meer selftelling en ander belangrike inligting insluit, wat in VL se Nuusflitse van Julie 2019 verskyn het.

Klik hier vir ’n berig oor die sensus wat in VL se Nuusflitse van Junie 2019 verskyn het.


Maak op hierdie manier bydrae tot LE Fonds

Vrystaat Landbou (VL) het onlangs skrywes aan sy landbouverenigings gestuur oor die LE (Litigation & Environment) Fonds wat deur Agri SA op die been gebring is.

Die primêre doel van die fonds is om geld bymekaar te maak en aan te wend tot vraagstukke wat die landbousektor op ’n nasionale vlak negatief kan beïnvloed. Daar is alreeds geld uit die LE Fonds gebruik vir aangeleenthede waarin die Vrystaat ook geraak word.

Indien landbouers meer inligting oor die LE Fonds wil bekom, kan hulle hul betrokke landbouvereniging of Vrystaat Landbou se kantoor (051 444 4609) kontak.

 

Indien landbouers ’n bydrae tot die belangrike fonds wil maak, kan inbetalings in die volgende rekening geskied:

Rekening naam: Vrystaat Landbou

Bank: ABSA

Tak: Brandwag

Takkode: 632005

Rekening nr: 470940670

Verwysing: LE Fonds