Nuusflitse – Oktober 2019 - Padprobleme: Nuwe aksieplan én verteenwoordigers op grondvlak ingespan

Padprobleme: Nuwe aksieplan én verteenwoordigers op grondvlak ingespan

Om die swak toestand van paaie in die Vrystaat beter aan te spreek en aksies daaroor te help koördineer. Dit is die doel ’n aksieplan van Vrystaat Landbou (VL) wat onlangs saamgestel is.

Die vernaamste aksie wat deel daarvan uitmaak is dat landbouverenigings ’n toegewyde verteenwoordiger verantwoordelik vir infrastruktuur aanstel. Dié persoon sal die kontak in die gebied oor hierdie aangeleenthede wees, aksies op grondvlak help dryf en deel van ’n databasis vorm.

VL se Uitvoerende Bestuur het die voorgestelde aksieplan in Oktober 2019 goedgekeur. Volgens Dr Jack Armour, Bedryfsbestuurer van VL, is dit nodig om padprobleme aan te spreek en is die idee om as te ware “virtuele padrade” te skep.

“Dit sal onder meer help om swak paaie te prioritiseer en ook die Department van Paaie verantwoordbaar te hou en die begroting te beïnvloed,” sê hy.

Volgens hom sal hierdie verteenwoordigers help om aksies op grondvlak te dryf en ook met VL se kantoor skakel, sodat probleme met die provinsiale Department van Paaie opgeneem kan word.

Armour sê VL werk saam met Agri SA om probleme oor infrastruktuur met die provinsiale en nasionale regering op te neem en op te los. Só het VL byvoorbeeld sistematiese probleme oor swak paaie in ’n verslag aan Agri SA, wat dit met Department van Vervoer op nasionale vlak opgeneem het, deurgegee.

 

Landbouverenigings word versoek om hul infrasktrutuur-verteenwoordigers se name aan Cynthia Troost, Ledebeampte by VL, by 051 444 4609 of 082 454 4024 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. deur te gee.

Klik hier om die voorgestelde askieplan te sien. 

 

  • VL het op 15 Oktober 2019 ’n vergadering tussen landbouers van Streek 18 in die Vrystaat en die Xhariep Distriksdepartemente van Paaie en Lisensies bygewoon. Landbouers van Perdeberg, Luckhoff, Jacobsdal en Petrusburg het probleme gedeel en die doel was om met gesamentlike oplossings na vore te kom. Armour was genooi om dit by te woon en het ’n aanbieding gedoen. Hy het onder meer gedeel wat VL, in samewerking met Agri SA, doen om infrastruktuur-probleme te help oplos.