Nuusflitse – Oktober 2019 - Beplan noukeurig en soek alternatiewe vir seisoen wat voorlê

Beplan noukeurig en soek alternatiewe vir seisoen wat voorlê

Die moeilike toestande waarmee landbouers te doen het, gaan nie oornag verander nie. Hulle sal steeds noukeurig moet beplan, na alternatiewe moet soek en voorsorg tref.

Dit is van die gevolgtrekkings wat gemaak kan word wanneer daar na vooruitskouings en klimaatstoestande gekyk word.

Volgens die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) was groei in die sektor sedert 2015 ’n uitdaging, aangesien internasionale kommoditeitspryse laag gebly het, verbruikers se inkomste onder druk was en voëlgriep, listeria, bek-en-klouseer en droogte sy tol geëis het. “In reële terme was dit moeilik om groei te bewerkstellig, ’n situasie wat beslis nie oor die volgende dekade sal verander nie,” sê die buro in sy BFAP Baseline Agricultural Outlook van 2019 – 2028.

Dié verslag dui ook daarop dat mielies steeds die grootste somergewas is wat in Suid-Afrika geproduseer word, maar die droogtetoestande die laaste paar jaar het baie produsente in Noordwes en dele van die Vrystaat in ’n uiters uitdagende omgewing laat. “Finansiële spanning en oordragskuld neem toe en baie mense soek na alternatiewe.”

Katoen word deur baie landbouers as alternatief gebruik. Die hoër pryse het winsgewendheid gehelp en dié industrie het bietjie herleef. Ander alternatiewes waarop gekofus word, sluit in sojabone, voerproduksie, meer intensiewe weidingstelsels in rotasie met kontantgewasse om die inkomste uit veebedrywe te verhoog.

Volgens BFAP toon navorsing dat die optimale vensterperoide vir planttyd kleiner geword en ook later geskuif het. “’n Kombinasie van hierdie realiteite het ’n uiters uitdagende omgewing vir produsente geskep, wat gelei het tot meer gereelde finansiële verliese, toename in oordragskuld en ’n groot poging om alternatiewe te vind.”

Hoewel daar reën in sekere dele in die tweede week van November 2019 verwag word en toestande in die somermaande van Desember 2019 tot April 2020 behoort te verbeter, hou laat reën gevolge vir mielie-aanplantings in die Vrystaat in. Dit is volgens Johan van den Berg, Landbouweerkundige van Santam Landbou.

Hy skryf in Sanlam se verslag oor klimaats- en landboutoestande van 22 Oktober 2019 dat produsente hieroor hul opsies versigtig moet oorweeg. “Waar landbouers in finansiële druk verkeer, moet hulle hul finansierders vroeër eerder as later nader om betalings te bespreek. Hulle moet ook kyk om lewensdekking, polisse en versekeringspremies te verleng voor dit te laat is en te veel betalings oorgeslaan word om behoorlik gedek te word.”

 

Klik hier vir BFAP se verslag.