Nuusflitse – Oktober 2019 - Landbouers leer op Toekomsfokusdag by produsente wat hul taal praat

Landbouers leer op Toekomsfokusdag by produsente wat hul taal praat

Gewone ouens wat weet watter uitdagings landbouers in die gesig staar en boonop hulle taal praat. Dit is hoe Waldo van Niekerk, Voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se Jongboer-komitee, en Herman Janse van Rensburg, VL se Jongboer van die Jaar, die produsente beskryf by wie daar tydens Senwes se 16de Toekomsfokusdag by Nampopark kers opgesteek is.

Volgens hulle hou die dag, wat op 29 Oktober 2019 plaasgevind het, baie waarde in siende daar by mede-landbouers geleer word. Die dag is deur Senwes, in samewerking met Agri Noordwes, VL en Graan SA, aangebied en geld is ook ingesamel vir VL en Agri Noordwes se Jongboer-komitees.

Van Niekerk sê dis lekker om te leer by mense by wie jy kan aanklank vind. “Hulle was al daar. Hulle was ook al teneergedruk.” Janse van Rensburg meen landbouers verstaan wat hulle sê. “Dit is woorde wat uit ’n landbouer se mond uit kom. Dit is praktiese ondervinding en praktiese wenke,” sê hy.

Die produsente uit die Vrystaat en Noordwes wat hul kennis gedeel en aan ’n paneelbespreking deelgeneem het, was Sakkie van Zyl, AC van Wyk, Neels Fourie, Johan van der Walt en JP Meintjes. Herman du Preez het ook video-insette gelewer, maar kon die paneelbespreking bywoon nie. Die tema was “Is die groot 5 deel van jou boerdery?” en hulle het onder meer gefokus op strategie, menslike hulpbronne, bestuursinligtingstelsels, vennootskappe en finansies.

Volgens Van Niekerk is dit “alles goed wat jy nodig het en waarmee jy jou boerdery kan meet om vorentoe te gaan en ’n sukses te maak”. “Jy bereik oor grense ’n klomp landbouers met die dag. Dit is ’n saamkompunt en ons fokus werklik op die toekoms.”

Janse van Rensburg sê dis belangrik om ondanks die uitdagings gefokus te bly. Van Zyl, Voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie, stem saam. “Sorg dat jou fokus reg is en jou energie ingaan in dit wat werklik belangrik is,” sê hy.

Volgens Fourie, wat naby Schweizer-Reneke boer, moet jy betyds beplan. “Die alternatief is om niks te doen nie en dit gaan nie help nie.” Hy meen jy moet jou besigheid so goed moontlik verstaan en daarvoor het jy ook hulp van buite, wat jou kan aanspreek, nodig.

Die Vrystaatse landbouer Jaco Minnaar, Voorsitter van Graan SA, het as fasiliteerder opgetree en sê “hoe sal jy weet as jy nie meet”. Volgens hom sal die ou wat vinniger kan aanpas en dinge beter kan doen sukses behaal.

Francois Strydom, Hoof Uitvoerende Beampte van Senwes, sê landbouers staan voor uitdagings, maar moet nes in ’n rugbywedstryd opdaag om te speel. “Ons praat oor die groot vyf. Die sesde een is jy. Jy moet opdaag en uitvoer, seker maak dit werk en is ’n sukses.”

Die dag het verder ook ’n spitbraai, vermaak deur die gaskunstenaar Appel, demonstrasies en uitstallings ingesluit.