Nuusflitse – Oktober 2019 - Só werk proses vir grondwetwysiging

Só werk proses vir grondwetwysiging

Agri SA sal binnekort sy plan van aksie finaliseer om die moontlike wysiging van die Grondwet, wat vir onteiening sonder vergoeding voorsiening probeer maak, teen te staan. 

Volgens dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou (VL), sal lede van VL se Dagbestuur op 11 November 2019 by ’n vergadering van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid oor Grond teenwoordig wees. Die plan sal hier voorgelê word. 

“Voorleggings van Agri SA en Dan Kriek (President van Agri SA), wat aan Vrystaat Landbou se streekverteenwoordigers vir kommentaar en mandatering aangestuur is, word ook vroeg in November aan die presidensiële adviespaneel oor grondhervorming en landbou voorgelê,” sê hy. 

Dié paneel het voorstelle gemaak vir die wysiging van die Grondwet en die parlementêre ad hoc-komitee, wat die wetgewing moet skryf om moontlik Artikel 25 te wysig, beplan om teen 31 Maart 2020 alles af te handel. 

Volgens Armour is daar op 25 Oktober 2019 in ’n mediaverklaring bekend gemaak hoe die ad hoc-komitee tewerk sal gaan. Die voorgestelde bewoording van die grondwetwysiging sal na verwagting teen 12 of 13 Desember 2019 in die Staatskoerant gepubliseer word, waarna publieke kommentaar ingedien kan word. Agri SA se regspan sal dan ook besluit watter roete om te volg. 

Volgens die verklaring word publieke verhore vir die week van 17 tot 21 Februarie 2019 beplan. Die uitkoms sal vanaf 4 tot 20 Maart 2019 in die parlement gedebatteer word, dit op 25 Maart 2019 aanvaar moet word en op 26 en 27 Maart 2019 aan die Nasionale Raad van Provinsies voorgelê word.

 

VL se grondbeleid, insette gegee

Volgens Armour het VL se Dagbestuur op 17 September 2019 sy Grondbeleid oor grondsake aan Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid oor Grond oorgedra. “Lede op grondvlak se insette word dus op hierdie manier deurgegee,” sê hy.

Armour meen dié beleid is beslis in ag geneem toe Ernest Pringle, Voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid oor Grond, ’n Grondsake-verslag op 11 Oktober 2019 by Agri SA se kongres in Pretoria voorgelê het. Pringle het sterk standpunt ingeneem oor Agri SA se posisie oor onteiening sonder vergoeding.

 

Arbeidkomitee nou deel van Landbou Ontwikkeling
Die Uitvoerende Bestuur van VL het op 24 Oktober 2019 besluit om die Arbeidkomitee ’n subkomitee van Landbou Ontwikkeling te maak. Volgens Armour is die rede onder meer omdat vaardigheidsontwikkeling ’n deel van die landbou SEB telkaart is en dat Landbou Ontwikkeling ook arbeidersontwikkeling behels.

 

Klik hier vir VL se Grondbeleid oor Grondsake.

Klik hier vir Pringle se voorlegging by Agri SA se kongres.