Nuusflitse – Oktober 2019 - Gee projekte oor droogtehulp deur vir databasis

Gee projekte oor droogtehulp deur vir databasis

Vrystaat Landbou (VL) se lede en landbouers regoor die provinsie is by verskeie projekte betrokke wat diegene in droogtegebiede bystaan. Landbouverenigings en produsente word versoek om VL van hul inisiatiewe in te lig, sodat ’n databasis daarvan opgestel kan word.

Volgens dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van VL, is die doel om mense in te lig waar hulle betrokke kan raak en ook om seker te maak hulp kom by almal uit wat dit nodig het.

Hy sê dit is belangrik om seker te maak droogtehulp gaan nie net na sekere plekke toe nie. “Indien enige projekte gedryf word, vra ons dat Vrystaat Landbou se kantoor in kennis gestel word. Die doel is om via Agri SA se netwerk met die provinsies ’n databasis op te stel van wie al hulp gekry het. Die idee is om verspreiding so regverdig as moontlik te help koördineer.”

Armour sê VL is ook besig om ’n risiko bestuurbeleid, wat op rampe en ramphulp van toepassing is, te finaliseer. Dit sal binnekort aan lede deurgegee word.

 

Agri SA wil bestuurder vir ramphulp aanstel

Agri SA het ook onlangs aangekondig dat hy ’n permanente ramphulp-bestuurder gaan aanstel. Volgens Landbouweekblad sê Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA, sy organisasie wil iemand aanstel om alle rampe, wat droogte insluit, te bestuur. Agri SA het reeds sedert November 2015 R 19 miljoen vir droogtehulp ingesamel. 

Volgens Armour is dié aanstelling ook een van die punte op die agenda by ’n vergadering oor Agri SA se Natuurlike Hulpbronne op 12 November 2019. 

VL sal ook op 7 November 2019 insette lewer by ’n werkswinkel van die nasionale Rambeplanning-komitee. Armour sê die insette kom uit VL se ondervinding van rampvoorkoming en ramphulp-bestuur. 

 

Voorbeelde van droogtehulpprojekte waarby VL se lede betrokke is: 

  • VKB skenking van 103 ton mielies aan gebiede wat deur die droogte geteister word.
  • Williston Droogtehulp-projek danksy BKB en die Jagersfontein-landbouvereniging. Klik hier vir meer inligting.
  • Rietrivier-landbouvereniging skenk vragte droogtepille aan mede-landbouers in Sutherland. Weideman Voere help om die voere in droogtepille te omskep.
  • Die NG Kerk Keimoes het ’n droogtehulpfonds vir studente. Dit help behoeftige landbouers om skool- en universiteitfooie te betaal. Klik hier vir meer inligting.
  • VL se lede is by vele ander projekte, waar landbouverenigings direk met ander landbouverenigings skakel, betrokke. Hulle reël dan self wat die vinnigste en doeltreffendste manier is om hulp te verleen.

Vir meer inligting oor projekte vir droogtehulp of om projekte deur te gee, kontak Elize Spence, Admin Beampte by VL, by 051 444 4609 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

 

Klik hier vir VL se risiko bestuurbeleid (vir rampe en ramphulp).

Klik hier vir ’n mediaverklaring van Agri SA oor die droogte en hoe landbouers bygestaan word.

Klik hier om Landbouweekblad se berig te lees.