Nuusflitse – Oktober 2019 - Landbouers versoek om Agri Securitas aansoekvorm vir kameranetwerke te gebruik

Landbouers versoek om Agri Securitas aansoekvorm vir kameranetwerke te gebruik

Landbouverenigings en gebiedskantore van Vrystaat Landbou (VL) het nou ’n hulpmiddel om seker te maak kwotasies vir kameranetwerke van verskillende verskaffers is vir dieselfde soort toerusting. Eenvormigheid word verkry danksy ’n pro forma aansoekvorm wat gebruik word wanneer daar vir Agri Securitas befondsing aansoek gedoen word.

Dié vorm meld die soort toerusting vir kameranetwerke, asook modelnommers, sodat dieselfde hulpmiddele se pryse deur Agri Securitas vergelyk kan word.

“Veiligheidsverteenwoordigers word versoek om die pro forma te gebruik wanneer hulle vir Agri Securitas befondsing aansoek doen, sodat alle verskaffers op dieselfde soort toerusting kan kwoteer,” sê dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL.

Volgens haar het Agri SA en sy provinsiale affiliasies die aansoekvorm beskikbaar gestel. “Landbouverenigings en gebiedskantore kan dit deurgee aan maatskappye of verskaffers om kwotasies te bekom wat eenvormig is.”