Nuusflitse – November 2019


Kontrolepunte sal help om siektes soos bek-en-klou én veediefstal te voorkom

Die instelling van kompartemente en beheerde kontrolepunte om die uitbreek van dieresiektes in die Vrystaat te voorkom. Dit is volgens Tommie Esterhuyse, Vise-president van Vrystaat Landbou (VL), van die voorstelle wat sy organisasie sterk steun nadat bek-en-klouseer wéér in Limpopo uitgebreek het.

Volgens hom sal dit nie net die provinsie teen siektes soos bek-en-klou beskerm nie, maar ook help om veediefstal, veral die vervoer van vee na veilingskrale buite die provinsie, te voorkom. “Dit sal egter vereis dat vervoerpermitte en die uitreik daarvan, byvoorbeeld waar diere oor internasionale en provinsiale grense beweeg, baie strenger afgedwing en deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens toegepas moet word.”

Esterhuyse sê VL en die Vrystaatse Rooivleisprodusente-Organisasie (RPO) spreek hul ernstige kommer uit oor die jongste uitbreking van bek-en-klouseer. Dit is die tweede keer vanjaar wat die siekte in Limpopo uitbreek en dit het daartoe gelei dat ’n verbod op alle veilings van lewende hawe in Limpopo, Mpumalanga, Gauteng en Noordwes op 14 November 2019 deur die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling geplaas is.

’n Voorstel oor die hantering van bek-en-klou was die instelling van kompartemente. Esterhuyse sê dit is deur VL aan die provinsiale RPO oorgedra, wat dit aan sy nasionale liggaam en verskillende dieregesondheidsforums sal oordra.

“Dit word op die tafel van die president gelê dat as hy ernstig is oor beleggings in die land, hierdie soort probleme as ’n saak van dringendheid aangespreek behoort te word,” sê Esterhuyse. “Die regering is verantwoordelik vir die beheer van siektes en slegs doeltreffende en doelgerigte optrede kan die landbou, wat deel van die ruggraat van die ekonomie uitmaak, versterk en bydra tot werksgeleenthede.”

VL, die Vrystaatse RPO en Nasionale Wolkwekersvereniging het op 7 November 2019 ’n vergadering gehou waar verskeie aspekte, soos siektebeheer en sake van gemeenskaplike belang, bespreek is. Volgens Esterhuyse was die samewerking tussen die organisasies, wat rolverdeling en verantwoordelikhede insluit, op die agenda. Die doel was ook om duplisering van take uit te skakel.

Esterhuyse sê die Vrystaat word in baie kringe as die broodmandjie van die land beskou en die uitbreking van bek-en-klou kan daartoe lei dat produsente weer eens aan die kortste ent trek. “Die deurlopende aanslae van hierdie aard, saam met politieke onsekerheid én die grondkwessie, dra geensins by tot die kweking van gunstige toestande vir voedselproduksie in die landbousektor nie. Om die waarheid te sê dit hou wesenlike nadelige gevolge in vir voedselsekerheid.”

Volgens hom dra die droogte en uitbreking van sulke soort siektes boonop by tot verdere werksverliese.

 

Klik hier vir ’n mediaverklaring van Agri SA oor bek-en-klouseer.

Klik hier vir ’n mediaverklaring Rooivleisprodusente-Organisasie oor bek-en-klouseer.


Misdadigers teiken store met saad

Landbouers moet seker maak hul store is genoegsaam beveilig, omdat misdadigers nou glo plase teiken waar saad en kunsmis gestoor word.

Volgens Vrystaat Landbou (VL) se inligting is daar reeds groot hoeveelhede saad in die omgewing van Bothaville, Ventersburg en Marquard gesteel.

“In een geval in Desember is werkers vasgebind en van nagenoeg 360 sakkies saad geroof,” sê dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL.

Volgens haar moet landbouers seker maak hul store is beveilig deur moontlik “’n alarm en/of kamerastelsel in plek te kry, sodat beweging vroegtydig deurgestuur en opgetel kan word”.

Landbouers word ook versoek om enige inligting oor moontlike verdagte voertuie en mense aan hul Veiligheidsverteenwoordigers deur te gee, sodat dit weer aan VL se Veiligheidslessenaar oorgedra en misdaad bekamp kan word.

Buys sê dit blyk of die steel van saad en kunsmis meestal in die nag plaasvind en dat voertuie, bakkies of trokke betrokke is.


Droogte: Skenkings, insette gelewer en hande gevat

Skenkings is in die Vrystaat en Oos-Kaap aan droogtegebiede gedoen, insette aan die regering gelewer oor die toestand van die droogte én hande word gevat om landbouers by te staan.

Dít alles vorm deel van die aksies waarby Vrystaat Landbou (VL) die laaste tyd betrokke is om gemeenskappe te help wat gebuk gaan onder die erge droogte.

Dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van VL, het onlangs ’n voorlegging oor die droogtesituasie in die Vrystaat aan die Premier se droogtetaakspan gedoen. Dit het op 5 November 2019 in Bloemfontein plaasgevind.

Armour het onder meer die impak van die droogte op areas soos Bultfontein, Hoopstad, Hertzogville en ander uitgelig, asook die invloed van die finansiële droogte en die benarde situasie van voerbanke beklemtoon.

Volgens Armour is daar besluit dat die Vrystaat vanweë goeie vooruitsigte vir reën nie volgens huidige toestande as rampgebied verklaar kan word nie. Hy sê die situasie sal weer in Januarie 2020 in oënskou geneem word. “Die regering kan ongelukkig niks doen oor die finansiële ramptoestande wat landbouers in die gesig staar nie,” sê hy.

Die Vrystaat is in Februarie 2019 weens die droogte as rampgebied verklaar, maar na goeie reen in April is dié status nie hernu nie.

Klik hier vir Armour se voorlegging aan die Premier se droogte-taakspan.

 

VKB se skenking aan VS en Oos-Kaap

VL het ’n fasiliterende rol gespeel in die proses om VKB se skenking van 110 ton mielies by gebiede in die Oos-Kaap en Vrystaat uit te kry wat deur die droogte geteister word.

Volgens Armour is voer na Heilbron (32 ton), Cradock (twee vragte van 34 ton elk) en Dealesville (10 ton) gestuur. “Die mielies is as sentrale punt na Cradock in die Oos-Kaap gestuur vir verdere verwerking. Dit sal daarvandaan na ander behoeftige plekke versprei word,” sê hy.

“Van Vrystaat Landbou se kant af wil ons net vir VKB baie dankie sê vir die skenkings en hulp om landbouers te help.”

 

#LandbouHoop inisiatief deur OFM

Lede van VL se personeel en bestuur het op 5 November 2019 met OFM vergader om steun vir die radiostasie se inisiatief, #LandbouHoop, oor die droogte uit te brei. OFM ondersteun landbouers in nood deur bewusmaking te skep oor die impak van die droogte en bied ook ’n platform vir mense om diegene wat daaronder gebuk gaan te help.

Volgens Armour is idees en inligting uitgeruil, insette gelewer en ondersteun VL hierdie spesiale projek om landbouers te ondersteun.

Klik hier vir meer inligting oor OFM se Agri Aid inisiatief.

 

Nasionale Droogtebestuursplan

Armour het VL op 7 November 2019 in Bloemfontein by ’n provinsiale werkswinkel van die Geïntegreerde Nasionale Droogtebestuursplan verteenwoordig. Dié geleentheid is onder leiding van prof Andries Jordaan aangebied en werkswinkels is in al nege provinsies gehou.

Armour sê die idee was “om lesse wat geleer is uit rampbestuur in die provinsie te bespreek, hoe uitdagings oorkom kan word, aanpasbaarheid te bevorder en verskeie departmentele aksies beter te koördineer”. Op die agenda was onder meer hoe droogte in Suid-Afrika geklassifiseer word, watter areas die kwesbaarste is en wat van ’n droogteplan verwag word.

Volgens Armour het VL by verskillende opnames tydens die werkswinkel insette gelewer en het hy byvoorbeeld ook tekortkominge en behoeftes aangedui.

 

Gee projekte oor droogtehulp deur vir VL databasis

VL versoek steeds landbouverenigings en produsente om VL van hul droogte-inisiatiewe in te lig, sodat dit by sy databasis gevoeg kan word en aksies beter gekoördineer kan word. Volgens Armour is die doel om mense in te lig waar hulle betrokke kan raak en ook om seker te maak hulp word regverdig versprei.

Vir meer inligting oor projekte vir droogtehulp of om projekte deur te gee, kontak Elize Spence, Admin Beampte by VL, by 051 444 4609 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.


VL vergader met Amerikaanse konsulaat oor veiligheid

Die misdaadsituasie op landbougrond in die Vrystaat, gebreke en tekortkominge in die regstelsel en hoe landelike veiligheid verbeter kan word. Dit was onder meer op die agenda toe Vrystaat Landbou (VL) se Landelike Veiligheidskomitee onlangs met ’n afvaardiging van die Amerikaanse konsulaat, onder leiding van Robert Chase Thompson, ontmoet het.

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, is moontlike oplossings om bogenoemde tekortkominge aan te spreek ook op die vergadering, wat op 19 November 2019 in Bloemfontein plaasgevind het, bespreek.

“ ’n Groot fokus is ook geplaas op die situasie en toestande wat landbougemeenskappe langs die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho ervaar,” sê sy.

Volgens haar kan verdere gesprekke met die konsulaat en nuwe Amerikaanse ambassadeur, Lana Marks, moontlik in die toekoms volg.


Luister na Pringle en Agri SA se standpunt oor grond

Ernest Pringle, Voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid oor Grond, het by Agri SA se kongres sterk standpunt ingeneem oor Agri SA se posisie oor onteiening sonder vergoeding.

Dit na aanleiding van Vrystaat Landbou (VL) se insette via sy Grondbeleid wat op 17 September 2019 aan Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid oor Grond oorgedra is. “Lede op grondvlak se insette word dus op hierdie manier deurgegee,” sê dr Jack Armour, Bedryfsbestuur van VL.

VL se insette was duidelik deel van Pringle se Grondsake-verslag wat op 11 Oktober 2019 by Agri SA se kongres in Pretoria voorgelê is.

Die voorgestelde bewoording van die grondwetwysiging van Artikel 25 sal na verwagting teen 12 of 13 Desember 2019 in die Staatskoerant gepubliseer word, waarna publieke kommentaar ingedien kan word.

Sodra VL kennis dra van enige aankondigings sal dit via sy strukture aan lede deurgegee word. Agri SA se regspan volg die proses noukeurig en sal daarna stappe neem.

 

Klik hier om na Pringle se toespraak te luister.

Klik hier vir Pringle se voorlegging by Agri SA se kongres.

Klik hier vir VL se Grondbeleid oor Grondsake.

 

Luister na potgooi-reeks van Agri SA se kongres:

Agri SA se kongres, met die tema Die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse landbou-omgewing in die era van die Vierde Industriële Revolusie, het in Oktober 2019 plaasgevind.

Klik hier om na die aanbiedinge te luister.


Plaasaanvalle in November neem toe

Die aantal plaasaanvalle wat in November 2019 in die Vrystaat voorgekom het, is heelwat meer as verlede jaar dieselfde tyd. Dit is na aanleiding van inligting wat deur die Vrystaat Landbou (VL) VKB Veiligheidslessenaar ingesamel is.

Verder word landbouers ook gewaarsku om nie vee of landbouprodukte vanaf hul plase te probeer verkoop nie, aangesien dit hulle moontlike teikens van plaasaanvalle maak.

Volgens dié veiligheidslessenaar het daar ’n toename in plaasaanvalle in November in die provinsie voorgekom. In 2019 was daar vyf plaasaanvalle, terwyl daar verlede jaar twee (waar ’n werker en produsente geroof is) was.

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, was werkers drie keer vanjaar in dié maand teikens in aanvalle gewees. Hierin is ’n voertuig, sinkplate en vuurwapens vanaf plase geroof. In die twee ander aanvalle was ’n produsent en opkomende landbouer die teikens. Selfone is gesteel en ’n vals motief om glo vee te koop is ook gebruik.

Buys sê die vyf insidente in November 2019 het in die areas van Bloemspruit, Bothaville, Clocolan, Smithfield en Winburg plaasgevind.

 

Moenie vee, produkte vanaf plaas verkoop

“Landbouers moet asseblief attend wees om geensins vee of ander landbouprodukte vanaf hul plase te verkoop nie. Dit maak hulle moontlike teikens van ’n plaasaanval,” sê Buys.

Volgens haar wil dit voorkom of vee-eienaars weens die uitbreek van bek-en-klouseer en ’n verbod op vendusies en veilings vee vanaf hul plase verkoop.

Sy meen dit kan ook saamgaan met die aanloop tot die feesseisoen waar plase toenemend teikens raak van sogenaamde “aankopers van vee”. Hulle rig dan navrae oor die aankoop van skape of beeste vir die feestyd.

Buys sê dit wil verder ook voorkom asof die roof van diesel met tapkarre vanaf plase in areas soos Delmas, Vereeniging en Welkom in November 2019 voorgekom het.


Dié verlof, wetgewing geld nou vir werknemers wat ouers word

Nuwe wetgewing maak dit moontlik vir werknemers om werkloosheidsversekering te eis wanneer hulle ouers word én ook byvoorbeeld vir pa’s om vir kraam- of ouerskapverlof te kwalifiseer.

’n Aantal artikels van die Arbeidswette Wysigingswet van 2018 is op 29 Oktober 2019 in die Staatskoerant gepubliseer en het op 1 November 2019 in werking getree.

Volgens Gernie Botha, Regsadviseur van Vrystaat Landbou, maak die bepalings dit moontlik om werkloosheidsversekering te eis en word ouerskap-verlof uitgebrei. VL bring dus die volgende onder sy lede se aandag.

Werknemers kan byvoorbeeld vir ouerlike -, aanneming- en opdraggewende ouerlike verlof in aanmerking kom.

 

’n Opsomming van die wetgewing rakende kraam- of ouerskapverlof:

Ouerlike Verlof

’n Werknemer wat die ouer van ’n kind is, is geregtig op minstens tien opeenvolgende dae se onbetaalde ouerlike verlof. Hierdie verlof neem in aanvang op die dag dat die werknemer se kind gebore word of die datum waarop die aannemingsbevel toegestaan word. Of die datum waarop ’n kind deur ’n bevoegde hof in die sorg van ’n voorgenome aannemende ouer geplaas word hangende die finalisering van ’n aannemingsbevel ten opsigte van daardie kind, welke datum ookal die eerste is.

’n Werknemer moet ’n werkgewer skriftelik in kennis stel van die datum waarop hy of sy beplan om met ouerlike verlof te begin en na ouerlike verlof terug te keer werk toe. Só ’n kennisgewing moet geskied minstens een maand of sodra dit redelikerwys haalbaar is voor die werknemer se kind gebore word of waarop die aannemingsbevel toegestaan word.

 

Aannemingsverlof

’n Werknemer wat ’n aannemende ouer is van ’n kind wat jonger as twee jaar oud is, is geregtig op onbetaalde aannemingsverlof van minstens tien opeenvolgende weke of die ouerlike verlof waarna hierbo verwys word vanaf die datum waarop die aannemingsbevel toegestaan word. Of die datum waarop die kind deur ’n bevoegde hof in die sorg van die voorgenome aannemende ouer geplaas word hangende die finalisering van ’n aannemingsbevel van daardie kind.

Die bepalings met betrekking tot ouerlike verlof en kennisgewing aan die werkgewer is ook hier van toepassing. Indien ’n aannemingsbevel betreffende twee aannemende ouers toegestaan word, kan een van die aannemende ouers om die aannemingsverlof aansoek doen en die ander aannemende ouer om die ouerlike verlof aansoek doen soos hierbo aangedui.

 

Opdraggewende ouerlike verlof

’n Werknemer wat ’n opdraggewende ouer is in ’n surrogaatmoederskapooreenkoms, is geregtig op onbetaalde opdraggewende ouerlike verlof van minstens tien opeenvolgende weke of die ouerlike verlof soos na hierbo verwys.

Die bepalings wat betref kennisgewing aan die werkgewer is weer van toepassing. Die bepalings wat betref twee ouers soos hierbo by aannemingsverlof aangedui is, is ook hier van toepassing.

 

Vir meer inligting of navrae, kontak Botha by 051 444 4609.


Geen verandering aan nasionale minimum loon

Daar sal vir eers geen veranderinge of verhogings aan die nasionale minimum loon (NML) gemaak word nie.

Die kommissie oor die NML het op 21 November 2019 vergader, maar weens ’n gebrek aan kworum kon geen besluit geneem word nie.

Volgens Gernie Botha, Regsadviseur van Vrystaat Landbou, sal daar in Januarie 2020 op ’n nuwe datum besluit word wanneer die kommissie weer vergader.


VL lewer insette tot droogteverslag

Agri SA het in November 2019 sy droogteverslag bekend gestel en Vrystaat Landbou (VL) se insette word ook hierin vervat.

Volgens dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van VL, het VL ’n bydrae gelewer oor die stand van die droogte in die provinsie en het dit deel uitgemaak van die droogteverslag, mediaverklaring en inligting wat Agri SA uitgereik het.

Agri SA het op 12 November 2019 ’n mediakonferensie in Centurion oor die droogte gehou, waartydens hy ook sy droogteverslag uitgereik het.

Paneellede wat aan die sessie deelgeneem het, was Adri Kitshoff-Botha van Wildbedryf SA, Chris van Dijk van die Melkprodusente-organisasie, Willem Symington (Agri Noord-Kaap en Hoof: Agri SA se Rampbestuursentrum), Christo van der Rheede, Omri van Zyl (albei Agri SA), Gerhard Schutte van die Rooivleisprodusente-organisasie, Jannie de Villiers van Graan SA en Wiehahn Victor van die Inmaakvrugteprodusentevereniging. Hulle het onder meer die impak van die droogte beklemtoon en hoe dit landbouers, hul plaaswerkers, die gemeenskap en sektor raak.

 

Klik hier vir Agri SA se droogteverslag en ’n aanbieding.

 

Agri SA stel permanente ramphulp-bestuurder aan

Agri SA het soos beplan ’n permanente ramphulp-bestuurder aangestel. Die idee was om iemand aan te stel om alle rampe, wat droogtes insluit, te bestuur.

Dit was een van die punte op die agenda by ’n vergadering oor Agri SA se Natuurlike Hulpbronne op 12 November 2019. Die betrokke persoon sal in Januarie 2020 by Agri SA begin werk.


Maak seker dié maatreëls, stelsels is in plek om misdaad te help voorkom

Alarm- en kamerastelsels speel ’n belangrike rol in die voorkoming van misdaad op plase en die verbetering van landelike veiligheid. Daarom is Ernest Botha vroeër vanjaar deur Fidelity ADT aangewys om landbougemeenskappe in die Vrystaat hiermee by te staan.

Vrystaat Landbou (VL) en Fidelity ADT het ’n ooreenkoms aangegaan om te help om misdaad in die provinsie te bekamp. Botha kan landbouers met individuele behoeftes, asook waar landbouverenigings of gebiedskantore sekere veiligheidsbehoeftes soos die oprigting van kamerastelsels het, help.

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, is dit boonop belangrik dat landbouers in die feesseisoen genoeg veiligheidsmaatreëls en -stelsels in plek stel om hulself, hul eiendom, families en werkers teen misdaad te beskerm.

Landbouers word versoek om met Botha by 083 570 1655 in verbinding te tree of hul Veiligheidsverteenwoordiger te kontak as dit met ’n landbougemeenskap se beveiliging te doen het.


Verbeter jou veiligheid met hierdie wenke

Landbouers moet hul paraatheid opskerp, waarneem wat om hulle aangaan en geen aktiwiteite of beweging gering ag nie. Dit is ook belangrik dat hulle enige inligting oor moontlike misdade deurgee, sodat dit voorkom kan word.

Dit is van die veiligheidswenke waarop landbouers kan ag slaan om groter veiligheid op landbougrond te verseker.

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), moet verhoudinge tussen alle belanghebbendes verbeter. “Dit sluit verhoudinge tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (RS koördineerder en stasiebevelvoerder), landbougemeenskappe, bure, werkers en bewoners op plase of kleinhoewes in,” sê sy.

Kommunikasienetwerke moet ook in plek wees, sodat hulp ontbied kan word wanneer daar ’n nood is. “Landbouers moet byvoorbeeld ingeskakel wees by ’n radionetwerk en ’n addisionele selfoon of tablet in die huis hê wat gelaai en weggesteek is. Ander voorbeelde is die gebruik van ’n toepassing vir monitering soos deur Fidelity ADT of ander sekuriteitsmaatskappy in jou gebied,” sê Buys.

Volgens haar is dit ook belangrik vir landbouers om betrokke en ingeskakel te wees by veiligheidstrukture of netwerke, binne die Landelike Beveiligingstrategie, in hul omgewing. “Jy moet weet wie om te kontak en wie jou seksieleier in die gebied is, asook inligting oor die plaaswag”.

Verder moet inligting op gereelde grondslag deurgegee word om kriminele aktiwiteite hok te slaan. Buys sê dit sluit verdagte mense of voertuie in wat in jou area opgemerk word.

Kennis is mag en met die bemagtiging daarvan is belangrik om tydens sekere krisissituasies binne die raamwerk van bestaande wetgewing op te tree en die probleme reg aan te spreek. “Dus om te weet wanneer en hoe om op te tree wanneer jy met misdaad-aktiwiteite gekonfronteer word, byvoorbeeld selfverdediging, noodweer, siviele arrestasies ens,” sê Buys.

Sy meen ook behoorlike toegangsbeheer van werkers en bewoners na en van plase moet ook deur landbouers gedoen word. “Indien daar enige gaste is, maak hul deel van jou eie gebeurlikheidsplan, sodat hulle weet hoe om op te tree indien ’n aanval plaasvind.”