Nuusflitse – Januarie 2020 - Wat gebeur met nasionale minimum loon?

Wat gebeur met nasionale minimum loon?

Het die nasionale minimum loon (NML) al verhoog, gaan dit gebeur en wanneer? Hierdie vrae en meer word deur skrywes van Agri SA (aangeheg) beantwoord.

Die NML het egter nog nie verhoog nie. Die kommissie daaroor het verlede jaar vergader, maar weens ’n gebrek aan kworum kon geen besluit geneem word nie. Vrystaat Landbou (VL) het ook in sy Nuusflitse van November 2019 hieroor berig.

Inligting oor die stand van sake is ook na VL se Streekverteenwoordigers versprei om dit verder aan VL lede te kommunikeer.

 

NML nie onderhandel

Agri SA het op 29 Januarie 2020 gesê verskeie wanpersepsies bestaan oor hoe die NML werk. Dit nadat verskeie stories in die media verskyn het.

“Dit baie belangrik om te onthou dat die NML Kommissie nie ’n onderhandelingsforum is nie. Daar word nie ’n aanbod om loonverhoging gemaak waaroor daar onderhandel kan word, en wat dan in die openbare diskoers verwerp kan word nie,” het Jahni de Villiers, Hoof: Arbeid en Ontwikkeling by Agri SA, gesê.

Volgens haar kan aanpassing aan die NML slegs geskied waar deeglike navorsing wys dat dit nie indiensneming sal beskadig en ook nie onstabiliteit in kwesbare sektore (soos landbou) sal veroorsaak nie. 

“Die aanbeveling vir aanpassing is 3.8%, nie 5% soos verkeerdelik berig nie,” sê sy. “Verder sal die 90% vergunning vir landbou nie mee weggedoen word totdat daar deeglike navorsing beskikbaar is wat bewys dat dit nie die sektor skade sal berokken nie.”

De Villiers noem ook dat wettige staking oor ’n NML aanpassing nie moontlik is nie, aangesien die NML wet nie voorsiening maak vir ’n geskilprosedure nie. “Aanpassings aan die NML is die prerogatief van die minister, met deeglike aanbeveling van die NML kommissie.”

Enige nuwe inligting oor die NML sal onmiddellik aan VL se lede gekommunikeer word.

 

Klik hier vir algemene vrae en antwoorde oor die NML.

Klik hier vir De Villiers se terugvoer.